In die jongste aflewering van dié program gaan werk die KFM-omroeper en VIA-aanbieder Sherlin Barends en die Jacaranda-omroeper Renaldo Schwarp vir vier dae op die Kalundu Frost-makadamiaplaas in Zambië.

Dit was ’n besonder moeilike ervaring vir dié twee omroepers aangesien albei baie aktief is in die sosiale media en boonop sukkel om van werk af te skakel.

Die twee omroepers op 'n vierdag-werksavontuur in
Die twee omroepers op 'n vierdag-werksavontuur in Zambië. Foto: Verskaf

“Ek sukkel nogal met balans,” deel Sherlin. “Dikwels is dit net werk, werk, werk, geld, geld, geld. Daar’s ’n deadline. Daar’s ’n shoot.”

In die Zambiese boendoe was niks hiervan nie en Sherlin en Renaldo moes behoorlik afskakel en al die verpligtings van hul stadslewe agterlaat om plaaswerk te doen.

Toe die twee omroepers op die Kalundu Frost-plaas aankom, het ’n onverwagte verwelkoming op hulle gewag.


“Ek het so 'n bietjie gegil en so 'n bietjie geskree,” sê Sherlin in die program. “Ek is hier om met neute te werk. Nie om flippen slange te vang nie!”

Ná dié nare ontnugtering moes die twee omroepers aan die werk spring. Hulle het die velde ingevaar om makadamianeute te pluk en die plaaseienaar, Priscilla Frost, het hulle ook gewys hoe om nougat te maak.

Ná vier dae sonder radiowerk of sosiale media het die twee tot ’n paar insigte gekom oor hul lewe terug in Suid-Afrika.

Sherlin Barends en Renaldo Schwarp
Sherlin Barends en Renaldo Schwarp. Foto: Verskaf

“Ek dink die grootste verskil tussen my lewe hier op die plaas en my lewe in die stad is dat hier meer balans is. Dit is daardie optimale kombinasie, daardie harmonie in die middel,” deel Sherlin.

“Die ding wat ek saam met my gaan terugneem Johannesburg toe, is Priscilla se mantra en leefwyse dat dit nie help om te stres of vooruit in detail te beplan nie,” vertel Renaldo. “Goed sal gebeur soos dit moet gebeur."

“Ek het regtig gehou van al die ruimte,” voeg Sherlin by. “Daar’s so baie ruimte.

"Gewoonlik in die stad voel dit vir my almal is amper op mekaar of so in mekaar se lewe. En dit is nie altyd ’n fisieke nabyheid nie; baiekeer is dit omdat jy heeltyd sien wat ander doen op Instagram of Facebook. Ons het nie daardie goed hier gehad nie." 

  • Nuwe episodes van Iewers in Afrika word elke Woensdag om 20:30 uitgesaai, met heruitsendings op Sondae om 20:30 en Maandae om 18:30.