Kyk net wat gebeur wanneer sy haar vir dié taak moet voorberei . . .

Wat het jy en Melinda op jou episode van Wie’s Jou Poppie? gedoen?

Ek moes ’n renoster se ingewande skoonmaak en daarna moes ons die renoster se saad vang. Beslis nie die maklikste ding wat ek al in my lewe gedoen het nie. Ek het hom die ironiese bynaam Tiny gegee.

As jy die episode kyk, sal jy verstaan hoekom . . .

Wat het jy uit dié ervaring geleer?

Ek het geleer Suid-Afrika is ’n voorloper wat die herbevolking van die bedreigde renosterspesies betref. Dit is vir my indrukwekkend dat ons die weg hiermee baan. Dis noodsaaklik. En ek het geleer hoe gevaarlik dit is om dit te doen.

Die grootste les wat ek geleer het: Ons is geneig om te dink renosterstropers is die grootste sondaars, maar dis nie waar nie; dis die aanvraag van groot maatskappye.

Stropers is arm en het nie die dieselfde toegang tot inligting wat ons het nie. Hulle doen dit omdat hulle genoop is en nie die volle omvang van hul aksies begryp nie.

Hoe was dit om hierdie uitdaging saam met Melinda aan te pak?

Sy het my verwagtings oortref. Sy is vreesloos, mooi, sterk én slim! En sy het so baie empatie. Sy het regtig nie ’n slegte been in haar liggaam nie.

Ek dink ook sy het die regte tools om nog ver in haar loopbaan te vorder en haar kop is reg aan haar lyf vasgeskroef.

Wat dink jy van die term ‘poppie’?

Toe ek gevra is om op dié program te verskyn, was ek eers skepties. Maar ek het toe besef die program draai die idee van poppiewees op sy kop. Dit wys vroue is sag maar sterk.

As ’n vrou is ek eintlik al so moeg daarvoor om dit te bewys. Ek is al verby dit. Wat ek van hierdie TV-program hou, is dat dit wel dit bewys, maar terselfdertyd ’n geleentheid bied om net pret te hê.

Wat doen jy volgende?

Ek is ’n vennoot in die produksiemaatskappy Afrokaans wat die volgende seisoen van Survivor SA vervaardig.

Ek werk ook tans aan drie flieks wat almal in produksie is. En dan beplan ek om meer op my akteursloopbaan te fokus.

  • Nuwe episodes van Wie’s Jou Poppie? word elke Vrydag om 17:30 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai met heruitsendings op Saterdae om 21:00.