In VIA (DStv-kanaal 147) se werklikheidsprogram Wie’s Jou Poppie? daag die voormalige Mej. Suid-Afrika Melinda Bam haar vriendinne uit om saam met haar te bewys hulle is allesbehalwe poppies. 

In die tweede episode van die reeks se tweede seisoen wat op 16 April begin het, nooi Melinda die aktrise Donnalee Roberts na die Du Plooy-melkery in Pretoria waar hulle mekaar uitdaag om ’n kunsmatige inseminasie uit te voer.

Ons het met Donnalee gesels.

Wat het jy en Melinda alles agter die kamera aangevang? Het jy dit geniet om saam met haar te werk? 

Ons het meeste van die tyd uit ons maag uit gelag! Dis altyd heerlik om saam met Melinda te werk.

Donnalee Roberts en Melinda Bam agter die skerms op die Du Plooy-melkery in Pretoria. Foto's: Verskaf

Ons het 'n wonderlike connection en kan land en sand oor alles gesels: God se goedheid en guns, entrepreneurskap, werk, toer, drome en alles wat laf is.

Wat het tydens die verfilming van Wie’s Jou Poppie? met Melinda gebeur?

Ons het op die Du Plooy-melkery by Hannelie van Jaarsveld gaan kuier en kon ’n dag lank in die skoene van dié boer, Hannelie, stap. Sy bestuur alles daar. 

Sy werk daagliks bitter hard en is so inspirerend. Sy het ons al die plaaswerk self laat doen; dus het sy ons hard laat werk en so kon ons alles eerstehands ervaar.

Wat beteken die term 'poppie' volgens jou? Klassifiseer jy jouself as ’n poppie? 

Ek hou nie daarvan om myself as enigiets spesifiek te ‘klassifiseer’ nie omdat die wêreld ons as vroue daagliks in boksies probeer druk. 

As vroue is ons ’n miljoen dinge: weerloos én dapper, wonderlik ingewikkeld en propvol baie om vir die wêreld te gee. Maar as gevolg van onrealistiese wêreldse verwagtings en persepsies wat op ons afgedwing word, verloor ons onsself dikwels in die stroom van verwagtings wat ons in onsself laat twyfel en wat keer dat ons kan wees wat ons gemaak is om te wees.

Donnalee Roberts en Melinda Bam.

Het jy al ooit iets uitdagends aangepak en jouself verbaas met hoe bevoeg jy was?

Stroomop! Ons het pas klaar verfilm aan ons nuwe, opwindende uitdagende avontuurfliek, Stroomop. 

Ons het in die Noord-Kaap op die Oranjerivier verfilm: geen sein, geen elektrisiteit, honderde kilometers weg van alles en almal, geen verblyf (ons moes 'n maand lank kamp opslaan langs die rivier) en 12 uur per dag in tussen 40 en 46 °C hitte verfilm. 

Agter die skerms op die Du Plooy-melkery in Pretoria.

Dis ’n oorlewingsfliek en ons as rolprentspan het letterlik en figuurlik saam met die karakters op die avontuur van oorlewing gegaan. 

Ek moes daagliks berge uitklim, in riviere swem, in die woestyn stap en die rofste rapids roei. 

Dit was soms vreesaanjaend en ek het aan die begin getwyfel of ek sterk genoeg sou wees om al die uitdagings te oorkom. 

Maar die storie en my karakter het dit van my verwag en dag ná dag het ek fisiek en emosioneel sterker geword en het die daaglikse uitdagings keer op keer vir my net opwindender geraak.

  • Nuwe episodes van Wie’s Jou Poppie? op Woensdae om 18:00, met heruitsendings op Saterdae om 19:30 op VIA (DStv-kanaal 147).