In die jongste aflewering van dié program gaan werk die TV-duo Anelma le Roux en Irusha Kröhn, aanbieders van die VIA-programme Sê Net Ja en Twee Blondines Op Toer, vir vier dae op die Katse-visplaas in Lejone, Lesotho. Op hul tweede dag op die plaas het die twee besluit om hul gashere, Mofeli en Emily Leoma, te bederf met ’n ete en wyn uit die Boland.

Toe hulle egter by die nabye winkels opdaag om voorraad vir die aand se pasta-ete te koop, het hulle vinnig besef die bestanddele waaraan hulle in Suid-Afrika gewoond is, is nie maklik in Lesotho te kry nie.

“Al is die omstandighede op Lesotho se platteland betreklik primitief, het ons gedink ons kan darem pasta maak. ’n Mens kort mos net basiese bestanddele,” vertel Irusha, “Maar daar was niks. Toe ons gaan inkopies doen het, was dit by ’n regte spazawinkel met ’n tannie agter ’n toonbank op ’n heuwel in Lesotho.”

“Daar was nie peper nie. Daar was nie meel nie. Daar was nie melk nie,” voeg Irusha by. “Dit wat daar was, was soos die bestanddele wat jy in ’n trommel kry wat van die Titanic afgeval het. Dit was aaklig.”

“Dit was ’n massiewe ontnugtering,” deel Anelma. “Irusha het geweier om aan die hoender, wat nog vel en vere aangehad het, te raak. Nêrens was kos nie. Ons het een tamatie en een ui vir die pasta gekoop. Dit was moeilik.”

Die duo het toe die Leomas se kombuis ingevaar om sukkel-sukkel ’n pastagereg voor te berei. Kyk hier hoe hulle gevaar het:

“Met dít wat ons tot ons beskikking gehad, dink ek ons het ’n goeie gereg gemaak,” vertel Anelma. “As ’n Michelinsjef dit moes proe, sou hy vir ons ’n ster gegee het – so ons is trots op wat ons gemaak het,” spot sy.

“Die kos was baie romerig, maar dit het nogal ons verwagtings oortref,” voeg Irusha by. “Ons het ’n bottel tamatiesous in die kombuis gevind wat darem gehelp het.”

“Wat ek uit die ervaring geleer het, is dat ek dankbaar is vir alles wat ons hier in Suid-Afrika het. Ek is dankbaar vir die klein dingetjies – vir vars bestanddele, vir warm water,” vertel Anelma, “Mense daar is gelukkig met wat hulle het, maar ek het baie dankbaar teruggekom.”

  • Nuwe episodes van Iewers In Afrika wys elke Woensdag om 20:30 met heruitsendings op Sondae om 20:30 en Maandae om 18:30.