Hoewel sy baie terugslae beleef het in die brandongeluk, veg sy dapper voort op haar pad na herstel.

Huisgenoot, 30 Julie 2015

Die meisietjie kom vasbeslote aangestap met ’n loopring, die soort toestel wat jy verwag om in die hande van ’n verswakte bejaarde te sien. Dis duidelik elke dapper tree wat sy oor die huis se teëlvloer gee, verg moeite.

Soms wil haar bene meegee, maar sy verloor nie moed nie. ’n Ratel om haar pols kondig aan Pippie Kruger is op pad. Sy sukkel om haar kop orent te hou. Soms buig haar nek agteroor sodat sy ongemaklik na die plafon kyk terwyl sy stap. Maar dan moedig haar ma, Anicè, haar aan: “Tel op jou kop, Fiela Vlooi!”

Wanneer Pippie doen wat haar ma sê, beloon Anicè haar met ’n ingenome uitroep: “Daar’s hy, Mamma!” Dié video, wat haar ma op Facebook gelaai het, wys al is daar vordering, strek die pad na herstel nog lank voor Pippie uit. En nou blyk dit breinskade is ook een van die uitdagings wat dié klein vegter moet oorkom.

Dié meisie wat die land aan die hart gegryp het nadat sy op Oujaarsaand 2011 so vreeslik gebrand het, is duidelik agter kinders van haar ouderdom, sê dr. Ridwan Mia, die plastiese chirurg wat haar lig en hoop was in die donker dae ná die ongeluk. Ridwan het later ook baanbrekerswerk gedoen deur haar vel in Amerika te laat kloon en op haar oor te plant.

Pippie, wat reeds so baie teenspoed deurgemaak het, het ná haar ongeluk glo meer as een hartstilstand gehad. “Daar was tye dat die suurstoftoevoer na haar brein afgesny is. Dit het veroorsaak dat sy funksies verloor het,” sê Ridwan.

Eers ná ’n volledige neurologiese assessering sal ’n mens met sekerheid kan sê wat presies die skade aan Pippie se brein is, sê Ridwan. Maar Pippie en haar ondersteuners kan bly hoop, want ten spyte van die breinskade is daar bemoedigende tekens.

Op ses werk Pippie wel nog hard aan elke tree, maar dit lyk of die uitgebreide rehabilitasie wat sy ondergaan, vrugte afwerp. Die video’s en stories wat Anicè op Facebook deel, vertel ’n verhaal van harde werk, deursettingsvermoë en Pippie se geleidelike herstel.

Sy teken prentjies, kan met ’n bietjie hulp staan en probeer soms selfs sing.

Boonop het sy ’n welige bos hare en op meer as een foto sien jy ’n groot glimlag op haar gesiggie. “So af en toe sit ek en kyk na Pips in totale verwondering oor God se genade,” skryf Anicè op Facebook.

“Sy is nie gefrustreerd nie. Nie ongeduldig nie. Nie geïrriteerd nie. Sy aanvaar alles nes dit is. Sy glo sy is tot alles in staat. Sy wil self als doen. En sy weet sy is perfek. Beste van alles, sy weet sy is Jesus se prinses.”

Mense het opnuut begin wonder hoe dit met Pippie gaan toe sy onlangs weer die nuus haal nadat die sanger Bobby van Jaarsveld op Instagram ’n foto gedeel het van haar wat by hom kuier – boonop met ’n byskrif waarin hy vertel sy is die “sterkste meisie wat ek ken . . . #myhero”.

Isabella Kruger, of Pippie, se verhaal het voorblaaie oorheers nadat sy op 31 Desember 2011 as tweejarige by die gesin se huis op Lephalale (Ellisras) derdegraadse brandwonde oor 80 persent van haar lyf opgedoen het. ’n Bottel vuuraansteker het in haar pa, Erwin, se hande ontplof en die jel het haar lyfie gebrand.

