Lynelle, wat vanjaar met die Kunste Onbeperk- en KKNK-prys vir 'n jong stem bekroon is, gesels in die program oor haar ma se dood en depressiestryd.

Die aktrise se ma is oorlede terwyl Lynelle aan haar bekroonde rol in die musiekspel West Side Story gewerk het. 

Huisgenoot het in 2017 berig haar ma se dood het haar drie jaar gelede so hard getref dat sy selfmoord oorweeg en met verslawing gesukkel het. 

Nou praat die aktrise openhartig oor haar stryd met depressie.

“Vir my om so na aan sulke donker, emosionele landskappe te werk terwyl my ma onlangs oorlede is – daai lyn tussen wie Lynelle is en wie die karakter (Maria in West Side Story) is, het vervaag. Wat ’n gevaarlike emosionele en seer plek om in te wees,” sê Lynelle. 

“Maar om iets te hê om elke dag voor op te staan en om daai pyn in iets opbouends te verander, het my ’n purpose gegee.” 

Oor haar depressiestryd sê Lynelle vir Minki: “Ons elkeen het ons stories. Dis hoe ons onsself leer ken, en vir ’n lang tyd is dit jou identiteit, maar ’n mens kom op ’n punt waar jy geleer het uit die storie wat jy geleef het en dan skuif jy die storie opsy.” 

“Daai skill set raak dan deel van hoe jy jou lewe vorentoe bestuur. En ek voel al baie ver van dit. Ek is nou baie in voeling met myself.” 

Minki, wat nes Lynelle ’n oudleering van die Hoërskool Stellenberg in Kaapstad is, gaan Lynelle in die episode met 'n bekende 7de Laan-gesig verras.

Kyk dié videogreep vir ’n voorsmakie van vanaand (17 Julie) se episode van Minki. 


  • Nuwe episodes van Minki word Woensdae om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai met heruitsendings op Saterdae om 18:30. Minki word geborg deur Incanda-meubels en Bacher & Co.