Wat was jou indruk van Wie’s Jou Poppie? voor jy saam met Melinda die uitdagings aangepak het? 

Wie’s Jou Poppie handel vir my oor vroue wat vir die samelewing wys hulle is tot meer in staat as wat die stereotipes toelaat. 

Dink jy die program is insiggewend vir mense wat dink vroue kan nie tegnies bekwaam wees nie?

Sekerlik. Tog hang dit van die kyker se perspektief af. 

Wat het gebeur tydens die verfilming van Wie’s Jou Poppie saam met Melinda? 

Ek en Melinda het saam oor die brandweer geleer en wat die lewe van ’n werkende brandbestryder behels en sommer 'n bietjie met vuur gespeel. 

Wat het jy uit die ervaring geleer? 

Ek het geleer ek het vrese en is nie regtig bekwaam vir dié bedryf nie. Ek het besef die mans en vroue wat dié beroep beoefen, is uiters dapper en bekwaam. Daar is ’n merkwaardige plek vir vroue in dié bedryf en talle vroue handel hierdie take net so goed af. 

Wat verstaan jy onder die term poppie? 

Ek glo ’n poppie is net iets waarmee ’n kind speel. Dit is so ’n kinderlike term. Hoe kan ’n mens nou eintlik ’n mens met ’n speelding vergelyk? 

Sou jy sê jy is ’n poppie? 

Nee, en jy ook nie. Ek dink nie dit is noodwendig ’n goeie beskrywende term vir enige vrou nie, maar soms is dit maar net ’n manier om iets kleins en fyns op te som. Dis nie noodwendig ’n kompliment of belediging nie. 

Het jy dit geniet om saam met Melinda te werk? Het daar enige interessante goed agter die skerms gebeur? 

Dit was heerlik en verfrissend om saam met haar te kon werk. Sy is ’n sjarmante mens en vol passie.

Sy is duidelik trots op wie sy is en waarvoor sy staan. Ons het lekker gespeel en gekuier.

Ek was maar net bly ons het nie in ’n nou gang vasgesit of ons ooghare geskroei nie.