Die paartjie het hul eie huis in ’n veilige hawe vir verwaarloosde kinders omskep.

Die Brinks neem kinders in vir ’n tydperk van tussen 48 uur en 90 dae voor die kinders na pleeghuise verplaas of aangeneem word.

Katherine en Danny het hul organisasie in 2008 begin nadat hulle die oudste van hul vyf pleegkinders, Chelsea, na Elsiesrivier in Kaapstad geneem het om haar biologiese ma te ontmoet.

Die twee het gesien hoe kinders en ou mense vir kospakkies en klere toustaan en het toe besluit om die kinders te help.

“Ons het (vir die maatskaplike werkers) gesê: ‘Gee ons 50 kinders in pleegsorg en ons sal vir hulle ’n Kersfeespartytjie reël.’ Die eerste jaar was die 50 kinders en Chelsea die gasheer,” vertel Katherine. “Die volgende jaar het ons ’n partytjie vir 100 kinders gereël en die volgende jaar vir 150 kinders. En verlede jaar het ons 250 presente die sewende jaar agtereenvolgens weggegee.”

Minki het beplan om die Brinks te verras met ’n besoek deur Burre Burger, die stigter van die Droogtehulpprojek, sodat hulle hul stories van onbaatsugtige teruggee met mekaar kon deel. Daar het egter ’n groter verrassing op die Brinks gewag.

Toe Burre agter die skerms sit en wag, was hy so ontroer dat hy sommer daar en dan R25 000 aan Little Brinks geskenk het.

“Droogte kom in baie plekke in ’n ou se lewe voor,” sê Burre, “Ek sê altyd vir ouens: ‘Droogte is nie net op ’n plaas nie.’ Dit kom baie in kinders se lewe voor en kinders is ons toekoms.”

  • Nuwe episodes van Minki word Woensdae om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai, met heruitsendings op Saterdae om 18:30. Minki word deur Incanda-meubels en Bacher & Co. geborg.