Is jy deel van die toebroodjie-generasie? Dié vreemde term verwys na ’n demografie van mense in hul veertigs en vyftigs wat nie net vir hul kinders sorg nie, maar ook na hul ouers moet omsien.

Hulle is dus die vulsel in die spreekwoordelike toebroodjie. Klink dit vir jou bekend?

Hier is Jeanette se raad vir hoe jy beter met jou rande kan woeker.

KYK EERS NA JOUSELF

Die belangrikste ding is om eers jou eie belange in ag te neem.

“Dit klink selfsugtig, maar dit is glad nie,” sê Jeanette.

Omdat jy ’n groot verantwoordelikheid het om vir jou ouer én jonger hartsmense te sorg, moet jy seker wees jy is finansieel, fisiek en emosioneel in staat om dit wel te doen. 

PRAAT MET JOU FAMILIE 

Vir Jeanette is die belangrikste ding om openlike en eerlike kommunikasie binne jou familie aan te voer.

“Dit is ’n moeilike gesprek met ’n mens se ouers, want dit kan amper hul menswaardigheid aantas. Dit gebeur amper dat ’n mens kan voel die verhouding verander, want skielik sorg hulle nie meer vir jou nie, jy sorg nou vir hulle,” sê Jeanette, “

STEL 'N BEGROTING OP

’n Baie belangrike punt is om baie mooi te beplan sodat jou ouers nie nodig het om jou te vra vir geld nie.”

Jy moet verstaan wat jou geliefdes se finansiële behoeftes is sodat hulle onafhanklik met hul rande kan woeker.

Jeanette se voorstel is dat jy vir jou ouers of kinders ’n maandelikse toelae in hul bankrekenings inbetaal sodat hulle nie vir elke behoefte by jou hoef aan te klop nie.

LEER JOU KINDERS

Het jy kinders in hulle twintigs of selfs dertigs wat steeds by jou bly?

Hoe gaan ’n mens te werk om seker te maak hulle hou nie net vakansie onder jou dak nie?

Vir Jeanette is dit ’n positiewe geleentheid om jou kroos te leer om met geld te werk.

“As hulle reeds begin werk het, moenie dat hulle verniet by jou bly nie. Hulle moet ’n bydrae maak: Vra hulle ‘n bedrag vir huur – dit kan moontlik ’n derde kos van wat hulle sou betaal as hulle op hulle eie was – maar dit is tog belangrik dat hulle wel die dissipline het om jou elke maand iets te betaal,” verduidelik Jeanette.

“Dis ’n moeilike situasie en ek dink dis belangrik dat ’n mens op ’n punt kom waar jy ook moeilike besluite neem en waarskynlik moeilike boodskappe moet oordra. Jy doen die mense in hierdie situasie ’n guns deur in ’n stadium te sê: ‘My kind, nou moet jy jou eie potjie gaan krap. Jy moet nou op jou eie bene gaan staan.’ En ’n mens sal ook moet leer om nee te sê.”

WIE IS JEANETTE MARAIS?

Ná 28 jaar in die finansiëledienstebedryf is Jeanette Marais, ’n gerekende kenner van finansiële dienste, in Maart 2018 as die adjunk- uitvoerende hoof van MMI Holdings Bpk. aangestel. Dit is dieselfde maatskappy waar sy haar loopbaan begin het.

Jeanette het op ’n plaas in die Vrystaat grootgeword en het as student ’n BSc in wiskunde en wiskundige statistiek aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf – en later ook ’n MBA aan die gesogte IMD-besigheidskool in Switserland.

Haar loopbaan in die finansiële sektor het in 1990 begin by Momentum, waar sy bemarking en verkope behartig het.

Ná bykans nege jaar het sy die maatskappy verlaat, waarna sy uitvoerende bestuursposte by verskeie ander finansiëledienstemaatskappye behartig het voor sy na MMI Holdings Bpk. teruggekeer het. 

Jeanette Marais, Theo Voster, Rozanne McKenzie. Foto: Verskaf

  • Nuwe episodes van Geldhelde word Dinsdae om 20:30 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai met heruitsendings op Woensdae om 08:30 en Sondae om 19:30. In samewerking met Momentum.