Hy is van sy borskas af verlam en moes sy nuwe lewe in ’n rolstoel aanvaar, al was dit hoe moeilik.

Maar die para-atleet Alwyn Uys (28) het aangehou om sy liefde vir sport uit te leef en beplan om in Junie die Ironman 70.3-driekampkompetisie in Durban te voltooi.

View this post on Instagram

What are friends for ????‍?? • #couplegoals #justmates #calmdown #friendshipgoals #goals #friends #swimming #wetsuit #help #trilife #ironmanready

A post shared by Alwyn Uys (@alwynuys) on

“Ek ry al drie jaar lank handfiets, maar het so die afgelope vyf maande vir die swem en met die resiesstoel geoefen,” vertel Alwyn, wat in Kaapstad woon, oor sy voorbereiding.

“Dis eintlik nog nie so lank nie," sê hy met n verleë laggie. Maar hy is glad nie angstig nie, en is baie opgewonde oor die kompetisie. "Ek moet sê, ek sien baie daarna uit.”

In die volgende episode van Bobby en Karlien van Jaarsveld se werklikheidsreeks: Bobby en Karlien: In Jou Skoene, deel Alwyn ’n stukkie van sy wêreld met die twee sangers.

“Dit was ongelooflik om aan die program deel te neem. Dit het eintlik my eie oë ook oopgemaak en vir my nuwe perspektief gegee om te sien hoe iemand wat glad nie ’n rolstoel ken nie, dit ervaar. Dit was lekker om iemand anders in my wêreld in te bring.

“Dit was interessant, want waar ek gewoonlik hulp nodig het, kon ek ’n slag iemand help. Dit was baie lekker,” sê hy.

En natuurlik wag daar in die episode ’n nuwe uitdaging op Bobby.

“Alles gaan oor die kop. Alles gaan oor jou gedagtes. Oor hoe jy ’n situasie hanteer,” sê Bobby oor die ervaring saam met Alwyn.

“Elke mens wat [die episode] kyk, kan iets wegneem: Jy kan kies om hoop te hê. Jy kan kies om in ’n gat te lê en net te vergaan.”

  • Die tweede reeks van Bobby en Karlien: In jou Skoene word elke Woensdag om 20:30 op Via (kanaal 147) uitgesaai.