Die Kontrak begin amptelik op 19 September 2018 en die broer-en-suster-duo Bobby en Karlien van Jaarsveld is die aanbieders.

Die reeks se agt aspirant-musieksterre wat ná ’n landwye aanlyn veldtog uit bykans 2 000 sangers gekies is, sal deur die mentors Elvis Blue, Tarryn Lamb, Monique Steyn en Dewald Wasserfall gebrei word vir die strawwe uitklopkonserte wat hulle week na week moet aandurf.

’n Kennerspaneel wat bestaan uit die sangers Theuns Jordaan en Corlea Botha asook Barry Pretorius, die regisseur van die Afrikaans is Groot-megakonserte, sal weekliks hul sê sê oor die deelnemers se optredes.

Dit is egter Coleske Artists se grootbaas, Arnold Coleske, wat moet besluit of ’n deelnemer hul kontrak kwyt is of ’n tree nader aan die Afrikaans is Groot-verhoog is waar die wenner van Die Kontrak uiteindelik gekroon sal word.

Die wenner sal op 23 November 2018 tydens Afrikaans is Groot 2018 by die Sun Arena in Pretoria aangekondig word en ’n kontrak ter waarde van R1 miljoen met Coleske Artists losslaan.

  • Nuwe episodes van Die Kontrak sal elke Woensdag om 20:00 uitgesaai word met heruitsendings op Sondae om 18:00.