Huisgenoot is in Julie 2012 saam met die klein vegtertjie en haar gesin na ’n rehabilitasiekliniek waar sy weer sou leer om kind te wees.

Huisgenoot, 19 Julie 2012

Sy lyk broos, byna uitgelewer, hier in die groot hospitaalbed, omring deur fotograwe wat die een flits ná die ander skerp in haar kamer laat afgaan.

Maar daardie blou engel-ogies waarvan ma Anicè altyd praat, kyk verby die bedrywigheid hier om haar. Hulle bly vasgenael op die verpleër wat haar met haar laaste ete in die Garden City-kliniek in Johannesburg bederf met een van haar gunsteling-lekkertes: jogurt.

Pienk jogurt; die kleur wat al sinoniem geword het met Pippie Kruger, die kleuter wat ’n land weer in wonderwerke laat glo het.

Dr. Ridwan Mia, die plastiese chirurg wat ’n baanbreker-veloperasie op ’n erg gebrande Pippie gedoen het, kom stil-stil ingestap. Om sy nek is sy Pippie-das: die pienk-en-swarte wat hy op spesiale geleenthede vir sy wonderwerk-pasiënt dra.

Dr. Ridwan Mia sal steeds Pippie se verbande twee keer per week ruil. Foto: Luba Lesolle.

Vandag, haar 185ste dag in die hospitaal, begin ’n nuwe reis vir die meisietjie wat aanvanklik geen kans op oorlewing gegun is nadat sy op Oujaarsaand derdegraadse brandwonde oor 80 persent van haar lyf opgedoen het nie.

Dit is tyd om te gaan. Pippie word op haar hospitaalbed uitgestoot. Verpleegsters, dokters, kelners, skoonmakers en pasiënte vorm ’n erewag om hul gunsteling-pasiënt te groet. Met groot oë bekyk sy die gedoente om haar terwyl hulle die hele pad tot by die ambulans hande klap, wuif en “tatta, Pippie” roep.

’n Skare drom saam om die ambulans waarin Pippie versigtig gelaai word. Trane word afgevee oor die wonderkind wat enkele ure ná die ongeluk net ’n 10 persentkans op oorlewing gegun is. Dan loei die sirenes en sy is weg.

Net 2 km verder hou die ambulans voor die rehabilitasiekliniek in Auckland Park stil. ’n Paramedikus stoot haar van die ambulans na die Blessing-saal. Dié pediatriese saal sal minstens vier maande haar tuiste wees.

Die hoof van die sentrum wag haar in, darem saam met ’n paar bekendes, soos haar fisioterapeut. Sy word versigtig oorgetel na haar bed in die nuwe kamer met sy uitsig op die kleurryke terapiekamer langsaan.

Foto: Luba Lesolle.

Dis skof twee vir die meisietjie wat Suid-Afrika se verbeelding aangegryp het. Hier begin haar lang pad na ’n nuwe lewe. Hier sal Pippie weer leer hoe om ’n kind te wees.

Soos pa Erwin netnou gesê het: “Mense soek hoop en ’n gelukkige einde. Dis wat Pippie hulle gee. Hoop.”

‘Hierdie kamer kort serious pienk,” sê Anicè (27) terwyl Erwin (39) die een krat met speelgoed ná die ander uit die motor dra. Die pienk Barbie-deken word dadelik oor die kliniese wit beddegoed gegooi.

“Dit was heeltyd by haar in die hospitaal. My ma het dit vir my gemaak toe ek ses was. Wanneer ek siek was, het ek geglo ek sal gesond word wanneer dit by my is,” vertel sy.

Barnie kry ’n eresitplek langs Pippie; ’n wit teddiebeer met haar naam daarop is onder haar arm en ’n bruin teddiebeer by haar voete. Toe Erwin nog ’n krat speelgoed neersit, vertel hy: “Ek het al vyf bakkievragte teddiebere huis toe gery.”

