Die span van VIA (DStv-kanaal 147) se mediese werklikheidsprogram, Noodlig, gee wenke wat jou lewe in ’n noodsituasie kan red.

Mohammed Varachia (gekwalifiseerde ILS-paramedikus) gesels oor die behandeling van die inname van giftige vloeistowwe. 

Dit gebeur nie gereeld dat kinders liters skoonmaakmiddel drink nie.

Die middel word dikwels per ongeluk ingeneem en dadelik uitgespoeg.

As iemand wel ’n groot hoeveelheid skoonmaakmiddel inneem, is dit dikwels opsetlik.

Dit is belangrik om die ouderdom van die persoon in ag te neem om vas te stel hoeveel van die middel moontlik ingeneem is. Die volgende wenke kan nuttig wees in so ’n situasie:

  • Bel altyd eerstens die nooddiens. Dit is altyd moeilik om die erns van die skade vas te stel wat inwendige wonde of gevalle van vergifting betref. 
  • Lees dadelik die etiket van die produk wat die persoon ingeneem het. Die etiket bevat dikwels wenke wat kan help in noodsituasies. 
  • Moet geen vloeistowwe, soos melk, inneem nie. Ander chemiese reaksies kan plaasvind wat nog inwendige skade kan aanrig.
  • Volgens Mohammed is dit riskant om braking in so ’n situasie aan te moedig. Daardie chemikalieë kan meer inwendige skade veroorsaak indien die persoon doelbewus sou opgooi. 
  • As net ’n slukkie – 15 ml of minder – ingesluk is, is dit belangrik om die persoon se toestand te monitor. Die liggaam vind dikwels wyses waardeur hy homself van vreemde middels reinig. 

Hierdie artikel verskaf net algemene mediese kennis.  

Indien jy in een van die bogenoemde mediese situasies beland kan die gegewe as wenke gebruik word.

Dit is egter noodsaaklik dat jy wel in so ’n noodsituasie dadelik  ’n mediese dokter raadpleeg of ’n ambulans bel.

  • Nuwe episodes van Noodlig wys elke Woensdag om 21:00 met heruitsendings op Sondae om 22:00.