Hier is ons eerste onderhoud met haar gesin na die tragedie.

Wat ’n lekker kuier moes wees, het in ’n oogwink in ’n nagmerrie ontaard toe ’n vleisbraaivuur in 2011 die tweejarige Isabella Kruger, oftewel Pippie soos sy nou alombekend is, begin verswelg het.

Huisgenoot, 1 Maart 2012

Sy lê agter ’n glasafskorting. ’n Klein bondeltjie mens toegedraai in wit verbande. Tussen die buise en monitors is die hande van ’n kleuter sigbaar. Rou wange, ’n neus en mond steek tussen die verbande uit.

Isabella Kruger (2) van Lephalale het in ’n fratsongeluk op Oujaarsaand derdegraadse brandwonde oor 80 persent van haar lyf opgedoen. ’n Perfekte regtervoetjie wat bo-op die hospitaaldeken lê, is een van die min dele van haar lyf wat nie deur die vlamme verteer is nie. Twee maande nadat ’n bottel vuuraansteekmiddel tydens ’n braai ontplof en haar getref het, is elke dag steeds vir Isabella ’n stryd om eendag weer heel te wees.

“Dis elke keer ’n risiko om haar onder narkose te sit omdat sy so klein is. Hulle kan haar ook nie teater toe vat nie omdat sy ’n infeksie kan opdoen. Daarom word alles in haar kamer gedoen,” sê haar ma, Anicè (27).

Hulle gaan haar nog 30 tot 40 keer so onder narkose moet plaas om wonde skoon te maak en die verbande te ruil. ’n Sintetiese kollageenlaag moet ook tussen haar vel en spiere ingeplant word sodat haar vel glad kan wees. Dan is daar nog die veloorplantings.

Pippie voor die ongeluk. Foto: Verskaf.

“Daar is vel op haar lyf om vir die oorplantings te gebruik, maar ons wil dit nie gebruik nie, want dit sal haar wondoppervlak groter maak. Net haar een voet, boudjies, die waaie van haar arms en bene en privaat dele het nie gebrand nie. Hulle sal kadawervel moet gebruik.” Anicè laat sak haar kop in haar hande. “My arme kind.”

Sy voeg by: “Ek het met ’n dokter by Harvard in Amerika gepraat. Hy kan haar stamselle gebruik om haar eie vel te kweek vir die oorplantings. Hy sê die kans dat sy bitter min letsels sal oorhou, is sowat 75 persent. Dis nie nodig om Amerika toe te gaan daarvoor nie. Dit kan hier gedoen word.” Dis nou hul groot hoop vir hul kind . . .

Voor hulle by die kamer in die hoësorgeenheid in die Garden City-kliniek in Johannesburg ingaan, ontsmet Anicè haar eers. Erwin se hande is steeds in verbande. Hulle dra gesigmaskers, want ’n infeksie kan Isabella ’n terugslag gee. Haar hart het twee weke ná die ongeluk gaan staan. Nou die dag het haar niere ingegee en moes sy dialise kry. Sy kry gereeld bloedoortappings en elke vierde dag word haar kamer in ’n teater omskep vir die pynlike wondskoonmakery.

“Hallo, Pippie,” groet haar ouers. In haar hospitaalbed roer die mondjie net-net, maar daar kom nie ’n woord uit nie. Erwin buk oor sy dogter en fluister iets in haar oor.

“Sy is so moedig,” vertel Anicè. “Ná die ongeluk het sy nie een keer gehuil nie. Sy wou net heeltyd weet of pappa se hande seergekry het. Op die 19de dag in die hospitaal het sy vir die eerste keer gehuil toe hulle bloed by haar voetjie trek.”

Erwin verduidelik hoe die vuuraansteekjel in sy hande ontplof en hul lewe omvergewerp het. Anicè sê die Pippie se Gesiggie-fonds gaan later ook vir ander brandslagoffers gebruik word. Foto: Fani Mahuntsi.

Anicè laat Pippie nooit alleen nie. Terwyl sy na haar omsien, sit die oumas hand by met Arno (8 maande). Die ouerpaar kan nou nog nie glo wat ’n gewone vleisbraai hul dogter aangedoen het nie. “Knip jou oë. Dís hoe vinnig dit gebeur het,” sê Erwin.

Hy het soos altyd die vuur gepak en toe ’n jelvuuraansteekmiddel bo-op gegooi. “Ek gebruik die jel al ses jaar lank omdat dit veilig is. Dis goed wat jy in enige ysterwarewinkel kan koop. Dis nie loperig nie; dit bly waar jy dit gooi. Ek het dit presies gebruik soos elke ander keer. Ons verstaan dit nie.”

Hy’t twee vure gemaak, enkele meters uitmekaar. Pippie het so 2 m van een gespeel.

