In die jongste aflewering van dié program gaan werk die veteraanakteur Deon Lotz en Marvin-Lee Beukes van Die Byl-faam vier dae lank op die Lemmer African Adventures-wildplaas in Mahalapye, Botswana. Dit is onder die wakende oog van die beroepsjagter Lirtwe Lemmer gedoen.

“Vir my was Botswana baie aanloklik, want ek weet daar’s ’n goeie stelsel: Veiligheid, interessante mense en die wilde diere,” sê Deon.

“Ek het altyd gehou van die Bosveld, maar ek het nie geweet wat om te verwag hier in Botswana nie. Ek weet net die plan was ons gaan plaas toe en ons moet gaan werk op ’n plaas,” voeg hy by.

Lirtwe het die twee akteurs dadelik in die werk gesteek. Oor die vier dae moes hulle waterpompe bewerk, strikke lê vir roofdiere, skape weeg en bome afsaag.

Op die derde dag moes die akteurs behoorlik uithaal en wys toe Lirtwe hulle vra om skape te vang.

Marvin-Lee het dié uitdaging veral geniet.

“Ek wou nog altyd ’n skaap geduik het,” sê hy.

Watter een van die twee akteurs dink jy het beter gevaar?

“Die grootste verskil tussen die lewe hier en die lewe by die huis is die fisieke werk,” sê Marvin-Lee oor die ervaring. “Dis baie hard. Dis harder as wat ek by die huis leef.”

“Ek het nog nooit geskroom vir werk nie,” het Deon ná die vier dae gesê, “maar die fisieke werk, wel, dis 'n uitdaging. Ek het spiere wat styf is. Jy werk anders, want jy dink anders oor goed. Die stilte trek jou in en jy kan weer asemhaal. Alles is rustig en stil. Ek hou daarvan.” 

  • Nuwe episodes van Iewers in Afrika word elke Woensdag om 20:30 uitgesaai, met heruitsendings op Sondae om 20:30 en Maandae om 18:30.