Die sportman het hard geval, en net toe dit begin lyk of hy sy lewe as sakeman in Gauteng herbou, het dié skoknuus talle Suid-Afrikaners geruk: Die 32-jarige Wessel Johannes “Hansie” Cronjé het op 1 Junie 2002 in ’n vliegtuigongeluk in die Outeniekwa-berge by George gesterf.

In Donderdagaand se episode van die TV-reeks Huisgenoot: Ware Lewensdramas op Via (DStv-kanaal 147) is die verhaal van dié gevalle held en Suid-Afrikaanse ikoon in oënskou geneem.

As jy dié episode misgeloop het, kan jy Sondagaand om 20:30 na die heruitsending op Via kyk.

Net ná Hansie se dood het Huisgenoot met vriende, familie, kollegas en kennisse gesels oor hoe hy die laaste dae van sy lewe geslyt het.

Lees dié artikel hier:

Die mense van sy buitelewe vertel hoe goed dit teen die einde met hom gegaan het. Maar praat jy met die mense wat die naaste aan hom was, sien jy soms net vlugtig presies hoe moeilik dit was. En dan was hy nog nie weer bo nie . . .

Wanneer jou lewe eensklaps van jou weggeneem word – dit alles wat jy oor jare heen opgebou het met jou passie, jou sweet en bloed – dan bly net twee keuses oor: Jy kan gaan lê, of jy kan opstaan en van heel voor af begin.

Maar hoe ver hy al op daardie pad gevorder het toe sy jong lewe so onverwags nou 10 dae gelede teen ’n berghang buite George uitgewis is, daaroor bly die vraagtekens hang.

Praat met die mense van sy buitelewe – vriende, kennisse, kollegas, medestudente – en jy hoor met blydskap hoe goed dit teen die einde gegaan het. Jy hoor hoe positief hy was, van die toekomsplanne wat hy gehad het, wat hy alles vir sy medemens gedoen het.

Maar gesels met sy binnemense in die gevalle krieketheld se lewe. En soms, net soms, stoot hulle ’n deur op ’n klein skrefie oop en kry jy ’n vlugtige blik in die siel van ’n man wat steeds gesukkel het.

Hy was moedig, ja. Hy was vasbeslote. So eie aan sy aard het hy alles ingesit, hart en siel.

Maar hy was nog nie daar nie . . .

Familie

In ’n huis in Bloemfontein waar blommegeur swaar in die lug hang en die telefoon aanhoudend lui, vertel ’n bedroefde San-Marie Cronjé hoe haar seun die leisels van sy lewe weer opgeneem het met ’n nuwe werk.

Hy het die veilige hawe van die gholflandgoed Fancourt by George verlaat en as finansiële bestuurder by Bell Equipment aan die Oos-Rand begin werk. Dit was vir hom en Bertha, albei oud-Bloemfonteiners, ’n gewigtige stap.

“Hulle moes groot besluite neem oor sy werk en of hulle Gauteng toe wou trek,” sê San-Marie. “Hansie het gewonder of hy goed genoeg sou wees vir die werk.”

Jy hoor dit keer op keer: hoe sy selfvertroue aan skerwe gespat en hoe hy geveg het om dit te herwin. Hoe hy steeds soms gehuiwer het om dit in die openbaar te waag . . .

“Hansie was baie lief vir Fancourt en wou dit as hul hoofhuis bou,” vertel San-Marie. “Hulle sou in Pretoria eers net ’n klein plekkie huur.

“Bersie (die familie se naam vir Bertha) het aanhou sê hulle is nie haastig om ’n blyplek te kry nie. ‘God sal ons lei en wys wat die regte besluit sal wees,’ het sy gesê. Sy het nog in George gewerk, maar sou later na Hansie toe gaan.”

Vir die twee was dit nie maklik om van mekaar weg te wees nie. Die afgelope twee jaar was hulle vir die eerste keer in hul huwelikslewe altyd saam. 

