Werner is die man wat skoonhede soos die voormalige Mej. Wêreld Rolene Strauss en Demi-Leigh Nel-Peters, ons huidige Mej. Heelal, gehelp het om hul krone los te slaan. En nou neem "die kroonprins" ook gewone vroue onder hande.

In dié greep uit die eerste episode van Die kroonprins vang die kameras vir Werner en sy goeie vriendin, die voormalige Mej. Suid-Afrika Melinda Bam, op pad na die mode-ontwerper Anel Botha se ateljee in Klerksdorp. Hier onthul Werner hoe dié skoonheidskoningin as tiener was.

Sy passie vir klere, mode en mooimaak het as kind begin toe hy na sy ma gestaar het terwyl haarself vir geleenthede mooi gemaak het.

“Ek sal nooit vergeet hoe sy vir een van my pa se army-dinees self vir haar 'n rok gemaak het nie. Dit was smaraggroen en het 'n laaggesnyde rug met 'n groot strik agter gehad. Sy het selfs haar hakskoene met dieselfde materiaal oorgetrek. Met haar vlamrooi hare was dit so treffend, ek kon myself verkyk aan haar,” vertel hy.

Volgens Werner het hy veral uitgesien na Die kroonprins omdat dit hom die kans gee om sy passie vir vroue met mense te deel. “Omdat ek in so ’n kompeterende omgewing werk, dink mense dalk ek doen dit net vir eie gewin en dat dit alles oor die kompetisie gaan, maar dis nie waar nie.”

Hy sien graag hoe vroue in hulself begin glo. 

"Die dele waaroor 'n vrou onseker of bekommerd was, verdwyn soos sy meer in haarself en haar eie vermoë begin glo. Ek wil dit bied vir elke vrou saam met wie ek werk,” sê hy.

Baie elemente inspireer hom, meen Werner, en hy volg nie ‘n spesifieke proses of metode wanneer hy uitrustings saamstel nie. 

“Inspirasie kom natuurlik en kan kom van die vrou self, of 'n spesifieke kleur of net ’n idee wat ek op die internet raaksien,” vertel hy.

View this post on Instagram

Serving face with @rolenestrauss ??

A post shared by Werner Wessels (@werner_wessels) on

Vir hom as stilis is elke skoonheidskompetisie uniek en elk het aspekte wat dit spesiaal maak.

“Mej. SA is verskriklik senutergend, want daar is so baie op die spel en die meisies is gewoonlik nog onseker en baie op hul senuwees. Ek kan dus nie net as ontwerper op die kompetisie-elemente fokus nie, maar bied ook emosionele ondersteuning,” sê hy.

Vroue, staan nader en hoor hier: Die superstilis verklap die stylglipsie wat vroue die meeste maak.

Vroue is te bang om te eksperimenteer, sê Werner. “Mode en styl is veronderstel om speels te wees en nie so ernstig opgeneem te word nie. Probeer daai rooi lip of helderpienk skoene, as dit nie werk nie dan beweeg ons aan!”

Wat is Werner se heel belangrikste mooimaakraad?

“Hou dit eenvoudig. Genoeg slaap, baie water, moenie met jou grimering aan slaap nie en kry gereeld oefening."

Hy meen hy sien heeljaar meisies wat nie op hul beste lyk nie omdat hulle te besig raak. Dan eet hulle nie reg nie, kry nie genoeg slaap nie en kry nie genoeg oefening nie.

“Dis hoekom ek seker maak dat hulle ‘n maand voor die internasionale kompetisies afkry,” vertel hy. Hy trek gewoonlik dan by hulle in en maak seker hulle kry hul agt uur se nagrus, eet gesond en oefen.

Watter raad het hy vir iemand deel wat nie ’n sterk selfbeeld het nie?

“Dat jy nie alleen is nie, ons almal gaan deur moeilike tye waar jy jouself betwyfel en dink jy is nie goed genoeg of spesiaal genoeg nie. Weet net dat daar ‘n rede is hoekom jy hier is en dat alles wat jy ooit nodig het om die beste weergawe van jouself te wees reeds binne jou is, jy hoef dit nie êrens te gaan kry of iemand te vra daarvoor nie, dis binne jou. Jy moet net die sleutel kry en die deur oopmaak.”

  • Die kroonprins met Werner Wessels begin 11 Oktober. Nuwe episodes word elke Donderdag om 18:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai met heruitsendings op Saterdae om 17:00.