’n Paramedikus kom ingestap met Pippie se spesiale matras wat help teen bedsere, en die boeke, doeke, kussings en Aromat, haar gunsteling-geurmiddel, word uitgepak. Te midde van die geskarrel om haar lê die fyn dogtertjie gelate op haar bedjie en volg haar ma se beweging met haar helderblou oë. Elke af en toe kom ’n kermgeluidjie uit haar keel en dan vryf Anicè geduldig daar waar dit jeuk.

In die hospitaal was Anicè byna soos een van die personeellede, maar hier by die rehabilitasiekliniek besef sy sy moet terugstaan. “In die hospitaal het sy net gekerm, dan het iemand haar gehelp. Hier moet sy leer om alles weer vir haarself te doen. En ek kan nie met alles by wees nie. Dis al bewys dat, wanneer ma’s by is, kinders meer klaerig en huilerig is.”

Die gesin van Lephalale was platgeslaan toe ’n bottel vuuraansteekjel tydens ’n braai in Erwin se hande ontplof en sy hande en sy dogter se lyf brand. Maar sedertdien is hulle oorweldig deur welwillendheid.

“Mense het al soveel geld in ons eie rekening betaal dat ons nog nie nodig gehad het om aan die Pippie Se Gesiggie-fonds te raak nie. Ons gaan dit nou gebruik vir ander brandslagoffers en vir Pippie vorentoe.

“Op Pippie se verjaardag het ’n anonieme skenker R50 000 inbetaal. Mense is ongelooflik wonderlik.”

Binne die eerste drie dae stel Pippie se rehabilitasiespan ’n intensiewe herstelprogram vir haar saam − fisio-, arbeids-, spel- en later ook hidroterapie daagliks, asook sielkundige behandeling en spraakterapie.

Pippie was 20 weke lank aan ’n ventilator gekoppel, met ’n asemhalingspyp in haar lugpyp. Die pyp het ’n letsel in haar keel gelaat waar slym vassit; dit is die oorsaak van die roggelgeluidjies wat soms uit haar keel kom.

Sy dra steeds verbande en pleisters om die gekloonde vel – die glinsterende, bloedrooi dele op haar liggaam – teen infeksie te beskerm en perfek te laat genees. “Sy is in isolasie en haar kamer en omgewing moet sover moontlik steriel wees. As sy infeksie opdoen, kan sy steeds die vel verwerp,” verduidelik Anicè.

Pippie se herstel kan nog jare duur. “Wanneer jy met pasiënte werk wat so erg gebrand is, is dit baie moeilik om te voorspel hoe lank dit kan neem,” sê ’n fisioterapeut van die span wat Pippie behandel.

Die span se groot mikpunt is nou om die meisietjie so onafhanklik moontlik te kry. “Ons wil haar op so ’n punt kry dat sy met haar ouers en maats kan kommunikeer en uiteindelik weer by die huis kan wees en met haar omgewing geïntegreer word.”

Pippie moet onder meer weer beweging in haar gewrigte kry. Wanneer spiere en vel nie beweeg en gestrek word nie, trek dit ineen en spiere verkort. Dit moet nou teengewerk word. “Sy het beperkte beweging in haar gewrigte en dit sal haar vermoë beïnvloed om haarself te voer, te speel of haarself aan te trek,” verduidelik die fisioterapeut.

Om meer beweging te kry word ’n strek-, spalk- en posisioneringsprogram saam uitgevoer. Pippie sal met spalke aan vir sekere tye op haar maag, rug en sy moet wees. Sy sal met die spalke slaap, en soggens seweuur sal dit afgehaal word. Ná ’n uur sal dit weer vir twee uur aangesit word. So sal dit afwisselend voortduur tot saans agtuur, wanneer sy weer daarmee aan gaan slaap.

Ontwikkelingsoefeninge sal in die terapie gebruik word. As Pippie eendag kan stap, sou dit nie nodig gewees het dat sy eers hoef te kruip nie. Sy kan nie staan soos haar voete nou is nie; die spiere moet gerek en spesiale gipsvorms gaan aan haar voete gesit word.

