In die derde episode van VIA (DStv-kanaal 147) se geldprogram, Geldhelde, gesels die aanbieder, Lucky du Plessis, met Jeanette Marais van Momentum oor skuld en hoekom dit ons grootste vyand is. Jeanette deel ’n paar wenke oor sogenaamde “goeie” en “slegte”skuld.

Hoe kan mens skuld vermy?

As mens jonk is, is dit veral baie moeilik om skuld te vermy. Daar is só baie waaraan jy moet voldoen – ’n motor- en huispaaiement is nog net die begin. Jeanette raai aan dat jy wel skuld so vêr moontlik moet probeer vermy. Sodra jy daarin opgevang word, is dit baie moeilik om daaruit te ontsnap! 

“Beter” en “slegter” skuld

Daar word ’n slegte konnotasie aan skuld gekoppel juis omdat skuld rente is en in die langtermyn is rente jou grootste vyand. Jy kan nie van dit loskom nie, jy móét dit afbetaal. Jeanette sê verder: “Rente is regtig ’n groot vyand en dis hoekom skuld so sleg is.”

’n Voorbeeld van beter skuld is studieskuld en ’n huislening. Dit verseker tog vir jou iets in jou toekoms.

Korttermynskuld word as slegter skuld geïdentifiseer. Dit sluit bv. ’n kredietkaart, skuld op meubels en toebehore en klereskuld in. Die rente wat jy hierop betaal kan selfs dubbeld die bedrag word as wat jy oorspronklik sou betaal. 

Vinniger afbetalings

“Jy kan altyd skuld vinniger afbetaal.” Elke klein bietjie wat jy maandeliks ekstra kan afbetaal gaan direk van jou kapitaal af. Dit sal verseker dat jou betalingstyd soveel korter is, en omdat jy die kapitaal dan vinniger afbetaal, betaal jy op die ou end minder rente op daardie huis, motor of duur kledingstuk.

  • Skakel Maandae om 19:30 in op VIA (DStv-kanaal 147) om meer oor spaar, beleggings, aandele en finansiële doelwitte te leer.