Aanvanklik het Katinka Engelse video’s op YouTube gedeel, maar besef sy wil haar trots Afrikaanse self wees.

Sy verduidelik: “My Engelse video’s het nie so goed gevaar nie en ek het gesien daar is eintlik ’n vraag na Afrikaanse vloggers. Dis toe dat ek besluit om in my moedertaal te vlog. Dit het uitstekend gewerk.”

Katinka vertel sy kyk na ander sosialemedia-platforms soos Instagram en Snapchat om wenke te kry vir haar vlogs en haar kreatiwiteit doeltreffend uit te druk.

“Ek raak onderwerpe aan waaroor tieners dink, maar nie eintlik oor praat nie. Deur net myself te wees en my humorsin te gebruik kan ek ander tieners vermaak en op ’n manier opvoed.”

Een van die lesse wat Katinka uit haar hele vlog-ervaring geleer het, is dat Afrikaans awesome is.

Sy sê: “Ons moet Afrikaans ondersteun en opbou. Dis ’n unieke taal waaroor ’n mens nog so baie van kan leer.”

In haar video vir VIA skeer Katinka die gek oor grimering en oor hoe seuns dit verduidelik en sien.

Kyk hier na Katinka se WMJ-video:

  • VIA soek Afrikaanse video-makers en vloggers! Met WMJ nooi VIA mense uit om hul unieke talente, perspektiewe, oomblikke en stokperdjies te deel. Die VIA-span se gunstelingvideo kan vanaf Augustus tot en met die einde van Oktober 2017 elke week R5 000 wen. Om in te skryf, hoef jy net ’n kort video in Afrikaans te maak, dit op YouTube, Facebook of Instagram te laai met die hutswoorde #VIATV en #VIAWMJ. Stuur dan ook ’n skakel van die video na info@viatv.co.za.