In die vierde episode van die reeks se tweede seisoen nooi Melinda Bam die aktrise Mila Guy om by die Hartbeespoortdam-Slang-en-Dierepark haar grootste vrees in die gesig te staar: slange. Ons gesels met Mila oor dié ervaring.

Wat moes jy en Melinda saam tydens verfilming aanvang?

Ek moes my grootste vrees in die gesig staar en leer hoe om met slange te werk.

Wat het gebeur tydens die verfilming van Wie’s Jou Poppie? met Melinda?

Ek het geleer van slange en moes hulle vang en in ’n boks sit. Die slange was ook nie klein of oulik nie: Ons moes met kobras werk.

Wat het jy uit die ervaring geleer?

Ek het geleer ’n mens kan wel jou vrese oorkom. Melinda het my met dié aspek gehelp.

Het jy dit geniet om saam met Melinda voor die kamera te verskyn?

Ek het ons tyd saam verskriklik baie geniet. Sy is ’n sterk en pragtige mens, en dit was vir my ’n eer om haar met haar te kon saamwerk.

Het sy jou verbaas?

Sy het my beslis verbaas. Sy is ’n sterk en plat-op-die-aarde-mens.

Sou jy jou as ’n poppie klassifiseer?

Glad nie. Dit is vir my moeilik om my met dié term te vereenselwig.

Wat, volgens jou, is ’n poppie?

Dit is ’n moeilike vraag. ’n Poppie hou seker net meer van vroulike goed. As ek aan ’n poppie dink, dink ek aan iemand wat baie van hoë hakke en grimering hou.

Nuwe episodes van Wie’s Jou Poppie? is Woensdae om 18:00 te sien, met heruitsendings op Saterdae om 19:30 op VIA (DStv-kanaal 147.)