Het jy dit geniet om saam met Melinda voor die kamera te verskyn?

Baie. Melinda was nog altyd ’n spontane mens en om saam met haar te werk en haar beter te leer ken, was baie spesiaal. 

Wat het met Melinda gebeur tydens die verfilming van Wie’s Jou Poppie?

Ons moes opslaantoilette skoonmaak, iets wat ons nog nooit tevore gedoen het nie. 

Wat het jy uit die ervaring geleer?

Ek het beslis respek gekry vir die mense wat dit daagliks moet doen. Ek het ook geleer wanneer jy gefokus bly en jou kop op ’n taak rig, jy die werk gouer afhandel. Ons het gegril en naar geraak, maar toe ons in "work mode" kom, het ons net gefokus en gewerk om dit klaar te kry. 

Het jy al in die verlede saam met Melinda gewerk? Wat kon jy by haar leer?

Ek het nog nooit saam met haar gewerk nie en die geleentheid was beslis vir my ’n eer. Melinda is vir my so suksesvol en werklik die “full package”. Sy was nie een keer lelik met enigiemand om haar nie. Sy het almal om haar goed laat voel en sy het my baie dinge geleer en wyser gemaak. 

Klassifiseer jy jouself as ’n poppie? Wat verstaan jy onder die term?

Ek voel mense plaas jou vinnig in ’n boksie sodra jy mooi na jouself kyk en meer vroulik vertoon. Ek weet ek is beslis nie ’n poppie nie en dit pla my ook nie as mense sê ek is een nie. ’n Poppie is iemand wat goed na haarself kyk en haarself as ’n vrou oordra. Daar is niks verkeerd daarmee nie. 

Is jy ’n poppie?

Ek kan soms wees, maar dit hang af van in watter situasie ek is. Ek weet ek sal gou van stadsmeisie na plaasmeisie kan aanpas. 

Het daar enigiets interessants agter die skerms gebeur wat jy met ons kan deel?

Daar is parfuum in ons maskers gespuit om van die stank ontslae te raak. Dit het die uitdaging makliker gemaak. 

  • Nuwe episodes van Wie’s Jou Poppie? word Woensdae om 18:00 uitgesaai, met heruitsendings op Saterdae om 19:30 op VIA (DStv-kanaal 147).