“Die vuur wou nie vat nie. Ek’t ’n ekstra stuk hout gaan haal, nog jel opgegooi en dit in die eerste vuur gegooi. Dit het gevat.” Hy was op pad na die tweede vuur met die byna leë 5 L-bottel. “Ek het nog nie eens die jel op die hout gegooi nie, toe hoor ek dit.”

Daar was ’n gesuis, toe die ontploffing soos ’n geweerskoot. En toe was sy hande en sy dogter se lyf in vlamme. “ ’n Blou, deursigtige vlam. Ek’t nie eens geweet my hande brand nie. Ek’t net vir Pippie sien brand.”

Hy het haar teen sy lyf vasgedruk, maar niks wou die vlamme smoor nie. “As ons die vlamme op een plek dooddruk, het dit op ’n ander plek gebrand.”

Anicè het haar T-hemp gebruik en haar skoonma ’n deurmatjie, maar vergeefs. Eers toe Erwin haar in ’n tafeldoek toedraai en in die gras rol, is die vlamme geblus. “Party dele het steeds gebrand. Ek kon hoor en sien hoe haar blonde haartjies brand,” onthou hy.

“Haar vel het gekook,” voeg Anicè by. “Wanneer ek aan haar gevat het, het ek dit van haar lyf afgetrek.”

Erwin vermoed gas het in die bottel opgebou en ontplof. So moes die laaste bietjie jel op Pippie gespat het. “Dis so vreemd. Haar rok het byvoorbeeld nie gebrand nie, maar toe die dokters dit afknip, het sy derdegraadse brandwonde op haar bors.”

Hul geloof en mense se bemoediging dra hulle. Foto’s wat te grusaam is om te publiseer het op die internet versprei en die land aangegryp. “Toe ek weer hoor, het hulle op Lephalale vir Pippie ’n konsert gereël. Bobby en Karlien van Jaarsveld gaan optree. Al die geld is vir die Pippie se Gesiggiefonds. Ons medies dek als, maar ons moet die duur stamselbehandeling betaal,” sê Anicè.

Die herstelproses gaan lank duur. Pippie kry twee keer per dag fisioterapie en sal ná die veloorplantings tot ’n maand in ’n rehabilitasiekliniek bly. Sy moet weer leer loop en praat. Maar sy’s ’n vegtertjie. En waar daar lewe, geloof en liefde is, is daar hoop.

Is vuurmaak-jel gevaarlik?

“Baie jelprodukte in Suid-Afrika het nie behoorlike waarskuwings en gebruiksaanwysings op hul bottels nie. Ons produk stel dit duidelik dat jel nooit by ’n brandende vuur of vlam gevoeg moet word nie,” sê Adrienne Barrett, die vervaardiger van die jel Greenheat.

Die veiligste is om ’n opgehoopte eetlepel jel op die hout of houtskool te gooi. “Sorg dat daar genoeg ventilasie rondom die hout is. Steek dan die jel versigtig aan die brand. Wanneer die kole vlam gevat het, pak nog hout of houtskool op. Moet nooit, maar nooit, jel op ’n brandende vuur bygooi nie.

Daar is etanol in die produk. Dis hoogs vlambaar en kan ontplof. Die vlam sal ook altyd na die bron toe trek.”

Hoe maak jy ’n veilige vleisbraaivuur?

Moenie ongeduldig raak as ’n vuur nie vinnig genoeg vlam vat nie, waarsku Tristan Jones, ’n vrywillige paramedikus van die organisasie Children of Fire. “Moet ook nooit enige vuuraansteekmiddels soos jel, terpentyn, petrol, verdunners en paraffien opgooi om die vuurmakery te bespoedig nie. Dit kan dan te vinnig opvlam en selfs uit die braaiplek ‘spring’,” voeg Tristan by.

Die veiligste is om vuur te maak met hout of houtskool, sê Jay Kanniappen, die noordelike afdelingshoof van die eThekwini-brandweer-en-nooddiens in Durban.

Hy stel voor: “Gebruik papier of ’n baie dun laag kerswas of vloerwaks om die vuur aan te steek. Pak ’n laag hout, smeer die kerswas of waks op en pak dun takkies hout tussenin. Pak die groter stukke bo en sorg vir goeie ventilasie. Steek dan eers jou vuur aan.”

Vloeibare brandstof is hoogs vlambaar en dit is moeilik om die hoeveelheid wat jy oorgooi, te beheer. Spatsels kom algemeen voor. In die tyd dat jy die vloeistof oorgooi en die vuur aansteek, vorm die verdampte brandstof ’n plofbare mengsel in die lug. Dit kan dus tot ’n ontploffing lei.

“Jel-vuuraansteekmiddels werk op ’n soortgelyke manier as vloeibare brandstof en hou dieselfde gevaar in,” waarsku Jay.

Die vuuraansteekblokkies wat mense ook dikwels gebruik om ’n vuur te begin is veilig en die algemeenste manier om vuur te maak.

  • Huisgenoot: Ware Lewensdramas word Donderdae om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai en heruitsendings Sondae om 21:00.