Sy het Rustenburg glo in 2007 verlaat om weg te kom van haar aggressiewe kêrel, Gerhard Jansen van Vuuren. Maar hy wou dit na bewering nie aanvaar nie en het haar glo met mening gesoek. Toe spoor hy haar op en op 2 Mei 2011 vermoor haar na bewering voor haar woonkompleks se hek. 

Enkele dae voor sy verhoor in 2013 sou begin, het hy na Brasilië gevlug. Hier vertel haar ouers van hul dogter se stormagtige verhouding met Gerhard:

‘Ek wil sien hoe hy sit’ - deur Herman Scholtz (Huisgenoot 16 November 2014)


Die tyd het vir hulle gaan stilstaan die dag toe hulle hoor hoe hul dogter voor haar dood verniel en moontlik aan ’n leiband rondgesleep is.

“Soos ’n hond,” sê Dries Venter van die marteling wat sy laatlam, Andrea, moontlik deurgemaak het voor haar opspraakwekkende moord byna drie jaar gelede.

Daarom wag hy en sy vrou, Annetjie, geduldig op die dag dat haar ekskêrel, Gerhard (32), aan Suid-Afrika uitgelewer word om tereg te staan op aanklag van moord.

Die voortvlugtige Suid-Afrikaner is verlede maand in Brasilië vir vier jaar en vier maande tronk toe gestuur omdat sy reisdokumente vervals was en hy ’n polisiebeampte wou omkoop.

Hy het verlede jaar uit Suid-Afrika gevlug, enkele dae voor sy verhoor op 20 Mei in die hooggeregshof in sitting in Palm Ridge aan die Oos-Rand sou begin.

Andrea (25), ’n rekenmeester, is in Mei 2011 buite haar woonstel in Fourways vermoor.

Beeldmateriaal van ’n kringtelevisiekamera wys hoe haar aanvaller haar 12 keer met ’n knipmes steek terwyl sy gillend om hulp na die hek van haar veiligheidskompleks hardloop. Daar het sy voor die oë van die hekwag en omstanders beswyk (Doodgesteek: my poppie, 19 Mei 2011).

'Soos 'n hond'

Maar die angswekkende beelde wat steeds snags by haar ouers spook, is dié van Andrea wat soos ’n hond aan ’n leiband rondgesleep word.

Die eerste keer dat hulle van hierdie verskriklike moontlikheid bewus geword het, was toe hulle ’n paar maande ná haar moord ’n siener besoek. Die siener het dit aan hulle openbaar.

Toe hulle lede van die polisie se ondersoekspan daarvan vertel, het hulle bevestig hulle het op ’n band in Andrea se motor afgekom en ook een in ’n blombedding by haar woonstelblok.

Dit laat hulle vermoed sy is wel moontlik voor haar moord aan ’n leiband rondgesleep.

Bloed wat op die mat van Gerhard se woonstel in Roodepoort gevind is, laat die staat aanvoer dat hy haar in die drie dae voor haar moord ook in sy woonstel aangerand het en haar om die beurt daar en in haar eie woonstel aangehou het. Andrea het in 2007 ’n beskermingsbevel teen hom verkry, maar daarna hul aan-af-verhouding hervat.

Andrea, 'n opgeleide balletjuffrou, se hare was pienk van die bloed ná sy onder haar ekskêrel se brutale aanval deurgeloop het.


Gerhard se tronkstraf in Brasilië bring hulle nou ’n stappie nader aan geregtigheid vir hul ballerinadogter wat “soos ’n engel kon sing”, sê Dries (63) en Annetjie (59). Tog voel geregtigheid nog bitter ver . . .

Gerhard was Andrea se eerste ernstige kêrel. Sy het hom in 2005 op ’n troue ontmoet toe sy nog ’n student aan die Noordwes-universiteit se Potchefstroom-kampus was. Hy het toe al as ’n IT-spesialis in Londen gewerk. Tog het die liefde geblom en hy het aangenaam en goed gemanierd voorgekom, vertel Annetjie.

