Ons almal het groot gelddrome wat ons graag wil hê eendag waar moet word.

Vir sommige van ons is dit om gerieflik af te tree of ’n stewige erfporsie vir ons kinders te los. Vir ander is dit om ’n nuwe kar te koop of om die eiendomsmark te betree.

Dié gelddrome is nie moontlik sonder om te beplan en bespaar nie.

In dié episode deel Jeanette haar vier wenwenke oor hoe jy vandag doeltreffend daaraan kan begin werk om jou groot gelddroom ’n werklikheid te maak:

Nou vs. later

Jeanette raai sterk aan ’n mens begin deur te onderskei tussen jou korttermyndoelwitte (om ’n nuwe meubelstuk te koop of met vakansie te gaan) en langtermyndoelwitte (om ’n universiteitsfonds vir jou kind te skep of vir jou aftrede te spaar).

“Momentum se navorsing het getoon dat net 6% van Suid-Afrikaners vandag kan bekostig om af te tree en die leefstyl te behou wat hulle gehad het terwyl hulle nog ’n salaris verdien het,” deel Jeanette.

“Wanneer jy daaraan dink besef jy dit is waarskynlik die belangrikste doelwit waarvoor jy vandag moet begin beplan.” 

Kry ’n noodfonds

“Die lewe gebeur met ’n mens. Jy kan nie daarvoor beplan nie,” sê Jeanette. Die statistieke getuig hiervan: ’n Studie deur Momentum en Unisa het gevind 60% van Suid-Afrikaners kan nie ’n noodgeval van R20 000 bekostig nie.

Jeanette beveel aan jy skep ’n noodfonds van drie maande se salaris, verkieslik in ’n bankrekening waar jy maklik toegang tot dit sal hê indien jy dit dringend nodig het.

Sê ‘nee’ vir daardie wegneemkoffie

“Klein opofferings kan ’n groot verskil maak oor die langtermyn,” sê Jeanette. Dink so daaraan: Daardie wegneemkoffie van R20 wat jy so graag elke dag by die werk koop, jaag R100 per week uit jou sak.

Aan die einde van die maand het jy dus R400 aan wegneemkoffie bestee. Stel jou voor as jy daardie geld in ’n trust met rente belê het . . .  

Begin nou

Om te spaar, sê Jeanette, is soos om ’n boom te plant.

“Die beste tyd om ’n boom te plant is 10 jaar gelede. Die naasbeste tyd is vandag.”

Saamgestelde rente, wat Jeanette “die agtste wonder van die wêreld” noem, kan byvoorbeeld ’n taamlik beskeie bedrag geld (soos die waarde van daardie wegneemkoffie) oor ’n tydperk van 40 jaar met ’n reusehoeveelheid laat groei.

Wie is Jeanette Marais?

Ná 28 jaar in die finansiëledienstebedryf is Jeanette Marais, ’n gerekende beleggingskenner, in Maart verlede jaar as die adjunk- uitvoerende hoof van MMI Holdings Bpk. aangestel. Dit is dieselfde maatskappy waar haar loopbaan begin het.

Jeanette het op 'n plaas in die Vrystaat grootgeword en het as student ’n B.Sc.-graad in wiskunde en statistiek aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf en later ook ’n M.B.A. aan die gesogte IMD-sakeskool in Switserland.

Haar loopbaan in die finansiële sektor het in 1990 begin by Momentum, waar sy bemarking en verkope behartig het.

Ná byna nege jaar het sy die maatskappy verlaat, waarna sy onder meer poste by PSG, Stanlib, Old Mutual en Allan Gray beklee het.

  • Nuwe episodes van Geldhelde word Dinsdae om 20:30 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai, met heruitsendings op Woensdae om 08:30 en Sondae om 19:30. In samewerking met Momentum.