In die jongste aflewering van dié program gaan werk die ma-en-dogter-akteursduo, Elsabé en Roeline Daneel, vir vier dae op die Welgelegen-plaas naby Koës in Namibië onder leiding van die kleinveeboer Dawie Liebenberg. 

“Ons het nou ander probleme hier wat ’n boer se tyd baie besig hou en dít is ongediertes,” het Dawie vir Elsabé en Roeline gewaarsku op hul eerste aand op die plaas.

“Ons het rooikatte, jakkalse, ratels. Ek is baie bly julle is hier, want ons gaan iets aan die jakkalse moet doen.”

Op die derde dag skiet Danie en die Daneel-duo saam met ’n span spoorsnyers die Kalahari-woestyn binne om die jakkalse te vang.

Toe Danie vir Roeline vra om agter die stuur van die bakkie te klim, het die Fynskrif-aktrise vinnig besef om woestynduine te trosteer is nie ’n maklike taak nie.

Ná die vierdag-avontuur in Namibië het die twee aktrises ’n nuwe blik gehad op hul lewens terug in Suid-Afrika.

Vir Roeline – ’n selferkende tegnologieverslaafde – het die wegbreek veral insigte oor haar gewoontes opgelewer.

“Ek dink wat ek terugneem huis toe is hoe min geraas ’n mens eintlik om jou nodig het om ’n vol en ryk lewe te lei,” deel Roeline. “Dis nie nodig om al hierdie goed rondom mens te hê nie.”

Ma Elsabé het dieselfde gevoel: “Iets waarna ek nou streef, is om dinge minder te maak, my kop helderder, my hartklop stadiger en my oë rustiger.”

  • Nuwe episodes van Iewers In Afrika wys elke Woensdag om 20:30 met heruitsendings op Sondae om 20:30 en Maandae om 18:30.