Twee huisinwoners het oor die balkon gespring en Fred van der Merwe se leierskapstyl word eers geprys en toe bevraagteken.

Fred is as huiskaptein gekies en besluit toe om die huisinwoners te bederf met ’n partytjie én sigarette. 

Ten duurste! ’n Pakkie sigarette wat in dié episode R20 000 gekos het, het beslis nie vir spandabel-Fred afgeskrik nie. 

Drank was aanvanklik nie in die spens beskikbaar nie, maar die mede-aanbieder, Zoë Brown, het ingestem om drank vir die huis te reël, indien hulle die sitsak, wat baie se slaapplek was, sal inruil.

In die eerste episode het Jacolene Smith, die eerste huiskaptein, R24 000 spandeer en in hierdie episode het Fred ‘n enorme bedrag van R81 000 op kos en drank spandeer. 

Die hoogs emosionele Zanelle Breedt, het lekker saam partytjie gehou, maar noem ook dat sy op “medikasie” is.

Dit eindig toe op in ‘n rowwe, ombeskofte en vuurwarm aand . . . 

Wayne van Wyk en Willem Bothma het dramaties uit die huis getrap deur oor die stoep se balkon te spring en die huis te verlaat. Outomaties word hulle dan uit die kompetisie geëlimineer. 

Albei kla oor beperkte persoonlike spasie, kos en natúúrlik sigarette – iets wat die huis duisende rande uit die sak kan jaag.

  • Vir meer oor dié reeks, besoek VIA se YouTube kanaal of Facebookblad. Vir nuwe episodes skakel Woensdae om 20:30 in op VIA (DStv-kanaal 147). Heruitsendings kan op Vrydae om 18:00 gekyk word.