Minder mense weet egter dat hy ná sy tyd op dié gewilde kykNET-sepie ’n heelwat ander rol vertolk het: dié van fopdosser in die musiekspel Hedwig and the Angry Inch.

10 minute call. #hedwigct #gate69 #haitai

A post shared by Paul du Toit (@paulie_du_toit) on

En nou is Paul ook die aanbieder van ’n splinternuwe kompetisieprogram, Kom Ons Kamp, wat Vrydag 13 April op die Afrikaanse leefstylkanaal VIA (DStv-kanaal 147) begin. Hier vertel hy meer van sy nuwe rol op die kassie.

Is jy mal oor kampeer? 

Nee, maar ek het al gekampeer. Ek geniet dit om te gaan kampeer, maar ek neem dit nie so ernstig op soos die meeste van die deelnemers nie. Hierdie program stel jou aan geharde kampeerders voor. 
 
Wat vind jy uitdagend van die kampeerproses? 

Om kontaklense in en uit te haal en skoon te hou in ’n vreemde gebied met min beligting. Donkerte met ’n flits en vuil vingers werk nie!

Verkies jy sand, grond of gras onder jou voete wanneer jy kampeer?

Sand. Ek is ’n beach babe. Ek is mal oor die see. By die see is waar alles vir ’n mens begin sin maak. Dis my happy plek.
 
Waar is jou gunstelingkampeerplek?

Mdumbi in die Oos-Kaap. Hierdie bestemming het pragtige strande en is ideaal vir mense wat die besige lewe wil agterlaat.

Die hele opset word beheer en bestuur deur die plaaslike mense. Hulle verskaf alles en maak die kos.

Die plaaslike drankwinkel is ’n hut en word ook deur die plaaslike mense bedryf.

Daar is dus geen eksterne inmenging nie. Elke mens werk vir homself en stimuleer so die plaaslike ekonomie.

Dit is ’n lieflike bestemming vir branderplankry.

Jy is ook omring deur pragtige riviere. Jy kan jou kampeerplek nalaat en by enige rivier opvaar.

Dis net jy, jou kanoe en moeder natuur.

Die beste moontlike manier om dit te beskryf is dat elke besienswaardigheid soos ’n screensaver lyk. 
 
Watter deel van die produksie was vir jou indrukwekkend? 

Wat ek nou eers besef, is hoe ernstig die deelnemers die kompetisie opneem.

Daar was trane, humor, sports en baie grappies. Dis eintlik maar ’n groot fees. Dit was vir my lekker om te sien hoe die drie spanne se deelnemers groot vriende raak, maar steeds ernstig bly.
 
Gaan jy wenke kan gee wanneer ons kampeerders begin vasbrand? 

Ek mag hulle nie help nie. Onpartydig. Almal ken hulle storie; ek leer eintlik by hulle.

Wat is jou gunsteling-kampeerherinnering?

Ons sit in die Okavango-delta, Moonlight Bay, letterlik in die middel van nêrens.

Daar was geen teken van die beskawing nie, net die natuur. Ek en ’n paar pelle het daar gebly, op ons bote geklim en in hierdie Moonlight Bay gaan kampeer.

Dit het skielik begin reën. ’n Ordentlike tropiese reënstorm.Ons besluit toe om musiek te begin maak.

Ons het lekker saam onder ’n waterbelaaide seil gesing. Skielik hoor ons toe ’n diep, basstem.

Dit het vir ons sowat tien minute geneem om te besef dat nie een van ons vir die geluid se oorsprong verantwoordelik was nie.

Toe ons omkyk was daar ’n enorme seekoei wat ons musiek observeer het.

Hy was sowat 10 m van ons af. Ons hou toe op met musiek maak en word toe stil.

Ons stilte het sy belangstelling geblus en hy het besluit om ons te verlaat. Ons het rustig die aand verder geniet en nooit weer ons seekoeivriend gewaar nie. 

Noem ’n paar oulike toertjies wat die deelnemers toegepas het om hul kampeerproses te vergemaklik.

Gebruik Doritos as vuuraanstekers as jy die ware jakob vergeet het.

Dit is altyd oulik wanneer mense ander maniere kry om kampeertoerusting te gebruik voor dit weggegooi word.

Probeer hulpmiddels soos bottels twee keer benut.

Onthou ook net asseblief om alle skermpies by die huis te los. Bring jou kamera en vorm nuwe herinnerings om die kampvuur.

  • Kom Ons Kamp begin amptelik op 13 April 2018 op VIA, en nuwe episodes word Vrydae om 17:30 uitgesaai met heruitsendings op Sondae om 20:00. Kom Ons Kamp is met trots geborg deur Conqueror.