Verlede jaar was hy terug op die koerantvoorblaaie toe dit aan die lig kom dat hy moontlik in Belarus op parool vrygelaat en aan Suid-Afrika uitgelewer sou word om vir die skokkende seksmisdade verhoor te word.

Nuwe intrige in die drama – Deur Hilda van Dyk, 2 Maart 2017

Dirk Prinsloo keer dalk binnekort terug na Suid-Afrika om verhoor te word. Hier’s wat sy pa se bure, ’n oudkollega en ’n slagoffer se ma vertel.  

Toe een van Suid-Afrika se mees berugte seksmisdadigers landuit vlug, het sy pa ook gevlug – na Parys, ’n pragtige dorpie aan die oewer van die Vaalrivier.

Maar kyk jy deur Dirk Prinsloo se pa se tuinhekkie, kan jy sien die prag van sy tuin en huis het jare gelede verdwyn. Dis byna asof die huis self agter die verval wegkruip. Die bome se takke hang so laag, jy kan skaars die stoep sien, wat nog te sê die voordeur. Die gras en onkruid staan kniehoog.

Die geel kleur van die hoë muur het met die jare verbleik. Die twee houtmotorhuisdeure het lank laas ’n lekseltjie vernis gehad. Die wit hek is met ’n swaar ketting en goudkleurige slot gesluit.

Al lewe wat jy by dié huis sien, is wanneer die tuindiens een keer per week sy sypaadjie kom sny, vertel een van Johan Prinsloo se bure.

“Net die sypaadjie,” sê Martin*, vir wie ons oor die huis vra.

“Hulle gaan nie in nie. Jy kan mos sien die gras en onkruid staan hoog.” Hy hou sy hand hier naby sy knie. “Dit is asof hy eendag net opgehou leef het. Alles het net vervalle geword.”

Net soos Dirk die laaste paar jaar in Belarus, in Oos-Europa, tussen vier mure toegesluit was, is dit asof sy 79-jarige pa ’n gevangene in sy eie huis geword het. Vra jy die inwoners van Parys, weet van die mense nie eens Dirk se pa bly in hul midde nie.

Nie eens Johan se buurman het geweet voor Huisgenoot hom oor die baie privaat man uitgevra het nie. Ander inwoners wat weet hy woon op Parys, hoor maar stories van sy leefstyl. 

“Ek hoor die mense sê hy leef soos ’n kluisenaar. Hy meng nie met mense nie. Praat met niemand,” vertel een vrou.
“Mense oordeel so gou, jy weet. Ek kan verstaan waardeur die man gaan.” 

Dirk Prinsloo het in die hof in Baranowitsji in Belarus in ’n hok verskyn nadat hy weens onder meer bankroof vasgetrek is. Die hof het hom as ’n gevaarlike misdadiger geag.

Net soos Johan daar in sy huis uit die wêreld verdwyn het, het sy seun Dirk ook die laaste jare in mense se geheue begin vervaag. Dis al 11 jaar sedert Dirk landuit gevlug het. Hy het destyds saam met sy vriendin, Cézanne Visser, tereggestaan op aanklagte van seksmisdade met drie kinderhuismeisies en drie jong vroue.

Dirk is sedertdien in Belarus aangekeer, waar hy vir onder meer bankroof in hegtenis geneem en toegesluit is. Maar die laaste tyd is hy skielik terug op koerantvoorblaaie nadat dit aan die lig gekom het hy kan nou in Belarus op parool vrygelaat en dan aan Suid-Afrika uitgelewer word om vir sy seksmisdade verhoor te word.

Dit was toe ’n lasbrief in 2006 in Suid-Afrika vir Dirk se inhegtenisneming uitgereik is nadat hy Belarus toe gevlug het dat Johan, ’n lang man met grys hare en blou oë, van Wierdapark in Centurion na Parys verhuis het. Daar het Johan vir hom dié hoekhuis gekoop, vertel Martin.

“Johan is ’n kolonel, jy weet. Destyds was alles aan hom en sy manier van doen presies. Hy het die huis se dak drie keer laat oorverf tot hy die kleur gekry het wat hy wou hê.” 

Dis ’n groot huis, die een op die hoek. Met ’n lekker stoep en ’n swembad, vertel Martin. Aan die begin het Johan moeite gedoen om die plek te restoureer. Sedert hy daar ingetrek het, het hulle nog nooit gesien dat hy ’n vrou het nie.

