In die jongste aflewering van dié program gaan werk die Suidooster-akteur Gideon Lombard (32) en Die Boekklub se De Klerk Oelofse (30) vir vier dae op die Namibiese kleinveeplaas Rooiklip.

Gideon is in Nambië gebore, maar De Klerk het nog nie dié land besoek het nie.

Vir Gideon was die wegbreek na die boere Frans van Biljon en Hanelore Heuffer se plaas ’n broodnodige kans om meer perspektief op die lewe te kry.

Vir De Klerk was dit ’n lekker geleentheid om 'n bietjie rustiger te raak ná ’n besige 2018.

“Namibië: Ek ken dit. Ek is daar gebore,” sê Gideon van die kans om sy geboorteland te herbesoek. “Dit is ’n klein bevolking in ’n baie groot land, so daar is ruimte en daar is stilte.”

“Wat my verstom – en hierdie keer is geen verskil nie – is ’n onmiddellike gevoel van tuiskoms.

Ek dink ek het vir jare lank my geboorteland en die ware betekenis wat dit vir ’n mens het, onderskat, so nou probeer ek dit waardeer elke keer as ek een tree oor die grens sit,” voeg Gideon by.

Wat die ervaring vir die akteursvriende ekstra spesiaal gemaak het, is dat hulle albei dieremaats op Rooiklip gemaak het.

Die plaashond, Faza, was van dag een af aan De Klerk se sy, terwyl Gideon ’n hegte band met Rooiklip se skaapwagter-bobbejaan, Tobie, gevorm het.

“Ek is mal oor diere,” sê De Klerk oor sy ervaring oor Rooiklip, “en ek dink die feit dat die mense so baie diere hier het, is vir my baie opwindend. Ek love dit dat die diere almal propperse mensname het, en Frans hulle soos kinders roep.” 

  • Nuwe episodes van Iewers in Afrika wys elke Woensdag om 20:30 met heruitsendings op Sondae om 20:30 en Maandae om 18:30.