Hier is ons eerste onderhoud met Andrea se ouers.

Doodgesteek: My Poppie - deur Karen Eloff (Huisgenoot, 19 Mei 2011)


In haar kamer in haar ouerhuis staan ’n kniehoogte-porseleinpop met helderblou oë, blonde krulhare en balletklere aan.

“Ek het hierdie pop vir Andrea gemaak,” sê Annatjie Venter.

“Want dis hoe sy is . . . was . . . my porseleinpoppie.” Dan sterf haar stem weg.

Dis skaars 24 uur nadat haar en haar man, Dries, se jongste dogter, Andrea Venter (25), wreed vermoor is. Haar ouers se ergste vrese is bewaarheid nadat sy en ook hulle met die dood gedreig is.

'Nooit sal ek my kind weer kan vashou nie,' is Annatjie se hartbrekende werklikheid waarmee sy moet saamleef.

’n Beskermingsbevel wat sy teen ’n gewese kêrel gekry en ’n klag wat haar pa later teen hom by die polisie ingedien het, kon nie haar lewe red nie.

“Nou sal ek nooit weer my kind kan vashou nie,” sê Annatjie tussen die trane deur.

Byna 26 jaar gelede was die fyn, blonde Andrea Rustenburg  se eerste proefbuisbaba. Hulle het 13 jaar lank gewag vir hul jongste kind. Nou is sy weg.

In die vroeë oggendure van Werkersdag het Andrea vreesbevange en gillend gehardloop na die hekwag van die veiligheidskompleks waar sy twee maande tevore ingetrek het. Haar hare en gesig was vol bloed.

Haar ekskêrel, Gerhard Jansen van Vuuren (30), het haar vermoedelik in haar woonstel met ’n vuisyster in die gesig geslaan.

Ons het gedink hy’s ’n goeie seun. Hy’t goeie maniere gehad.

Daarna het hy agter haar aangestorm, het ooggetuies later vertel. En toe, net daar by die hek ten aanskoue van die wag en omstanders, het hy haar na bewering doodgesteek.

Annatjie en Dries is geskok, maar hulle is nie heeltemal verbaas oor die moord nie.

Hul moeilikheid met Gerhard kom al ’n lang pad. Hy het selfs al gedreig om hulle ook dood te maak, vertel hulle.

Tog het alles onskuldig begin.

“Ons het gedink hy’s ’n goeie seun. Hy’t goeie maniere gehad,” vertel Dries.

Andrea het hom ses jaar tevore by ’n vriend se troue ontmoet. Sy was toe ’n tweedejaar-B.Com.-student aan die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-universiteit.

Maar mettertyd het Gerhard so besitlik oor Andrea geraak dat sy nie eens sonder hom mag winkels toe gaan nie. Dit het ’n patroon geword: Hy het woedeuitbarstings gekry en dan daarna mooi verskoning gevra.

Een aand in 2008 het Gerhard in ’n woedeuitbarsting ’n glastafelblad gebreek en een van die skerwe teen Andrea se ribbes gedruk, het sy haar ouers vertel.

“Vanaand steek ek jou dood,” het hy glo gesê.

Andrea het hom gelos en ’n beskermingsbevel gekry om hom te verbied om binne 50 m van haar te kom. Hy het haar en haar gesin daarna per telefoon en SMS begin dreig.

“Hy’t selfs oorkant ons huis in sy motor gaan sit om ons dop te hou,” sê Annatjie.

Andrea was bang hy sou haar ouers vermoor as sy polisie toe gaan. Daarby het dit alles haar selfbeeld geknou. Die eens borrelende vrou met die sterk persoonlikheid het byna onherkenbaar geword.

Sy het Gerhard weer teruggevat – en toe slaan hy eendag haar lip stukkend en kneus haar binneboud en oog.

Sy het hom weer gelos, maar toe haar ouers sien hoe erg sy beseer is, kon hulle dit nie meer verduur nie en Dries het ’n klag by die polisie ingedien. Hulle het Gerhard gebel en hom gewaarsku, maar niks het daarvan gekom nie.

“Dit was soos petrol op die vuur,” sê Dries.

Die dreigemente het weer begin. Einde verlede jaar het Andrea as geoktrooieerde rekenmeester gekwalifiseer en aan die begin van vanjaar het sy in Johannesburg gaan werk.

Gerhard, ’n rekenaarprogrammeerder, het intussen ook in Johannesburg werk gekry. Hy het 33 finansiële firmas gebel voor hy uitgevind het waar sy werk. Teen hierdie tyd het Andrea hom gevrees. Sy het vir haar ma gesê niemand besef hoe gevaarlik Gerhard is nie.

’n Week voor haar dood is sy polisie toe om ’n klag teen hom in te dien, maar sy moes so lank wag om gehelp te word dat sy moed opgegee het, het sy later vir haar ma vertel.

Op haar sterfdag het hy haar vermoedelik tot by haar huis agtervolg. Andrea is op die toneel dood en Gerhard het daarna sy eie keel probeer afsny. Hy is steeds onder polisiebewaking in die hospitaal.

NOG ’N VROU VERMOOR VOOR HAAR BABA

Liesel Badenhorst (24) se naakte lyk is op haar verjaardag in ’n bad vol water en bloed gevind. Sy het die Vrydagaand gaan bad om gereed te maak vir ’n kuier saam met haar familie.

Haar ekskêrel Elias Benadito (48) sou hul babadogtertjie, Abigail (11 maande), kom oppas. Liesel en Elias is ’n maand tevore uitmekaar omdat Liesel moeg was daarvoor dat hy gereeld onverklaarbaar “verdwyn”.

