Dis haar senuwees wat haar ondergekry het, bieg Tatum in ’n onderhoud met Huisgenoot. 

Ná sy die reeks verlaat het was sy vir aande aaneen hartseer oor die oomblik toe sy op die verhoog gevra is om raad aan die ander deelnemers in die kompetisie te gee – want dís die oomblik toe sy vir die eerste keer nie na haarself geluister het nie.

Tatum se raad was eenvoudig, sy pas dit immers al jare self toe: Gee jou álles op die verhoog. 

“My hart is bitter seer, maar ek weet ek het nie alles op daardie verhoog gegee nie,” vertel sy.

Dis haar liedjiekeuse, die eerste liedjie met ’n vinniger tempo wat sy op die reeks aangepak het, wat haar laat twyfel het.

“Ek weet ek kon beter doen, maar ek het toegelaat dat die senuwees na my kop toe gaan. Ek was van die begin af skrikkerig vir die liedjie, maar wanneer jy op die verhoog gaan, is jy veronderstel om alle vrese agter te laat. Ek het nie – en die beoordelaars het dit vinnig agtergekom,” sê sy.

Tog het sy vrede dat haar musiekdrome nie ’n stil dood gaan sterf nie.

Tatum, wat tans besig is met haar matriekeksamen aan die Hoërskool Zwartkop in Pretoria, sê sy vertrou in die Here vir ’n groot geleentheid in die komende maande – een wat al haar musiekdrome gaan bewaarheid.

“Alles gebeur vir ’n rede, ek glo dit met my hele hart. Ek weet die Here beplan vir my groot dinge – en as die nie Die Kontrak is nie, is dit sekerlik iets anders wat my ook gaan toelaat om aan te hou sing. Dis tog my passie; ’n Godgegewe geskenk. Daar is nie ’n manier dat my stem stil sal raak nie.”

Haar deelname aan Die Kontrak het haar baie oor die musiekbedryf geleer, maar ook oor haarself, sê Tatum.

“Ek kyk nou anders na die lewe as voorheen. Dis moeilik om te beskryf, maar ek weet wie ek is. Ek weet dis belangrik om soms uit jou gemaksone te ontsnap, maar dis ook belangrik om eg te bly aan wie jy as mens is. Dis iets wat ek vir altyd saam met my gaan dra.”

Sy sê Tarryn Lamb, haar mentor, het ’n onbeskryflik invloed op haar lewe gehad.

“Dit klink na ’n cliché, maar sy het my nie net as kunstenaar verander nie, maar ook as mens. Sy is ’n wonderlike mentor en ’n ongelooflike mens – en dit was net een groot voorreg om saam met haar te werk.”

In die komende maande moet sy vir eers vergeet van die roem en glorie van die verhoog, terg Tatum, en eers deur haar matriekjaar kom.

Maar oor een ding is sy seker: Sy streef na ’n loopbaan as gospelsanger. 

View this post on Instagram

Preview!! Kraal kunstefees vannaand??????????.

A post shared by Tatum Strydom (@tatum_strydom) on

  • Nuwe episodes van Die Kontrak word elke Woensdag om 20:00 op VIA (DStv kanaal 147) uitgesaai met heruitsendings op Sondae om 18:00.
  • Die JOOX-app is die amptelike musiekstroomvennoot van Die Kontrak.