Karlien, wat as die wenner van seisoen 8 se Strictly Come Dancing aangewys is, kan heel moontlik vir Bobby ’n ding of twee wys wat dans betref.

Sy het besluit om hom te verras met ’n tweedag-ervaring by die Cape Town City Ballet.

Bobby is deur sy suster uitgedaag om twee dae lank in die balletskoene van Ivan Boonzaaier, een van Suid-Afrika se voorste manlike balletdansers, te (probeer) stap.

Nodeloos om te sê was die ervaring vir Bobby ’n groot uitdaging.

Hy was nie voorbereid op hoe fisiek uitmergelend die balletervaring sou wees nie.

Hy was ook nie voorbereid op die ongemak van die liesband wat mansdansers moet dra nie.

“Ek haat dans met alles in my,” het Bobby gesê toe hy uitgevind het wat Karlien vir hom beplan het.

“Ek kan nie verstaan dat mense in ’n kringetjie kan staan en los dans nie. Dis vir my random en weird!”

Ivan Boonzaaier is ’n voormalige elektrisiën van Springs. Ivan, sy broer en suster was al drie lief vir dans het ’n ballet-lenteskool bygewoon waar Robin van Wyk, die artistieke direkteur van Cape Town City Ballet, Ivan se danstalent raakgesien het.

Ivan het by Cape Town City Ballet aangesluit en is nou al agt jaar aan die instelling verbonde.

“Ons het maar net geleer dans om nie skaam te wees voor mense nie,” sê Ivan.

“Ons almal het gedans: Vyf broers en een sussie. Ons is nooit daaroor gespot nie en by die skool het hulle ook geweet my ma sê: ‘Dans kom eerste.’”

Kyk dié video om te sien hoe Bobby van Jaarsveld in ’n balletpakkie lyk en hoe hy probeer pirouette.

Wil jy meer sien? Kyk na die nuwe episode van Bobby en Karlien: In jou skoene vanaand om 20:30.

  • Nuwe episodes van Bobby en Karlien: In jou skoene word elke Woensdag om 20:30 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai, met heruitsendings op Sondae om 20:30 en Maandae om 18:30. In samewerking met Afrikaans.com.