Sy was lank in die hospitaal se waakeenheid voor Ridwan haar vel in ’n baanbrekersoperasie oorgeplant het. Die afgelope jaar was sy algaande minder in die nuus terwyl sy en haar gesin die strawwe rehabilitasieprogram stilweg op hul eie aangepak het.

Volgens Ridwan kry Pippie steeds fisio- en arbeidsterapie, en hoewel ’n terapeut haar by die huis besoek, doen Anicè en ander familielede baie van die rehabilitasie.

“Die behandeling word hoofsaaklik gedoen om haar gewrigte te strek en haar spiere sterk te maak. Sy het ook verstandelike stimulasie nodig. Aan die begin het sy baie spraakterapie nodig gehad, maar dit is nou minder gereeld nodig, want sy kan met haar mond woorde vorm.”

Doktersbesoeke en operasies is nog ’n groot deel van Pippie se lewe: die Krugers besoek Ridwan elke drie tot vier maande. ’n Kleinerige operasie is ook onlangs aan haar hand gedoen sodat dit beter kan beweeg, en Ridwan wil in die volgende paar maande ’n wond so groot soos twee R5-muntstukke agter haar kop laat verwyder. Hy vermoed die wond het gevorm omdat sy soveel maande op haar rug gelê het.

Intussen tel die mense naby aan Pippie haar mylpale die een ná die ander af. So het sy al mense begin herken. Ridwan vertel die laaste keer dat sy hom in sy spreekkamers kom sien het, was sy omtrent verontwaardig toe hy haar in die wagkamer laat wag. Nadat hy haar gegroet het, moes sy eers nog ’n bietjie wag terwyl hy die pasiënt sien wat voor haar daar was. “Eers toe ons klaar was en ek haar kon inbring, het sy bedaar en ophou huil.”

Op sosiale media deel Anicè dikwels stories oor Pippie se vordering met haar ondersteuners. Sy vertel haar dogter gesels deesdae graag. “Die Afrikaans kom so mooi deur in drie- en vierwoordsinne, en sy probeer sing. Dis die mooiste mooi . . . Soos ek tik, smile ek so groot en wil sommer net weer huil. Ai, ek is so blessed om haar te hê. En Arno, my seuntjie, wat sy sussie so mooi oppas, wat enigiets vir haar sal doen en vir haar sal baklei. Want sy is super-Pippie.”

Pippie en kleinboet Arno (4) is groot maats, soos ’n mens veral kan sien op ’n video wat Anicè speels noem “mnr. Arno Alexander Kruger gee klas”. Daarin leer Arno Pippie om die woord “oranje” te sê.

Arno gooi lekkers uit ’n fles op ’n tafel en vertel haar daar is geel en oranje lekkers. “Sê oranje, Pippie,” vra haar boetie baie ernstig. ’n Mens kan nie lekker hoor nie, maar daar moet ’n geluidjie uitkom, want hy prys haar met oorgawe en beloon haar met ’n lekker.

Anicè vertel ook Arno kry ál meer insig oor die tragedie wat hul gesin daardie vreeslike Oujaarsaand getref het. “So ’n rukkie gelede vertel ons hom die hele storie, maar so dat hy mooi kan verstaan. So nou is die storie dat Pippie ontplof het en sy was in ’n rooi-en-geel-en-wit ambulans wat pie-pô-pie-pô-piep maak en toe is sy baie siek. Maar dankie tog, die ambulansmanne met ambulansklere en ambulansskoene en ambulansligte met ambulansvensters – die ambulans is die interessantste deel van die hele storie, so dit gaan vyf minute lank aan – het Pips na dr. Mia gevat sodat hy weer haar vel kan aanplak . . . Ai, my hartjie het nou net ‘ontplof ’ van trots, veral toe hy sê hy het die mooiste sussie in die wêreld en sy is awesome.”

Die vegtertjie kom al op haar eie oor die weg en stap self in haar loopring. Foto: Facebook.

