Hoe sorg jy dat jou testament ná jou dood jou wense vir jou hartsmense vervul?

Vir Jeanette is jou testament soos “die laaste liefdesbrief wat jy nalaat vir jou geliefdes en jou familie”.

Jy moet sorg dat jy die beste testament vir jou geliefdes opstel.

PRAAT MET JOU FAMILIE

Maak die opstel van jou testament ’n familie-aktiwiteit: Sit met jou familie om ’n tafel en beplan saam aan jou testament.

“Jy moet, byvoorbeeld, goed in ag neem wat sê: ‘Wat sou gebeur indien ek eerste te sterwe kom? Wat sou gebeur indien jy (jou man) eerste te sterwe kom? Wat gebeur as ons kinders saam het en ons kom saam te sterwe? Het ons, byvoorbeeld, wettige voogde vir ons kinders.’ ”

RAADPLEEG ’N KENNER 

Ná jou familie-gesprek, maak seker jy roep die hulp van ’n kenner – soos ’n prokureur of ’n finansiële adviseur – in wat namens jou jou testament kan opstel.

Dié kenner moet ook seker maak dat jou wense vir jou testament prakties uitvoerbaar is.

“Kom ons sê hulle het ’n huis en die bank het albei julle salarisse in ag geneem toe hulle die lening toegestaan het. Sal jou vrou kan aanhou om die huislening te betaal? Of moet ’n mens voorsiening maak en ’n lewenspolis hê wat spesifiek net vir die huis betaal? Dit is dan ’n wonderlike geskenk wat jy vir jou familie agterlaat,” sê Jeanette.

BOEDELBEPLANNING

“Weet jou erfgename hulle gaan belasting betaal op dit wat hulle erf indien die totale som van die boedel groter is as R3,5 miljoen? Het jy voorsiening gemaak daarvoor? Soms as ’n seun ’n plaas erf, het hy nie genoeg kontant om die boedelbelasting te kan betaal nie en ’n word hy dan gedwing om die bate, of ‘n deel van die bate, te verkoop,” verduidelik Jeanette.

BELÊ OU ERFGOED 

Dan het Jeanette ook raad vir erfgename: “Wanneer ’n mens geld erf, moet ’n mens ook gaan sit en beplanning doen en dink, ‘Wat was die wens van die persoon wat dié geld aan jou nagelaat het?’

Baie keer is erfgoed swerfgoed. Jy het dit so maklik gekry en dis so maklik om dit uit te gee.

Maar tog dink ek dis ‘n wonderlike geleentheid om vir jouself in die langtermyn te sorg.

Skielik is daar ’n bedrag geld wat jy kan spaar wat ’n groot verskil aan jou aftrede kan maak.”

WIE IS JEANETTE MARAIS?

Ná 28 jaar in die finansiëledienstebedryf is Jeanette Marais, ’n gerekende kenner van finansiële dienste, in Maart 2018 as die adjunk- uitvoerende hoof van MMI Holdings Bpk. aangestel. Dit is dieselfde maatskappy waar sy haar loopbaan begin het.

Jeanette het op ’n plaas in die Vrystaat grootgeword en het as student ’n B.Sc. in wiskunde en wiskundige statistiek aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf – en later ook ’n MBA aan die gesogte IMD-sakeskool in Switserland.

Haar loopbaan in die finansiële sektor het in 1990 begin by Momentum, waar sy bemarking en verkope behartig het.

Ná bykans nege jaar het sy die maatskappy verlaat waarna sy uitvoerende bestuursposte by verskeie ander finansiële dienste maatskappye behartig het voordat sy na MMI Holdings Bpk. teruggekeer het. 

Jeanette Marais, Theo Voster, Rozanne McKenzie. Foto: Verskaf

  • Nuwe episodes van Geldhelde word Dinsdae om 20:30 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai met heruitsendings op Woensdae om 08:30 en Sondae om 19:30. In samewerking met Momentum.