Een van die inskrywings, deur Sone Joubert van Gordonsbaai, het beslis talle mense se hartsnare aangeraak. Haar sielvolle weergawe van Laurika Rauch se Stille Waters is in slegs een week meer as 270 000 keer op Facebook gekyk. Die mentor wat Sone gekies het is Dewald Wasserfall.

Nog ’n inskrywing, deur die jong Mischa Becker, ’n matriekleerder aan die Hoërskool Pietersburg in Polokwane, het ook begin aandag getrek. Haar oudisie-video op Facebook is al meer as 455 keer gedeel en al meer as 21 000 keer gekyk.

In dié video sing Mischa haar eie komposisie. VIA (DStv-kanaal 147) en die Afrikaanse musiekbedryf se grootste onafhanklike platemaatskappy, Coleske Artists, is op soek na die volgende groot Afrikaanse sanger of sangeres.

“Oukei, ek doen dit glad nie gereeld nie,” het Mischa in haar oudisie-plasing geskryf. “Daar was woorde wat al lank in my hart sit en ek het eindelik ’n liedjie met dié woorde geskryf. Ek deel dit graag met julle, want ek weet daar is baie mense wat ook struikel met sekere situasies in hul lewe.”

Mischa het die sanger Elvis Blue as haar mentor gekies. Dié wat vir Die Kontrak inskryf, kan kies tussen vier mentors. Die agt deelnemers wat deur die mentors gekies word, sal week ná week deur drie kenners uitgekyk word. Hulle is die sangeres Corlea Botha, die sanger Theuns Jordaan en Barry Pretorius, die kreatiewe regisseur van die Afrikaans Is Groot-megakonserte.

In die nuwe TV-reeks Die Kontrak, wat later vanjaar op die Afrikaanse leefstylkanaal uitgesaai word, sal agt aspirantsangers om ’n gesogte platekontrak meeding. Die Kontrak se mentors, Elvis Blue, Tarryn Lamb, Monique Steyn en Dewald Wasserfall, sal uit die aansoeke die agt talentvolste kandidate kies.

Hoe verskil die werk van die vier mentors en die drie kenners?

“Die mentors lei die deelnemers en leer hulle van die toedrag van sake in die bedryf,” verduidelik Barry. “Die mentors sal die deelnemers met liedjiekeuses en raad bystaan.

“Die kenners lewer hul kritiek volgens hul spesifieke kennis rakende die musiekbedryf,” voeg hy by. “Hulle mening is objektief.”

Skryf in op die NetNuus-app
  • Neem ’n video waar jy jou gunstelingliedjie sing.
  • Laai die NetNuus-app op jou slimfoon af. Die NetNuus-app is in die Apple- en Android-app-winkels beskikbaar.
  • Maak die NetNuus-app oop deur daarop te druk.
  • Druk op die video-ikoon onderaan die app. Dit maak die NetNuus-app se NetVideo-afdeling oop.
  • Om jou video op te laai, druk op die plus-teken in die regterkantste hoek.
  • Druk dan op die video’s op jou toestelknoppie. Kies die video wat jy wil oplaai.
  • Gee jou video ’n titel en beskrywing in die nodige velde. Onthou om die hutsmerk #diekontrak te gebruik en aan te dui wie jy as ’n mentor wil hê.
  • Tik ook jou naam en kontakbesonderhede in die nodige velde sodat die mentors jou kan kontak as hulle wil.
  • Aanvaar die NetNuus-app se voorwaardes en instemming deur op die knoppies langs die teks te druk. Die knoppies sal geel word sodra jy dit aanvaar.
  • Druk op die Dien in-knoppie.
  • Jou video sal nou opgelaai word en in die NetVideo-stroom verskyn sodra die NetNuus-span dit goedgekeur het.
Skryf in op Facebook
  • Neem ’n video waar jy jou gunstelingliedjie sing.
  • Meld aan op jou Facebook-rekening op jou slimfoon of rekenaar.
  • Klik op die Photo/Video-ikoon by die boksie waar jy gewoonlik jou bywerkings doen.
  • Kies die video wat jy wil oplaai en klik op Upload.
  • Terwyl jou video laai, gee dit ’n naam en beskrywing. Onthou om die hutsmerk #diekontrak te gebruik en aan te dui wie jy as ’n mentor wil hê. Jy kan jou mentor tag deur die @-knoppie te klik en dan jou mentor se naam in te tik. Sodra Facebook die profiel van jou gekose mentor opspoor, klik daarop.
  • Sodra dit 100% gelaai is, klik op die Publish-knoppie.
  • Jou video sal nou op jou Facebook-profiel wees.
Skryf in op Instagram
  • Neem ’n video waar jy jou gunstelingliedjie sing.
  • Meld aan in jou Instagram-rekening op jou slimfoon.
  • Druk op die plus-teken onderaan die app.
  • Kies die video wat jy wil oplaai en druk op Next.
  • Jy kan nou die video se grootte en kleur verander as jy wil.
  • Gee 'n naam en beskrywing. Onthou om die hutsmerk #diekontrak te gebruik en om aan te dui wie jy as ’n mentor wil hê. Jy kan jou mentor tag deur die @-knoppie te druk en dan jou mentor se naam in te tik. Sodra Facebook die profiel van jou gekose mentor opspoor, klik daarop.
  • Druk die Share-knoppie in die regterkantste hoek.
  • Die video sal dan op jou Instagram-rekening wees.