Foto’s van Dirk uit sy tyd toe hy sy verhoor in Suid-Afrika ontduik en in Belarus gaan fuif het.

Daar was wel ’n keer of wat ’n jong man met ’n poniestert wat saam met Johan die dak reggemaak het. Hulle het aangeneem dis sy ander seun, Pieter.

Dié het jare gelede vir die departement van binnelandse sake gewerk, vertel ’n oudkollega van Dirk. Nog ’n kennis sê Pieter is deesdae oorsee. Dit was so vier jaar gelede dat Johan meteens opgehou het om sy huis in stand te hou.

Martin en sy vrou, Elsa*, kan net bespiegel oor wat verkeerd geloop het. Hulle wonder of dit die ding met Dirk is.

“Dit moes seker ’n verskriklike ding vir hom gewees het. Vir jou kind om sulke dinge aan te vang en dan te vlug. Dan vlug jy ook maar. Van daardie tyd af bly hy net in die een helfte van die huis,” sê Elsa. In al die jare wat Martin en Johan bure is, was Johan nog net vriendelik met hulle.

“Aan die begin sou jy baie die braaivleisvuurtjie ruik, dan braai hy vir hom ’n vleisie. Nou ruik jy dit net so af en toe. “Ek het al vir hom gesê hy moet kom kuier. Maar hy kom nie,” sê Martin. “Ons het geen kontak met hom nie. Hy leef soos ’n kluisenaar. Hy gaan nêrens.”

Cézanne Visser tydens haar vonnisoplegging op 24 Februarie 2010. Foto: Gallo Images

As Martin die slag met Johan moet praat, gaan staan hy by Johan se klein hekkie en roep hom. ’n Klokkie is daar nie. En bel jy sy landlyn, antwoord hy nie altyd nie.

Toe Huisgenoot hom bel, kon jy die kolonel in sy stem hoor: “Prinsloo.” Maar toe hy hoor dis ’n joernalis van Huisgenoot hy het gegroet met ’n “tot siens, juffrou” en die foon neergesit. “Pasop net as jy by sy hekkie staan. Hy het ’n hondjie, ’n bokser. Maar sy blaf is erger as sy byt,” sê Martin. 

Vir die eenvoudige lewe waarmee sy pa so tevrede is, het Dirk self nooit kans gesien nie. Groter, beter, beste is al wat hy wou hê, vertel sy oudkollegas. Wanneer hy ’n motorfiets koop, was dit ’n 1 000 cc. Sy huis was altyd luuks en die vroue aan sy sy beeldskoon.

“Ons het destyds albei geoefen,” vertel Ian*, wat in die vroeë 1990’s saam met Dirk ’n staatsaanklaer was. “Hy was behep met oefening. Hy sou by my kom, sy armspiere bult en sê: ‘Kyk hoe lyk my spiere.’ ”

Ian onthou hy was altyd ’n haan onder die henne.

Toe sy die aand wakker word, was Dirk saam met haar in die bed.
Foto’s van Dirk uit sy tyd toe hy sy verhoor in Suid-Afrika ontduik en in Belarus gaan fuif het.

“Ek onthou ons was eendag in die landdroshof in Pretoria. ’n Prokureur wat hy glad nie ken nie, het in die gang verby ons gestap. Hy het na haar geloop, sy hand deur haar hare getrek en vir haar gesê sy het die mooiste hare. Daar, ten aanskoue van almal, in die hof se gange.”

Een ding wat Ian van Dirk kan sê, is hy het nog altyd hard gewerk. Of dit nou aan sy eie lyf in die gimnasium was of aan ’n saak. En hy was altyd ernstig. Daar was nie tyd vir grappies nie. “Hy het altyd die ekstra myl vir sy kliënte gestap.

“Toe hy later advokaat word en op sy eie praktiseer, het ek eenkeer in ’n saak teen hom te staan gekom. Hy was passievol in die hof. En arrogant. Dit het amper op die punt gekom waar hy jou koggel. Ek het soms gevoel ek kan hom aanrand.” 

Dirk het later die voorsitter van die Onafhanklike Balieraad se Gautengstreek geword. Dié raad is ’n onafhanklike liggaam van die tradisionele balie met sy eie eksamen en riglyne. Dit is nie enige mens wat dié pos kan vul nie, sê Dawid*, ’n prokureur wat Dirk geken het. 

