In die eerste episode volg die program nie die gewone formaat van Bobby en Karlien wat in iemand anders se skoene stap nie. 

Pleks daarvan bederf hulle hul ouma Rina aan vaderskant met ’n klomp spesiale verrassings, onder meer aandete saam met al haar kinders en kleinkinders.

View this post on Instagram

Soveel om te leer by ouma. A day well spent. #oumarina Gen 27:28 “En mag God jou gee van die dou van die hemel en van die vet grond van die aarde en oorvloed van koring en mos”

A post shared by Karlien (@karlienvanjaarsveld) on

"Ons wou graag uitvind wat ouma se onvervulde drome is en iets vir haar doen. Sy is 83 en leef ’n eenvoudige, minimalistiese lewe en is tevrede met alles wat sy het,” sê Bobby oor die doel van die episode.

"As dit nie vir ouma Rina was nie, was hierdie familie lankal heeltemal uitmekaar uit. Sy is daai core wat die familie nog vashou. Sy is regtig die gom in die familie. Sy bind almal bymekaar,” sê hy. 

Ouma Rina het ’n foto van elk van haar kinders en kleinkinders teen haar kamermuur, vertel Karlien. "Sy bid letterlik elke dag vir elkeen van ons. Daar is nie ’n dag wat verbygaan dat sy nie vir ons bid nie," sê Karlien oor haar ouma.

In dié episode rol die trane wanneer Karlien ’n roerende gedig voorlees wat sy vir haar ouma geskryf het.

"Die verfilming van die seisoen was groot pret," het Bobby by die bekendstelling van die tweede seisoen van hul werklikheidsreeks aan Huisgenoot vertel. Hy en sy suster Karlien werk baie maklik saam, vertel die pa van drie. "Ek verstaan haar. Ons bly boetie en sussie, en ons sien mekaar partykeer baie min wanneer ons toer."

En Karlien voeg by: "Ons lag weer soos toe ons kinders was, en ek herken baie van die karaktereienskappe wat Bobby as kind gehad het."