In dié week se episode kuier Mathys Roets by Pedro.

Hulle gesels oor Mathys se grootworddorp, Reitz, wat “êrens op ’n tyd” Sangerspos genoem is. “Hoe gepas vir jou,” spot Pedro.

Mathys vertel hoe hy altyd hoog wou sing toe jy nog op skool was. “Toe my stem breek op skool en ek sing in die kerk of selfs in die sangklas en ek sing ’n oktaaf laer as almal, dan kyk al die girls om.”

Hy het toe besluit om nooit weer so te sing nie en “alles probeer tenoor sing”.

Verder gesels hulle oor Mathys se pa se Volvo, wat net een kasset kon speel, en oor die feit dat hy nooit musiek geluister tot dit op CD gekom het nie.

“Toe ek op my eerste CD een keer self die knoppie druk en daai klank is so skoon, toe besluit ek nou wil ek musiek begin luister,” verduidelik Mathys.

Mathys het die gehoor vermaak deur Everybody Hurts en Pelgrimsgebed te sing. Hy het ook dele van Delilah, Twist In My Sobriety en I Don't Believe In If Anymore gesing.

Nuwe episodes van Klavierkuiers met Pedro word elke Saterdagaand om 19:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai met heruitsendings op Dinsdae om 21:00.