“As alles goed gaan, hoop ons om haar 16 weke hier te hê,” vertel die fisioterapeut. “Maar dis nog lank nie die einde van haar rehabilitasieprogram nie.”

Sodra Pippie se wonde genees het, sal ’n spesiale pak wat haar hele lyf bedek, vir haar gemaak word. Sy sal dit minstens twee jaar moet dra.

“Dis hoog gespesialiseerde tegnologie. Die pak sal gemaak word van ’n spesiale materiaal – dis ’n soort lycra – wat permanent druk op die vel plaas en die helingsproses sal versnel. Dit sal ook help dat die vel normaal rek en groei en voorkom dat die letsels groot en dik raak, soos dikwels met brandpasiënte gebeur.”

Die span waarsku Pippie se genesingsproses kan baie jare duur. Vir eers kry sy twee keer per dag fisio- en arbeidsterapie en een keer per dag spraakterapie. “Kinders reageer baie goed op terapie in die swembad, maar dit sal eers gebeur wanneer haar wonde volkome genees het.”

Ons gaan kuier weer vir Pippie in die kliniek. Sy is al vyf dae daar en het goed op die terapie gereageer.

“Sy is al meer ontspanne en reageer op die speelgoed wat ons vir haar bring,” vertel haar fisioterapeut weer. “Ons spalk ook byvoorbeeld haar Barney se hand en verduidelik so vir haar wat met haar gebeur. Vrydag het ons ’n paar laggies uit haar gekry; dit was wonderlik om te sien.”

Maar die strekkery is maar pynlik, en sy kry medikasie wat die pyn verlig.

Foto: Dino Codevilla.

Binne ses weke sal die span weet of Pippie weer sal kan stap. Hulle wil hulle nie uitlaat oor die moontlikheid nie, want net die tyd sal leer.

Pippie is steeds in isolasie omdat daar nog ’n hoë risiko vir infeksie is. Sodra dit verby is, sal sy in die terapiekamer begin speel en tyd op die swaai begin deurbring.

Haar dieet word fyn dopgehou en ’n dieetkundige was op haar eerste dag al langs haar bed. “Sy het voor die ongeluk 14,7 kg geweeg en byna ses maande later 11,3 kg. Maar vandat sy weer vaste kos eet, eet sy soos ’n ruspe,” vertel Anicè.

Toe haar eerste ete opdaag, is dit ook so: Sy lê weg aan die herderspastei, patat, pampoen en gestoomde appels. En sy sit sommer blitsvinnig gewig aan. “Toe ons haar ná vyf dae weeg, het sy reeds 12,4 kg geweeg.”

Waar sy in die hospitaal onder verdowing gebad is, bad sy nou gewoonweg. Dis ’n geweldige aanpassing. Toe Ridwan by die kliniekkamer instap voor hy vir ’n paar dae in New York moet wees, flikker die kleinding se ogies opgewonde. Maar dit verander gou in ’n gehuil toe haar verbande geruil en sy bad toe gedra word.

Die dokter met die groot hart het spesiaal Pippie se pleister en verbande kom ruil en die personeel kom wys hoe om haar te bad.

“Toemaar, Pippie, toemaar,” troos haar held. Maar die bad en baie gesigte om haar is vreemd en sy is ontroosbaar. Die spalke moet weer aangesit word. ’n Span verpleegsters en fisio- en arbeidsterapeute drom om die kleuter se bed saam.

Bo-oor die pleisters wat haar wonde bedek, word ’n sponslaag geplak en met nog verbande toegedraai. Haar armpies en hande word ook gespalk en die gewig van die spons dwing dit oop.

“Haar lyf het van die pyn ineengetrek. Nou moet haar brein en lyf weer leer om in sy normale posisie te kom,” verduidelik Anicè terwyl sy haar dogter vashou en vertroos.

Baie trane gaan nog vloei. Voor die ongeluk het sy soos ’n grammofoontjie gepraat, maar toe die pyp so lank in haar lugweg was, het sy verleer om te praat. “Dit is wat ek die meeste mis. Ons was besig om haar te leer Engels praat. Ons sou saam in die bad sit en sy sou nie ophou praat en babbel nie. Sy sou na ’n prentjie in ’n boek kyk en vir my in detail van alles op die blad vertel.”

