In dié episode het Hein ’n draai in die ateljee gemaak om oor die tragedie te praat wat die land aangegryp het. 

’n Bekende gas met haar eie storie van pyn en verlies, sluit ook by hom aan in dié episode.

Op 1 Februarie, net ses weke voor sy aftrede, is die skoolhoof se lewe en loopbaan onherroeplik geruk toe ’n loopbrug by die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark ineenstort. 

Vier kinders is dood en meer as 20 beseer.

“Die hoekom sal ons nooit weet nie,” het Hein met Minki van der Westhuizen gedeel. 

“Dit het ’n mens wel gevra, maar ons weet daar het soveel mooi daaruit gekom: Hoe ’n gemeenskap kan saamstaan uit verskillende uithoeke van die samelewing.”

Ten spyte van die groot hartseer wat die laaste paar weke van sy loopbaan as skoolhoof gekenmerk het, het Hein besluit om op die goeie te fokus wat uit die tragedie gespruit het.

“My eerste gedagte was: Hoekom ek? Hoekom nou? En toe vra ek vir myself: Hoekom nie ek nie? Hoekom nie nou nie? My volgende (gedagte) was: Ek gaan nie toelaat dat dit my definieer nie. En toe sê ek: Nee, ek gaan toelaat dat my loopbaan definieer. Ek glo met my hele hart die Here het my vir dié oomblik voorberei.”

Kyk die emosionele onderhoud hieronder.


  • Nuwe episodes van Minki word Woensdae om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai, met heruitsendings op Saterdae om 18:30. Minki word geborg deur Incanda-meubels en Bacher & Co.