In die jongste aflewering van dié program gaan werk die aktrise-susters Lea en Trix Vivier vier dae lank op die boer Hennie en Sally Smit se plaas, Mulilansolo, buite Lusaka in Zambië.

Die Smit-egpaar boer met organiese slaaiblare, kruie en ander nisprodukte op ’n plaas waar nog met osse geploeg word.

En dit was die uitdagendste deel van die susters se plaaservaring: om die leisels op te neem en te leer grond ploeg met ’n os.

Die grondeienaar en die Smits se sakevennoot, Moses Mulenga, het die Viviers-susters onder sy vlerk geneem en hulle geleer om ’n ploeg te bewerk. Kyk dié video om te sien hoe hulle gevaar het.


“Ons fokus het so na die groot goed verskuif – die idee van wat dit is om suksesvol te wees of om gelukkig te wees soos ’n huis te hê of om te trou – maar eintlik is dit die klein dinge in die lewe wat jou plesier gee,” vertel Lea. Sy het dit gedurende haar tyd op die plaas geleer.

“Wanneer jy regtig in die oomblik of van oomblik tot oomblik leef, is dit daardie klein interaksies wat betekenis tot jou lewe toevoeg,” sê sy.


“Ons hou daarvan om vir onsself te sê ons leef in gemeenskappe en groepe, maar as ek my lewe in die Kaap moet vergelyk met hoe Hennie en Sally leef - hoe hulle werklik met ’n groep mense saamwerk en hoe almal afhanklik is van mekaar – laat dit my voel ek wil huis toe gaan en minder in isolasie bestaan en meer in ’n groep,” deel die aktrise Trix haar ervaring.

  • Nuwe episodes van Iewers in Afrika word elke Woensdag om 20:30 uitgesaai, met heruitsendings op Sondae om 20:30 en Maandae om 18:30.