Ivor, wat onlangs as aanbieder van die VIA-program Landbouweekliks uitgetree het, vertel oor hoe sy liefde vir die media begin het toe hy as kind koerante afgelewer het.

Minki het toe besef TV-programme waar hulle van plaas tot plaas moes ry, is nie die enigste ding wat sy en Ivor gemeen het nie. 

Ivor het in dié program ook hart oopgemaak oor sy opspraakwekkende bedanking by die SAUK in 2016.

“Om vir die SAUK te werk was die grootste voorreg van my lewe,” het Ivor met Minki gedeel.

“Dit was nie ’n maklike besluit (om te bedank) nie. As ek nou terugkyk na die koerantopskrifte wat nog elke dag ietsie te sê het oor die SAUK-agt en die skrikbewind, dan dink ek ‘Wow, ek het dit oorleef.’ ”

Ivor het bedank nadat hy ’n ope brief geskryf het oor die onreg wat hy en sy kollegas by die SAUK deurgemaak het.

“Iets binne-in my is deur daai ervaring gebreek. Dit het my geknak. Dit het my ’n jaar geneem om weer op my voete te kom,” vertel hy.

“Ek praat vandag daarvan as die jaar wat ek dood was. Het ek nie sielkundige hulp gekry en ’n pilletjie daagliks geneem om my balans te herstel nie, weet ek nie waar ek nou sou wees nie. Ek het wonderlike ouers.”

Minki het Ivor verras toe sy ouers, Arthurine en Wilson Price, by hulle in die ateljee aansluit.

  • Nuwe episodes van Minki word Woensdae om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai, met heruitsendings op Saterdae om 18:30. Minki word geborg deur Incanda-meubels en Bacher & Co.