“Nou die Sondag bel Hansie my en sê hy en Bertha eet die biltong en beskuit wat ek vir hulle gestuur het, maar met seer harte. ‘Ons het die Sondagaand-blues, want ek en Bersie gaan mekaar nou weer ’n week lank nie sien nie,’ het hy gesê.”

Hansie Cronje en sy vrou, Bertha. Foto: Argief

Maar die werk was goed vir Hansie. San-Marie vertel hy sou in die week ná sy dood ’n sakebesoek aan Engeland en Switserland gebring het. “Hy het so uitgesien daarna.”

En hy het hard gewerk, ook vir sy M.B.L.-graad aan Unisa, waaraan hy nou meer aandag kon gee. “Saans het hy eers sewe-uur by die huis gekom,” vertel San-Marie. “Hy het geëet en gaan slaap tot twaalfuur. Dan het hy opgestaan en geleer tot vyfuur, wanneer hy aangetrek het vir werk.”

Dit was vir Hansie nodig om uit die kokon van Fancourt te kom. “Hy het begin uitbeweeg, weg van sy bekende omgewing. Ons was baie bly daaroor, want dit het hom die kans gegee om te sien hoe lief die mense nog vir hom was. Ek dink nie hy het ooit werklik besef hoe die mense oor hom voel nie . . .”

DIE spook van die ondersoek na beweerde krieketknoeiery loop steeds hier in die Cronjé-huis, waar vreemdelinge verlede week brandende kerse buite in die straat kom pak het as eerbewys.

San-Marie verduidelik hoe sy dit sien. “Die Indiese beroepswedders het hom dag en nag gebel. Hulle het nie gesê wie hulle is nie, en Hansie het gedink hulle is die pers. Hulle het hom vrae gevra soos speel Allan Donald môre, beplan jy om te verklaar, hoe lyk die veld?”

Min mense het besef hoe diep seer Hansie aanvanklik gehad het. “Tog het daar weer lewe in sy oë gekom. Hy het sy goeie en slegte dae gehad, maar dit het ál beter gegaan.”

Hansie se broer, Frans, het twee weke voor sy dood by hom gekuier. Hy beaam hul ma se woorde. 

“Hansie was besig om gelukkig te word”
Frans Cronje

“Ons het gaan uiteet, en hy was weer homself."

“Toe ek hom die laaste keer sien, die Maandag voor sy dood by ’n gholfdag in die Kaap vir sy werk, het hy my vertel hy en Bertha het die vorige naweek hul lewe beplan. Hy het daaraan gedink om ’n sportsentrum by ’n skool te bou.”

Maar sy suster, Hester Parsons, vertel hy het nie die selfvertroue gehad nie. “Hy het gedink hy het die mense teleurgestel. Hy was so skaam dat hy nêrens wou heengaan nie.”

Dis waar, sê Frans, sy broer se selfbeeld het groot skade gely.

“Hy was nie seker wat mense se reaksie op hom sou wees nie. Hy was selfs skamerig om die laaste Saterdag voor sy dood te gaan kyk hoe Grey-kollege teen Afrikaans Hoër rugby speel. Eindelik het hy dit baie geniet.”

Vriende, kennisse

In die laaste maande was hy ’n man wat van homself gegee het. Dit was deel van sy heelwordproses.

In George het Hansie betrokke geraak by die sportklub van die Carpe Diem-skool vir gestremdes, waar Bertha die fisioterapie-afdeling op die been gebring het. En voor hulle hul oë kon uitvee, het hy vir die klub ’n nuwe status verwerf – die Suidwestelike Distrikte (SWD) se Sportklub vir Gestremdes.

’n Verskynsel soos Hansie het hulle nog nooit beleef nie, vertel die skoolhoof, Johan de la Rey. Waar kry jy dit dat die president van ’n sportklub stoele ronddra, saam met die atlete opwarm, geld insamel, praatjies hou, saam toer en koue hamburgers eet, op ver paaie ry en saam in koshuiskamers slaap?