Maar die gevaarligte het gou begin flikker. ’n Paar maande ná hul ontmoeting het Andrea in Engeland by Gerhard gaan kuier.

“Sy het my een aand histeries gebel en gesê Gerhard weier om haar vliegtuigkaartjie terug huis toe vir haar te gee. Ek het sy pa gebel en gevra wat met sy seun aangaan. Hy het nie regtig geskok geklink nie,” vertel Annetjie.

Gerhard se pa het hom berispe en Andrea het haar kaartjie gekry.

Daarna was dit die een riller ná die ander, onthou die Venters, soos toe Gerhard Andrea van haar ouerhuis in Rustenburg sou terugneem Potchefstroom toe, maar ná ’n uitval in die motor haar net daar op haar tuisdorp afgelaai het, bagasie en al.

Dries het ingegryp toe Andrea in 2006 die eerste keer aangerand is. Hulle is polisie toe en Andrea het later die beskermingsbevel teen hom verkry. Nadat hulle uitgemaak het, het Gerhard Andrea heeltyd gebel tot sy die foon optel, vertel Annetjie.

Dan het dit gelyk of sy in ’n beswyming is en is sy ten spyte van haar ouers se waarskuwings weer saam met hom vort.

Eers ná hul dogter se dood het hulle by van haar vriende en kollegas gehoor hoe afbrekend die verhouding regtig was.

“Sy het baie vir ons weggesteek. Sy het geweet ons sou mal raak en sy het ons teen hom probeer beskerm,” vertel Annetjie hartseer.

Andrea het die verhouding met Gerhard verbreek voor sy ’n paar maande voor haar dood in Johannesburg by ’n ouditeursfirma gaan werk het.

Beskermingsbevel en borgtog

Sy het haar kollegas die naweek voor haar dood vertel sy sal nie ’n werkgeselligheid kan bywoon nie, want sy gaan saam met ’n vriendin Thabazimbi toe. Maar niemand weet wie dié vriendin is en hoe Andrea weer in Gerhard se geselskap beland het nie.

Oomblikke ná die moord op Andrea het Gerhard sy lewe probeer neem deur hom met ’n knipmes in die nek te steek. Die staat het daarom aangevoer hy is ’n gevaar vir homself en sy eerste twee aansoeke om borgtog is geweier.

Daarby is aangevoer dat hy geen respek vir die reg het nie omdat hy die beskermingsbevel wat Andrea destyds teen hom gekry het, verontagsaam het.

Gerhard Jansen van Vuuren, Andrea se ekskêrel, is van haar moord aangekla. Hy het enkele dae voor sy verhoor gevlug en dien nou in Brasilië tronkstraf uit.

Maar nadat Gerhard foto’s by die hof ingedien het om te wys hy en Andrea het ná die beskermingsbevel versoen geraak, is borgtog in Desember 2011 aan hom toegestaan, weliswaar met streng voorwaardes. Hy het dié gehoorsaam tot hy ’n paar dae voor sy verhoor spore gemaak het.

Toe het hy al ’n tweeling verwek by ’n vrou wat hy glo met ’n vals naam mislei het.

Met die nuus van Gerhard se vrylating het die Venters dadelik veiligheidsmaatreëls by hul huis opgeskerp. Hy het immers al gedreig hy gaan hulle doodmaak.

“Hy kon my maar doodmaak,” sê Annetjie nou met trane en ’n glimlag. “Dan sou ek Pokkeltjie gouer weer sien.”

Dit was haar troetelnaam vir haar dogter.

In Andrea se kamer is alles onveranderd gelaat.

“Sy was my pop,” sê Annetjie, en streel oor die porseleinpop wat sy spesiaal vir haar dogter gemaak het.

“Toe ek nog kwaad was vir die Here, het ek baie met Hom baklei. Ek het gesê: Here, ek het dié kind afgebid, 12 jaar en agt maande jonger as haar boetie. ’n Proefbuisbaba. U het haar 25 jaar vir ons geleen en al wat ek gevra het, is dat U haar beskerm.”

Andrea se kamer lyk nog dieselfde.
Annetjie het dié pop vir Andrea gemaak.

