Wat het jy en Melinda op jou episode van Wie’s Jou Poppie gedoen?

Ek en Melinda moes BMX-toertjies uitvoer op ’n BMX-baan wat vir ons lekker uitdagings ingehou het. Dit het hoë hellings gehad wat my hart vinnig laat klop het.

Wat het jy uit die ervaring geleer?

Dit is gesond om jou elke af en toe uit jou gemaksone uit te daag. Om af en toe iets anders as die alledaagse te doen, hou jou jonk en avontuurlustig.

Hoe was dit om saam met Melinda ’n rits uitdagings voor die kameras aan te pak?

Melinda is ongelooflik. Sy het my so welkom laat voel in haar program en sy gun jou jou plekkie in die son. Sy is opreg, energiek en passievol daaroor om vroue te bemagtig.

Ek sal oorlog toe gaan saam met haar.

Wat dink jy van die term “poppie”?

“Poppie” is nie noodwendig 'n slegte term nie, want dit kan nie jou as mens definieer nie.

As ek nou een ding geleer het: Jy kan nie iemand op hul uiterlike voorkoms of gewoontes oordeel nie. Van die "poppies" wat ek al in my lewe ontmoet het, is besonder intelligent, hardwerkend en inspirerend.

Wat doen jy volgende?

Dis modeseisoen in die Kaap. Ek is tot einde Desember volbespreek vir fotosessies vir Europese kliënte; dis baie opwindend.

Ek maak ook einde Oktober klaar met my diploma as lewensafrigter. Ek sal volgende jaar meer tyd hê om weer my tande as aktrise te slyp.

  • Nuwe episodes van Wie’s Jou Poppie? word elke Vrydag om 17:30 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai, met heruitsendings op Saterdae om 21:00.