“Jy weet, hy het geld ingesamel, maar hy wou nie sy naam daaraan laat koppel nie. Dit was R62 000 vir ons sportklub, waarmee ons vier hoë-spoedrolstoele kon aankoop.”

Hansie het groot drome vir die klub gehad. “Hy het gedroom oor ’n binnenshuise sportsentrum waar gestremde atlete sonder geldkwellinge kan deelneem,” vertel Mariet Oosthuysen van die klub. 

Hansie Cronje. Foto: Getty Images

En hy was ’n opperste platjie. Nadat sy Hansie se voorlegging vir die SWD-status vir die klub in Johannesburg gedoen het, het hy haar geterg dat haar minirok eintlik die knoop deurgehak het.

“Geen taak was ooit te nederig of blyplek te eenvoudig nie. Dit is die Hansie wat ons geken het. ’n Krieketheld sal hy altyd in ons gedagtes wees, maar in ons harte sal ons hom koester vir die mens wat hy was.”

Kathleen Forrest van Johannesburg het Hansie toevallig in Sandton raakgeloop en gevra of hy die Netcare-rehabilitasiesentrum in Johannesburg sal besoek. 

“Die volgende oggend het hy vir my ’n e-pos gestuur en dankie gesê dat ek tyd ingeruim het om met hom te praat. Hy het die sentrum besoek en met elkeen van die sowat 70 pasiënte en met die verpleegsters gesels. Hy het ook belowe om hul sportdag by te woon.

“Hy het hierdie wonderlike dinge gedoen op versoek van ’n totale vreemdeling, en niemand anders het daarvan geweet nie. Hansie was ’n wonderlike mens. Hy het vir my gesê ’n mens moet die lewe vind wat vir jou belangrik is, en voluit daarvoor gaan.”

SPORTVRIENDE

Hy glo die ou Hansie was terug, sê Shaun Pollock, krieketkaptein. Hansie het hom in Februarie in Durban besoek, en hy was verlede November terug by hulle in George.

Hy was besig met ’n nuwe loopbaan en was vuur en vlam daaroor. Hy het nog vertel hy was geskok oor hoe min vakansie mense in die “regte wêreld” kry. 

“In November by Fancourt het hy geskerts dat ek nou kan sien dis nie so maklik om ’n krieketkaptein te wees nie. Maar hy het altyd raad en aanmoediging gegee met SMS’e en fakse.”

Ook Allan onthou hoe Hansie steun-boodskappe na Australië gestuur het.

Darryl Cullinan, Allan Donald en Hansie Cronje. Foto: Getty Images

“Ek dink dit moes vir hom baie swaar gewees het. Hy het elke wedstryd gevolg. Hy kon nog speel, maar is nie meer toegelaat nie. Hy wou graag die beste kaptein wees wat Suid-Afrika nog opgelewer het. Ek glo hy was die beste."

“Hy was ’n gebore leier. Van kleins af, toe ons krieket- en rugbywedstryde in hul agterplaas gespeel het, het ek besef hy het iets gehad wat ander nie gehad het nie”
Allan Donald

Met sy aanstelling in sy nuwe pos het Hansie vir Allan gesê hy gaan nie meer terugveg oor die King-kommissie se uitspraak nie; hy aanvaar wat gebeur het en gaan die Suid-Afrikaanse publiek en die wêreld vierkant in die oë kyk. 

Kepler Wessels, by wie Hansie in 1994 as krieketkaptein van Suid-Afrika oorgeneem het, sê skaars 10 dae voor Hansie se dood het hulle mekaar in Sandton raakgeloop. “Ek was bly om te sien hoe positief Hansie oor sy toekoms was. Hy was vol moed vir sy nuwe werk.

“Onthou, sy hele lewe was krieket, en vir hom om sonder krieket voort te gaan, was bitter moeilik. Ek glo nie hy sou ooit daaroor gekom het nie. Hy sou dit nooit vergeet nie. Maar sy geesdrif vir sy studie en sy nuwe werk was vir my wonderlik.”

