Nuwe episodes van Die Koektannie se tweede seisoen sal Dinsdae om 18:30 op VIA uitgesaai word, met heruitsendings op Saterdae om 17:30.

Min goed is vir my so mooi soos ’n geposjeerde peer. As ek die slag in ’n fênsie restaurant kom en dit op die nageregspyskaart sien, is dit altyd my eerste keuse. Dit word tradisioneel met tuisgemaakte roomys voorgesit.

Mareli en Rachel by die geposjeerde peer.

Wanneer hulle dan daardie mooi bordjie voor jou neersit, kan jy nie anders nie as om dit op Facebook te deel. Gewoonlik is dit amper te mooi om te eet. Die Franse het pere geposjeer in rooiwyn uitgedink.

Gewoonlik word ’n suikerstroop met rooiwyn, sitrus en speserye gekook en dan word die pere daarin geposjeer tot dit sag is. Wanneer jy dan deur die dieprooi wang sny, is die binnekant van die peer nog wit, maar deurtrek van die sitrus-en-spesery-lekkerte.

Wie sou kon dink dat jy geposjeerde pere as versiering bo-op ’n koek kan gebruik? Vir vandeesweek se koek doen ek dit: ’n Amandelkoek word aangevul met mascarpone-versiersel en dan vul ons die koek met dun skyfies geposjeerde peer. Plaas dan sommer ook ’n paar pere bo-op die koek vir versiering.

Die geposjeerde peerkoek.

Die Koektannie se resep vir geposjeerde pere

Bestanddele

1 k suiker
1 k likeur
3 lourierblare
1 vanieljepeul, in die helfte gesny
water
8 pere, geskil, maar met die steel aan

Metode

Voeg die suiker, likeur, lourierblare en vanieljepeul in ’n pot met ’n bietjie water.

Plaas die pot op die stoof oor ’n lae hitte sodat die suiker kan oplos.

Plaas die pere in die pot. Voeg genoeg water by om die pere te bedek.

Vou waspapier in ’n driehoek.

Hou die papierdriehoek oor die pot met een punt in die middel daarvan.

Knip die onderkant van die driehoek af sodat dit ’n sirkel vorm wat net-net in die pot sal pas.

Knip die punt van die driehoek af.

Jy sal ’n sirkel kry wat soos volg lyk:

Foto: Verskaf

Plaas die waspapiersirkel in die pot sodat dit die pere bedek.

Kook die pere oor matige hitte met die deksel op tot die pere sag is.