In dié episode maak Rachel ’n draai in die ateljee om oor haar liefdadigheidswerk, kroos en geloof te gesels. Minki verras haar met ’n besoek deur iemand wat heelwat met haar gemeen het.

Rachel het op Minki verskyn om oor haar onlangse deelname aan die Extreme Ride for Hunger-fietstoer van Kaapstad na Bloemfontein te gesels. 

Die gesprek het eindelik ook Rachel se rol as die “first lady” van Suid-Afrikaanse rugby aangeraak.

“Alles kom met seëninge en nederlae,” vertel sy oor haar huwelik met Siya Kolisi. 

“Dit is baie moeilik, want ons het vier kinders en dit kan soms swaar raak. Hy loop al die prysuitdelings en sommige verjaardae mis. Daar is al hierdie belangrike oomblikke in hul lewe wat hy nie kan bywoon nie.”

In die onderhoud het sy ook vertel hoe uitdagend dit is om vroualleen vir vier kinders te sorg. 

Sy het ook hart oopgemaak oor die aanlyn kritiek wat sy van kuberboelies ontvang.

“Baie mense sê ek moet dit net ignoreer. Dit is wonderlik en ek verstaan wat mense se bedoelings is wanneer hulle dit sê, maar ek dink ook om dit op die lappe te bring, laat mense twee keer dink voor hulle iemand aanlyn aanval,” vertel sy.

“Wanneer mense oor jou kinders praat, word dit moeiliker.”

Haar raad aan mense wat aanlyn geboelie word, is bloot: “Bid maar net vir hulle,” sê sy met ’n glimlag.


  • Nuwe episodes van Minki word Woensdae om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai, met heruitsendings op Saterdae om 18:30. Minki word geborg deur Incanda-meubels en Bacher & Co.