KOLLEGAS, MEDESTUDENTE

Hansie was ’n leier in hul studiegroep vir die M.B.L.-graad, vertel Sonja McDonald van Pretoria vier dae ná sy dood, steeds baie bewoë.

“Hy het ons altyd aan die gang gekry wanneer ons vergader. Met sy vrolike geaardheid en grappies was dit lekker om saam met hom te werk. Ek het nooit gehoor dat hy ’n skewe woord kwytraak nie.”

Hy sou aanstaande jaar graad gekry het. Vir sy werkopdragte het hy tot 85% gekry. Nog ’n lid van die studiegroep, Paul Malherbe van Kimberley, vertel hoe die groep in April ’n week in Fancourt by Hansie en Bertha deurgebring het om ’n projek te voltooi.

“Ons het Hansie beleef as joviale gasheer – altyd vol grappies, maar besonder opreg. Hy het ’n paar keer na die King-kommissie verwys, maar gesê hy het sy pak soos ’n man gevat, en dis nou verby.”

“Hy het vorentoe gekyk,” vertel Paul.

Al klag wat sy studiemaats oor hom gehad het, was dat hulle soms gewens het die man wil net ’n bietjie die pas verslap . . . 

Dit was juis Hansie se studie wat hom sy nuwe werk besorg het nadat hy by die onderneming navorsing gedoen en ’n pos aangebied is.

Hy was ’n aanwins vir die maatskappy, vertel Derrick Crandon, Hansie se hoof.

“Ek het die indruk gekry dat hy sy selfvertroue teruggekry het. Hy was bereid om te leer en nooit skaam om te vra nie. Hy het alles met groot geesdrif gedoen en het goeie idees gehad oor hoe ons die maatskappy kon verbeter.”

SY LERAAR

Hy was die man wat die siel van Hansie Cronjé dalk die beste geken het. Hansie, sê past. Ray McCauley van die Rhema-kerk, het met sy lewe voortgegaan, maar soos iemand wat mank is.

"Hy het geleidelik herstel, maar sou nooit die skande kon vergeet nie – hy het geleer om daarmee saam te leef"
Ray McCauley

Dit was nie die feit dat hy nie kon krieket speel wat vir Hansie die swaarste sal straf was nie. Hy was skaam oor sy skandes en omdat hy sy krieketspelers en Suid-Afrikaners teleurgestel het. Dit is hoekom dit twee jaar geduur het voor hy weer sy kop kon optel en aangaan met sy lewe.

“Ek het enkele dae voor sy ongeluk nog met hom gepraat. Hy was vol selfvertroue oor sy toekoms en vasbeslote om gestremde krieketspelers af te rig. Dit het vir hom ’n passie geword.”

Hy sal altyd onthou hoe Hansie, wanneer hy kon, 1 Oktober saam met hulle deurgebring het. Dit is Ray se seun Joshua se verjaardag. Dan het hy vir Joshua ’n krieketkolf gebring en saam met hom gespeel.

MEDIA-MENSE

Maar soms is dit die mense wat die verste van jou is, en dan dié wat geleer het om fyn agter jou woorde te kyk en te luister, wat die raakste kan sien . . . 

John Maytham, omroeper van die radiostasie Cape Talk, het die Vrydag voor Hansie se dood oor die telefoon met hom gepraat. En hoewel Hansie positiewe gedinge gesê het, was dit vir hom asof hy “diep binne nie so positief was nie”.

Daar was ’n emosionele doodsheid in sy woorde, het John agterna vertel. Hy kon die pyn in Hansie se woorde aanvoel.

Foto: Getty Images

Rodney Hartman, skrywer van die boek Hansie and the Boys, beaam dit.

“Ses maande nadat die King-kommissie se ondersoek afgehandel was, het ek met hom oor die telefoon gepraat. Hy het gesê dit gaan goed met hom,” vertel Rodney.

“Hy het altyd gesê dit gaan goed, maar ek dink nie dit was altyd die waarheid nie . . . ”