Hy was altyd jaloers en het haar gereeld beskuldig van verhoudings met ander mans.

Liesel het toe nooit by haar familie opgedaag nie.

Liesel Badenhorst (24) se ekskêrel Elias Benadito (48) het haar voor hul 11 maande oue dogtertjie vermoor.

Die Saterdagoggend om 04:20 het Elias haar swaer Pieter Bester (35) gebel en gesê: “Weet jy Liesel is dood? Ek het haar doodgemaak. Sy moes die waarheid vertel het.”

Toe Pieter by Liesel se woonstel aankom, was die deure oop en die ligte af. Dit was doodstil.

In die badkamer het hy Liesel se lyk gekry. Haar skedel was oopgebreek. Langs die bad het klein Abigail, wat pas begin loop het, haar ma se hand staan en vashou.

“Sy het nie gehuil nie, net voor haar uitgestaar,” vertel Pieter.

Liesel het gereeld by haar suster, Theresa, haar broer, Deniel, en haar ma, Berdene, gekuier, maar Elias het nooit daarvan gehou nie. Hy het dikwels lelik en neerhalend met Liesel gepraat, maar haar nie geslaan sover hulle weet nie.

Dit het vir hom gegaan daaroor dat hy hierdie ou blaar is met ’n jong bokkie.

‘‘Maar hy het vir weke sommer net verdwyn en dan teruggekom sonder ’n verduideliking,’’ vertel Theresa (31).

Die twee het mekaar ontmoet toe Liesel in Elias se drankwinkel gewerk het. Sy het later op sy aandrang ophou werk.

Hy was versot op sy babadogtertjie. Nadat hy uitgetrek het uit die woonstel waar Liesel en haar ander twee kinders, Marelize (8) en Kayla (5), gewoon het, het hy elke dag vir haar gaan kuier.

Maar hy was obsessief oor Liesel.

‘‘Dit het vir hom gegaan daaroor dat hy hierdie ou blaar is met ’n jong bokkie, nie oor liefde nie,’’ meen Pieter.

Op Moedersdag is Elias se lyk uit die Nigel-dam gehaal nadat sy motor vroeër in die week verlate daar gevind is.

Met Huisgenoot se besoek het klein Abigail soos enige woelige eenjarige rondgeloop, gelag en alles waarop sy haar handjies kan lê in haar mond gedruk, maar snags skree sy in haar slaap, vertel Theresa. Sy was nog altyd baie ma-vas en sou nie sommer haar ma se hand los nie.

“Die twee ouer dogtertjies het geskree van die huil op hul ma se begrafnis – dit was die ergste begrafnis wat ek al ooit beleef het,” sê Theresa.
WAT OM TE DOEN AS JY AGTERVOLG WORD
  • Enige mens wat so obsessief is dat hulle iemand agtervolg, moet as potensieel gevaarlik beskou word, sê Lisa Vetten, direkteur van die Tshwaranang Legal Advocacy Centre.
  • As iemand jou gereeld agtervolg, telefonies teister of dreig, moet jy dadelik ’n beskermingsbevel teen die mens verkry.
  • Sy meen ál meer vroue word deesdae die slagoffers van agtervolgers.
  • “Vroue moet dreigemente ernstig opneem,” sê Lisa. “Dit word te dikwels oorgesien of vergewe.”
  • As iemand die bepalings van ’n beskermingsbevel oortree, moet dit dadelik by die polisie aangemeld word. En as die polisie nie help nie, praat met die stasiebevelvoerder of kla by die Onafhanklike Klagtedirektoraat.
  • “Dis absoluut verkeerd dat die polisie ’n oortreder net bel om hom te waarsku. Ons sien gereeld gevalle waar die polisie nie ’n beskermingsbevel ernstig opneem nie en dat die gevolge daarvan verkragting of moord is,” vertel Lisa.
  • Stel ook jou werkgewer in kennis van die beskermingsbevel en gee vir hulle en die veiligheidswagte by jou werk en woonplek ’n foto van die mens wat jou dreig. Verduidelik dat hy nie op die perseel toegelaat mag word nie.
  • Maak seker dat jou adres nie op die beskermingsbevel verskyn nie. Verander jou telefoonnommer en vra jou familie en vriende om dit nie vir die agtervolger te gee nie. Vra hulle ook om geen oproepe van die man te beantwoord nie.
  • As jy met hom móét praat, doen dit telefonies.
  • ‘‘Dit is baie moeilik om jou voet neer te sit met so ’n man, want hulle kom gewoonlik met mooi verskonings en hartverskeurende pleidooie, maar dis alles manipulasie. Sê nee vir enige kontak,’’ sê Lisa.
  • Volgens navorsing wat in 1999 gedoen is, word vier vroue in Suid-Afrika per dag deur hul man of kêrel vermoor. Die sneller vir moord op intieme maats is gewoonlik wanneer die jaloerse man (wat sy vrou as sy besitting beskou) se vrou of meisie hom wil verlaat.

POWA (People Opposing Women Abuse) help vroue om ’n beskermingsbevel te kry. Hul e-posadres is info@powa.co.za en hul telefoonnommer is 011-642-4345.

Suid-Afrika se eerste proefbuisbaba

Suid-Afrika se eerste proefbuisbaba is op 29 April 1984 in Tygerberg-hospitaal naby Kaapstad gebore. Dit was Rebekka de Vos se seuntjie, Falcon.

Bron: aevitasfertilityclinic.co.za

  • Huisgenoot: Ware Lewensdrama word Donderdae om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai.
  • Heruitsendings vind Sondae om 21:00 plaas.