Herman was ’n fisioterapiestudent aan die Middlesex-universiteit in Engeland toe ’n parasitiese infeksie hom in ’n koma laat beland het.

Herman was ses weke lank in ’n koma, waarna hy by die dood omgedraai het. Toe hy uit die koma ontwaak en begin herstel, was hy egter blind.

“Dit was baie traumaties,” het Herman vir Minki gesê. “Jy dink jy sal nie meer die broodwinner kan wees nie. Sal jy ooit weer ’n man kan wees? Sal jy ooit weer ’n pa vir jou kinders kan wees nie? Dít is die soort vrae wat jy jouself afvra.”

Herman moes sy hele leefstyl van voor af bedink, en ondanks die blindheid het hy besluit om voort te gaan met sy studie in fisioterapie. “Dit is seker dubbel die inset van ’n siende student.”

Susan en Herman Jordaan, 'n blinde fisioterapeut v
Susan en Herman Jordaan, 'n blinde fisioterapeut van Kleinmond, kuier by Minki. Foto: Verskaf

Herman is vandag baie gewild onder sy pasiënte en voel sy blindheid het sy vaardighede as fisioterapeut aangevul.

“Ons blindes se tassintuig is baie, baie skerp. Ek voel baiekeer dinge wat my siende kollegas nie optel nie, soos letselweefsel,” het hy vertel. “Ons visualiseer ook baie goed. As ek aan iemand se knie van, visualiseer ek . . . watter spiere, watter ligamente. Dit maak ’n mens skerp.”

Herman se vrou, Susan, het by hom gestaan deur sy dodelike koma, sy studie en sy blindheid.

 “Ons het deur baie moeilike tye gegaan,” het sy op Minki gedeel. “Tog oorbrug ’n mens dit alles. Herman is ’n fantastiese mens. Dís waarom pasiënte so toustaan vir hom: Dis oor die mens wat hy is. Ek is gelukkig ek is met hom getroud. Die oë is eintlik maar ’n klein deel van ’n mens.”

Hier vertel Susan die merkwaardige storie van hoe Herman by die dood omgedraai het ná ’n koma van ses weke.

  • Nuwe episodes van Minki word Woensdae om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai met heruitsendings op Saterdae om 18:30. Minki word geborg deur Incanda-meubels en Bacher & Co.