Terwyl Anicè haar op haar skoot sus, dwaal Pippie se ogies na die geel-en-pienk skoenlapper wat Ridwan haar gegee het. Dié het saam getrek van die hospitaal na haar nuwe kamer.

Anicè sus, en vertel. Van Survivor, die perd wat Pippie altyd wortels gevoer het. En dat Lyla die bulterriër by die huis wag op klein Pips se terugkeer. “Onthou jy vir Lyla? En hoe jy in haar hok gekruip en Aromat oor julle albei gegooi het?”

In haar arms luister die dogtertjie aandagtig, en af en toe trek haar mondjie skeef soos sy probeer glimlag wanneer sy daardie bekende stories hoor.

Die pad vorentoe met rekonstruksie

Anicè Kruger is vasbeslote om haar kind ’n kans op ’n normale lewe en voorkoms te gee, maar sy sal net so ver gaan soos Pippie haar toelaat. “Ek sal aanhou tot sy perfek is – of tot sy sê dit is nou genoeg. Ek sal haar nie dwing om iets te doen wat sy nie wil doen nie.”

Dit is nog onduidelik wanneer die rekonstruktiewe chirurgie sal begin. Vir eers wil haar ouers en mediese span die driejarige die geleentheid gun om haar rehabilitasieprogram te voltooi en haar ’n blaaskans van die operasiesaal te gee. Want tot sy 18 is, wag daar nog baie operasies op Pippie.

“Sy sal ons lei soos sy ons nou ook met haar herstelpad lei, maar namate sy groei, sal sy elke jaar geopereer moet word,” vertel Anicè.

Tot dusver blyk die volgende nodig te wees:

Aanvanklik het dit gelyk of sy haaroorplantings moet kry, maar die kans is nou skraal. Haar wonde het sodanig genees dat daar dalk net op twee klein kolletjies veloorplantings met hare gedoen moet word. “Behalwe dat sy nou ’n goeie haarsny kort, is daar niks fout met haar haargroei nie,” sê Anicè. Waar sy gebrand en dit genees het, groei nuwe hare reeds uit.

Die haartjies op Pippie se agterkop is goudgeel omdat sy weke gelede in Betadine gebad het, maar fyn lokkies groei klaar weer uit.

Die vlamme het haar oorskulpe beskadig en dit moet herbou word.

Foto: Luba Lesolle.

Die derdegraadse brandwonde oor 80 persent van haar lyfie het haar borsweefsel ingesluit. “Die grootste uitdaging is om haar soos ’n normale meisie te laat lyk en vir haar borste in te plant,” vertel Anicè. Die proses sal begin wanneer sy nege is. Namate sy groei, sal die inplantings en haar borsgrootte by haar lyf en volgens haar ouderdom aangepas word.

Die plekke op haar lyfie wat rooi en opgehewe is, is brandletsels of kontrakture. Onder haar ken en arms het dit ’n harde, leeragtige en stywe laag gevorm.

Dit sal mettertyd uitgesny word. Namate sy groei, sal daar jaarliks op haar oorgeplante vel fyn snytjies gemaak moet word sodat die vel kan rek en as’t ware saam met haar groei. “Soms groei die vel saam en soms nie. Dit sal ons net sien soos sy groei. Die letsels op haar gesig sal op ’n manier ook ‘sagter’ gemaak word,” sê Anicè.

Haar voetjies buig na binne en het lui geword omdat sy sewe maande laas geloop het. “Haar voetjies word juis vandag in gips gespalk om haar Achilleshiel-spier te rek.” Die gips sal tussen twee en vier weke aanbly.

Haar sweetkliere het wonderbaarlik behoue gebly en sy sweet soos ’n normale kind. Haar naeltjie was weggebrand, maar het weer vanself perfek uitgegroei.

  • Huisgenoot: Ware Lewensdramas word Donderdae om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai en heruitsendings Sondae om 21:00.