Met ’n roerende weergawe van die sangeres Lianie May se lied Vergeet My Nie was dit Wilha se kontrak wat Woendagaand opgeskeur is. 

Die Kontrak-aanbieder en sangeres Karlien Van Jaarsveld kon dit nie glo toe dit Wilha se kontrak is wat opgeskeur is nie en was besonder hartseer om hom te groet.  

Volgens Wilha (31) was dit baie hartseer om die kompetisie te verlaat omdat almal so ’n hegte band gevorm het, maar die ervaring was absoluut fantasties, meen hy.

“Ons almal het so ‘close’ geraak en dit voel beslis asof iets tot ’n einde gekom het,” het hy eksklusief aan Huisgenoot vertel. 

Hoewel dié hoofstuk vir hom gesluit het, meen hy die kompetisie is slegs die eerste deur in sy loopbaan wat vir hom oopgegaan het. 

Die sanger grap hy het soms soos die ouboet in die span gevoel en dat almal besonders goed oor die weg gekom het.

As dit kom by ’n emosionele Karlien, vertel hy: “Die atmostfeer was baie natuurlik. Karlien speel ’n groot rol agter die skerms en help om die deelnemers rustig te maak.” 

Volgens Wilha het dié gesoute sangeres hom soveel hoop gegee en hy is baie hartseer om haar ook te groet. 

Wilha vind inspirasie by sangers soos Sam Smith, Beyoncé en Callum Scott en gaan sy eie loopbaan in die musiekbedryf met alle ywer voortsit. 

Wilha se hoogtepunt tydens sy deelname aan die kompetisie was om gedurende die twee maande wat hy by dié gewilde werklikheidsprogram deurgebring het, ervaring op te doen en lesse te leer wat gewoonlik jare neem om in die musiekbedryf te leer. 

En die pad vorentoe? 

Hy wil graag sy pad in die musiekbedryf ten volle aanpak en so gou as moontlik die ateljee invaar en oorspronklike liedjies opneem.

“Ek gaan met my eie styl van kontemporêre musiek met ’n boodskap aanhou,” sê hy. 

Sy grootste hoop vir sy loopbaan as kunstenaar is vir hom om suksesvol te wees in sy eie styl en nie besluite hoef te maak oor verkope nie. Hy wil graag die boodskap wat hy as kunstenaar het uitleef. 

Vir diegene wat daarna streef om ’n kunstenaar te word gee Wilha raad dat jy nooit moet ophou glo nie. 

“Vertrou jou instink, kry selfvertroue en wees net jouself,” sê hy. 

  • Nuwe episodes van Die Kontrak word elke Woendag om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai met heruitsendings op Sondae om 18:00. 
  • Die JOOX-app is die amptelike musiekstroomvennoot van Die Kontrak.