Dit was by die Onafhanklike Balie waar Dirk die 24-jarige Cézanne ontmoet het. Sy het kort tevore haar regsgrade met lof geslaag. Kort voor lank het Cézanne bekend geword as adv. Barbie, die blonde Idols-deelnemer met die vergrote borste.

Haar verhouding met Dirk was vernietigend, het Cézanne se ma, Susan Lemmer, in 2010 aan Huisgenoot gesê. Haar blondekopkind was ’n rolmodel vir ander op skool, ’n ordentlike meisie wat in haar universiteitsjare nooit eens ’n kêrel gehad het nie. 

En toe, in 2001, trek sy uit die bloute by Dirk in. Susan het van vroeg af nie die verhouding goedgekeur nie, maar Dirk en Cézanne wou haar nie toelaat om by hul lewe betrokke te raak nie en het selfs ’n interdik teen haar gekry.

Op Cézanne se selfoon het sy Dirk se nommer gebêre onder die naam “My god”.

Dirk het in dié tyd vir Cézanne voorgeskryf om haar borste byna grotesk te laat vergroot, om ringetjies aan die erotiese dele van haar lyf te kry en tatoeëermerke aan te bring.

Susan het vertel sy was geskok toe sy jare later, tydens die verhoor, sien watter beelde haar dogter op haar lyf aangebring het – kru tekeninge van kaal vroue. Dit was duidelik Dirk het Cézanne volledig in sy greep gehad. 

Op Cézanne se selfoon het sy Dirk se nommer gebêre onder die naam “My god”, het Susan vertel. In 2002 het Susan en Cézanne met mekaar versoen geraak, maar die skokke was vir Susan nog nie naastenby verby nie. By een geleentheid het Dirk en Cézanne in haar huis kom oorbly. Susan het vertel toe sy die aand wakker word, was Dirk saam met haar in die bed.

Sy het hom weggestoot en beveel om die huis te verlaat. Dirk het Cézanne in dié tyd glo gedreig dat hy Susan sal doodmaak as Cézanne ooit met hom stry kry. Hy het haar na bewering verplig om vir hom prostitute te reël vir die naweke wanneer hulle nie bymekaar was nie.

Desondanks het Dirk in die beginjare van die hofsaak nog vir Cézanne oortuig hulle moet saamstaan teen dié “heksejag”, vertel Dawid.

‘Hy was passievol in die hof. En arrogant. Dit het amper op die punt gekom waar hy jou koggel. Ek het soms gevoel ek kan hom aanrand.’

“Die eerste dag dat hy by sy prokureur se kantoor ingestap het, het hy reguit op dié se stoel agter die lessenaar gaan sit.

“Die prokureur het vir hom gesê dit werk nie so nie en hom nog gevra om in die ontvangsgebied te wag tot hy hom roep.”

Toe Dirk in 2009 in Belarus op aanklag van bankroof in hegtenis geneem en in Februarie 2010 tot 13 jaar tronkstraf gevonnis is, was dit ’n groot verligting vir Cézanne.

En sedert sy in 2013 op parool vrygelaat is nadat sy meer as die helfte van haar eie vonnis van sewe jaar uitgedien het, het Cézanne haar lewe stukkie vir stukkie begin herbou.

Sy behartig die menslike hulpbronne en administrasie van haar oom se maatskappy in Johannesburg. Daarby is sy verloof aan ’n beroepsjagter en taksidermis van KwaZulu-Natal, Isao Smith. Sy het ook al motiveringspraatjies gelewer.

Haar vonnis het op 2 Januarie vanjaar verstryk. Nie Cézanne of Isao kon vir kommentaar bereik word nie. Susan het gesê hulle is nie bereid om ’n onderhoud toe te staan nie.

Een mens wie se bloed geys het toe sy hoor Dirk kom terug na Suid-Afrika, is Marie du Plessis, ma van Jeannine du Plessis, wat haarself in ’n boom opgehang het kort nadat Cézanne gevonnis is. Jeannine was 14 jaar oud toe Dirk haar na bewering bedwelm en onsedelike dade met haar gepleeg het.

