In die eerste episode van die reeks se tweede seisoen, wat 16 Mei 2018 afgeskop het, nooi Melinda die aktrise Marlee van der Merwe van Sterlopers-faam vir ’n uitdagende parkour-sessie by Concrete Foundation. Daar het egter ’n nare verrassing op Marlee gewag by dié sessie.

Marlee van der Merwe vertel ons meer oor dié ervaring.

Wat het gebeur tydens die verfilming van Wie’s jou poppie met Melinda?

Ons het vir ’n hele dag parkour-afrigting gekry en teen so vier-uur die middag ’n hindernisbaan aangepak. Dit was vet pret!! Ek en Melinda moes beslis ons moue vir dié spulletjie oprol. 

Wat het jy uit die ervaring geleer?

Ek het uit die ervaring geleer dat ek sterker is as wat ek dink en dat ons koppe soms ons grootste vyand is. Ek moes bloot vir myself sê dat ek die hindernisse kón aanpak!


Het jy dit geniet om met Melinda te werk?

Ek het vir Melinda so geniet!

Sy is regtig nog mooier aan die binnekant as buite (as dit enigsins moontlik is) en sy is baie sterk – fisies én intellektueel. Ons het saam lekker gelag!

Was die verfilming van die episode vir jou uitdagend?

Die verfilming van die episode was verseker baie pret maar baie uitdagend.

Van die goed wat ons aangepak het was regtig moeilik en gevaarlik. Veral na ek geval het was dit bitter moeilik om my selfvertroue te herwin. Ek hou daarvan om myself te druk maar ter selfde tyd is ek ongemaklik met risiko.

Wat beteken die woord “poppie” vir jou?

“Poppie” verwys, volgens my, na wat die samelewing sien wanneer hulle na ’n vrou kyk wat dalk sag op die oog is, mooi aantrek en op die eerste oogopslag lief is vir die fyner en luukser dingetjies in die lewe.

Intellek, “street savvy”, atletiese vermoëns, en waagmoed is gewoonlik nie sinoniem met “poppie” nie, en is eienskappe wat meeste van die tyd oorgesien word.

Sou jy jouself as een klassifiseer?

Ek is al baie “poppie” genoem. Ek het ook al baie ’n “poppie”- rol vertolk op verhoog en voor die kamera.

As jy 10 minute saam met my spandeer sal jy vinnig agterkom ek is nie ’n poppie nie.… Ek is meer soos n “‘tomboy’” wat oukei lyk met grimering aan en weet hoe om met spykerhakke te loop. 

  • Nuwe episodes van Wie’s jou poppie? op Woensdae om 18:00 met heruitsendings op Saterdae om 19:30 op VIA (DStv-kanaal 147.)