Wat ook in Anicè se video’s en foto’s opval, is hoe mooi Pippie se gesig al herstel het. Ridwan verdien duidelik ’n ereplek in dié storie, want ’n mens kan net raai hoe haar littekens sou gelyk het as dit nie vir die baanbrekersoperasie was wat hy op haar gedoen het nie.

Hy is baie tevrede met hoe Pippie se vel groei. “Dit het dik en sterk geword en dit lyk of dit haar ou vel op baie maniere naboots. Ons was nie seker hoe goed die dermis (die onderste laag van die vel) sou ontwikkel nie, want met veloorplantings ontwikkel dié laag nie altyd goed nie.

“Ek is ook baie ingenome met hoe die laag vel onder die oorplanting ontwikkel het. Dit is sterk weefsel, mooi en sag en glad nie styf nie. Dit lyk of dit baie mooi saam met die res van haar liggaam groei.”

Ma Anicè Kruger saam met Pippie en haar jongste kind, klein Arno. Arno moes vir lang rukke by sy ouma en oupa bly terwyl Pippie ná die ongeluk maande in die hospitaal moes deurbring. Foto: Facebook.

Oor die breinskade wat Pippie opgedoen het, meen Ridwan ’n mens kan hoopvol bly, want jong kinders het verhoogde korteksplastisiteit. “Dit is die vermoë van die kind se brein om ná ’n besering weer te kan ontwikkel en heel te word. Volwassenes se breinbeserings herstel dalk nie meer so goed nie. Terwyl kinders groei, kan onbeskadigde dele van hul brein ontwikkel.” Dié ontwikkeling van ander dele kan dan vergoed vir die breinfunksies wat weens die besering verloor is.

“Pippie is ’n baie goeie voorbeeld hiervan. Aan die begin was ons bekommerd oor die vooruitsigte vir haar verstandelike ontwikkeling, maar die neuroloog het ons verseker sy het ’n baie beter kans op herstel as ’n volwassene met ’n breinbesering.”

Dr. Ridwan Mia, ’n plastiese chirurg van Johannesburg, is Pippie se held en het in ’n baanbrekersoperasie haar eie vel in Amerika laat kloon en op haar oorgeplant. Foto: Facebook.

Ridwan sê dit beïndruk hom dat Pippie al woorde bymekaar kan sit, ’n bietjie kan sing en haar met hulp regop kan hou. Haar handgreep het ook baie verbeter.

Maar hoe lyk die toekoms vir Pippie?

“Dis baie moeilik om te sê,” erken Ridwan. “Ons kan net hoop.”

Tussen al die terapie deur wat Pippie weekliks ondergaan, lyk dit of sy van meisietjie-dinge hou.

Op een van die foto’s lyk sy baie ingenome met ’n balletuitrusting wat Erwin vir haar gekoop het. Sy dra meestal rokkies en is baie erg oor haar poppe. Veral een video gryp ’n mens aan die hart. Pippie sit met ’n babapop teen haar bolyf vasgeklou.

Anicè skryf langsaan: “Wens so ek kan ’n uur lange video opsit . . . Daai baba word ge-snuggle en ge-cuddle en opgesoen en gevryf, maar kry raas ook.”

Pippie se hande en lippe sukkel nog om heeltemal te doen wat sy wil hê hulle moet, maar ’n mens kan sien sy probeer hard haar pop liefkoos.

Anicè por haar aan: “Pippie, sê ‘toemaar, baba’ . . . Gee hom ’n soentjie.” Sy steek haar tongetjie uit om aan die baba se kop te raak en dan vorm haar lippe ’n soengeluidjie.

“Vryf haar lyfie. Daar’s hy, toemaar,” koer Anicè.

Dis duidelik Pippie doen als wat sy kan om haar babapop te vertroos. Dieselfde soort troos wat ’n mens hoop sy elke dag ervaar.

  • Huisgenoot: Ware Lewensdramas word Donderdae om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai en heruitsendings Sondae om 21:00.