Haar geboorte het destyds die nuus gehaal, want Andrea was Rustenburg se eerste proefbuisbaba.

Die eerste stappe vir Gerhard se uitlewering is reeds gedoen. Suid-Afrika het nie ’n amptelike uitleweringsooreenkoms met Brasilië nie, maar dit beteken bloot dat daar geen vasgestelde prosedure daarvoor is nie. Hulle kan besluit om hom nou reeds aan die Suid-Afrikaanse owerheid te oorhandig of eers nadat hy sy tronkstraf daar uitgedien het.

Vir die Venters is dit om’t ewe.

“Laat hy maar verrot in die tronk,” sê Dries. ’n Paar dae voor Gerhard in Brasilië aangekeer is, het Annetjie sy ma, Thea Pretorius, gebel in ’n poging tot heling.

“Sy is ook ’n ma wat swaarkry.”

Thea het haar later vertel van Gerhard se tweelingseuns se geboorte. (Die ma van die kinders wil naamloos bly.) Haar werkgewer se veiligheidswagte pas haar op sedert sy uitgevind het haar kêrel is ’n moordbeskuldigde.

In ’n sekere opsig het sy reeds berusting gekry toe Gerhard gevang is, sê Annetjie.

“Al wat ek hoop en bid, is dat hy nog leef tot hy terugkom, en dat ek nog leef. Dit sal niks verander nie, maar ek moet sien hoe hy gestraf word.”

Dit was nie vir Huisgenoot moontlik om Gerhard of sy ouers se kommentaar te kry nie.

Gerhard Jansen van Vuuren se ouers

Gerhard se pa

“Dit voel of ek alles verloor het,” het Gerhard Jansen van Vuuren sr. (toe 58) van Koster in Noordwes aan News24 gesê. Volgens hom het sy pleidooie vir Gerhard jr. en Andrea om mekaar uit te los, op dowe ore geval.

“Sy’t hom elke dag gebel, selfs ná die interdik (beskermingsbevel) teen hom uitgereik is. Hy het ook Andrea se skuif na Johannesburg om van sy seun weg te kom, as bog afgemaak.

Gerhard sr. se dogter, Yvonne Jansen van Vuuren, was 19 jaar oud toe sy haar eie lewe in 1994 neem. Haar seun, Gavin Hennings (16), het in Maart 2011 op sy oupa se kleinhoewe ook ’n einde aan sy lewe gemaak.

Gerhard se ma

Thea Pretorius, Gerhard jr. se ma, het in Junie 2013 gesê hy het by haar gebly toe hy op borgtog vrygelaat is.

Sy het hom as ’n goeie kind beskryf, iemand wat nooit met drank of dwelms deurmekaar was nie en nie gerook het nie.

“Hy was baie, baie intelligent en het goeie maniere.”

In daardie stadium was Thea en Gerhard sr. reeds meer as 10 jaar geskei oor wat sy as ’n afbrekende verhouding beskryf het.

Toe Andrea in 2007 ’n interdik teen haar seun aanvra, het sy haar glo gewaarsku om nie in dieselfde gat as Thea te trap nie.

“Gerhard se pa het my en my kinders ongelooflik aangerand en ek dink dit het ’n merk op my kinders gelaat.”

Thea het hul dogter, Yvonne, se kind aangeneem nadat sy haar eie lewe geneem het. En toe volg Gavin in sy ma se voetspore.

“Nou het ek net vir Gerhard oor.”

  • Huisgenoot: Ware Lewensdrama word Donderdae om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai.
  • Heruitsendings vind Sondae om 21:00 plaas.
FOTO'S: GALLO IMAGES/FOTO24/BONGIWE GUMEDE, LUBABALO LESOLLE

Bronne: netwerk24.com, news24.com

Suid-Afrika se eerste proefbuisbaba

Suid-Afrika se eerste proefbuisbaba is op 29 April 1984 in die Tygerberg-hospitaal naby Kaapstad gebore. Dit was Rebekka de Vos se seuntjie, Falcon.

Bron: aevitasfertilityclinic.co.za