In die jongste aflewering van VIA (DStv-kanaal 147) se geselsprogram Minki kom kuier Marlene le Roux, die hoof van die Kunstekaap, en die Survivor-deelnemer Annalize Sainsbury by Minki van der Westhuizen in die ateljee.

Dié spysenier van Kaapstad is ingebring as die verrassingsgas om Marlene te bederf met ’n dankie-sê-ete om haar veggees te vereer.

“Een maal per jaar doen ek iets vir myself,” deel Annalize, “Of dit nou vakansies is, of ek push myself om iets te doen wat nie die kinders, man en werk behels nie, want ek dink ons vroue vergeet waar ons in die lewe inpas.”

Annalize het op Minki vertel iets in haar het “ge-click” toe sy die TV-advertensie vir Survivor SA sien.

“Ek het nog nooit gekamp nie. Ek is nie ’n outdoor girl nie. Maar iets het vir my gesê dis ’n kop-ding en ek kan dit doen,” voeg sy by.

“En toe skryf ek in met [die foto van] die goue bikini!”

Die oomblik wat Annalize uitgevind het sy is gekies om aan Survivor SA deel te neem, moes sy vinnig die reeks begin kyk omdat sy nog nie ’n enkele episode van die supergewilde werklikheidsprogram gekyk het nie.

“En toe, hoe meer ek kyk, hoe meer dink ek, ‘O, gaats! Wat het ek myself nou voor ingelaat?’ Maar anyway, drie weke later was ek op daai vliegtuig,” skerts sy.

Annalize was ’n formidabele deelnemer op Survivor SA en het tot die topdrie deurgedring.

Sy vertel in dié videogreep vir Minki hoe sy dit reggekry het om so ver in die kompetisie te vorder.


  • Nuwe episodes van Minki word Woensdae om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai met heruitsendings op Saterdae om 18:30. Minki word geborg deur Incanda-meubels en Bacher & Co.