‘Ek dink hulle was gewetenloos. Daar is nou ’n klein meisietjie wat sonder haar ma moet grootword oor wat hulle gedoen het.’
Pieter en Marié du Plessis, Jeannine du Plessis se ouers, dra hul dogter se kis tydens haar begrafnis op 15 Maart 2010. Foto: Gallo Images

Sy het later in dwelmgebruik verval, aan ’n babadogtertjie die lewe geskenk en MIV opgedoen voor sy op 21 haar eie lewe geneem het. Marie werk deesdae in ’n hondesalon in Pretoria en maak Jeannine se dogter groot. 

“Dit sal volgende Sondag (5 Maart) sewe jaar wees dat Jeannine dood is. Ons is nou eers half besig om emosioneel oukei te raak,” vertel sy.

“Jy loop jou lewe lank met ’n wrok teen hulle,” vertel sy oor Dirk en Cézanne. “Ek kan nie sê ek het nie ’n wrok nie.

“Ek dink hulle was gewetenloos. Daar is nou ’n klein meisietjie wat sonder haar ma moet grootword oor wat hulle gedoen het.

“Jy gaan deur helse emosionele goed. Dit is goed wat jou lewe lank by jou bly.” 

Of Johan die pad van Parys na Pretoria sal aandurf wanneer sy seun ná 11 jaar op aanklagte van seksuele misdrywe in die hof verskyn, sal ’n mens net kan raai.

Wat jy ook nie weet nie, is of die polisie Dirk se slagoffers ná al die jare sal opspoor en of hulle bereid sal wees om weer te getuig.

‘Dirk sal nie skroom om self op te tree nie. En hy sal dit goed doen. Hy was nog altyd ’n goeie, intelligente advokaat.’
Dr. Llewellyn Curlewis

Dan is daar die groot vraag: of Cézanne bereid sal wees om Dirk in die oë te kyk vanuit die getuiebank, sê dr. Llewellyn Curlewis, president van die Prokureursorde van die Noordelike Provinsies.

Dirk se proses om in Belarus op parool vrygelaat te word, het met Huisgenoot se druktyd reeds begin toe hy daar in die hof verskyn. Volgens Llewellyn het die staat hier in Suid-Afrika reeds destyds met sy inhegtenisneming in 2009 met Belarus begin onderhandel om hom aan Suid-Afrika uit te lewer.

“Ek skat Dirk sal binne drie tot ses maande hier by ons in die hof verskyn op aanklagte wat verband hou met kinderpornografie en seks met minderjariges.”

Llewellyn sê as Dirk nie skuldig pleit nie, kan die saak meer as ’n jaar neem om af te handel.

“Dirk het nog nooit enige erkenning gegee dat hy iets verkeerds gedoen het nie; dus kan ek nie dink dat hy dit nou sal doen nie.”

Dirk sal vir die duur van die verhoor in hegtenis bly. Hy sal nie weer op borgtog vrygelaat word nie omdat hy ’n vlugrisiko is. Buiten die seksaanklagte teen hom, sal hy ook daarvan aangekla word dat hy die hof geminag het toe hy gevlug het.

Dirk kan ’n regsverteenwoordiger aanstel as hy dit kan bekostig of die hof kan vir hom ’n regsverteenwoordiger aanwys.

Maar hy het ook die reg om homself te verdedig, al is hy al jare gelede van die rol geskrap. Jy hoef nie ’n regsgeleerde te wees om jouself te verdedig nie.

“Dirk sal nie skroom om self op te tree nie. En hy sal dit goed doen. Hy was nog altyd ’n goeie, intelligente advokaat,” sê Llewellyn. 

“Die tydsverloop kan ’n probleem wees vir die staat, want baie jare het verloop, wat kan maak dat getuies nie noodwendig so maklik opspoorbaar is nie. Hulle kon ook al sekere besonderhede oor die jare vergeet het.

“Iemand soos Cézanne het geen voordeel daaruit te trek om teen Dirk te getuig nie. Dit is nie asof sy afslag kan kry op haar vonnis nie. Sy kan ook nie weer gevonnis word as sy nie haar samewerking gee nie. Ek dink sy wil nou net wegbly van enigiets wat met haar verlede te doen het.”

* Skuilname is gebruik.

Tydlyn

2002
Dirk Prinsloo en Cézanne Visser word in hegtenis geneem op klagte wat verband hou met onsedelike aanranding, verkragting, die vervaardiging van kinderpornografie en die uitlokking van minderjariges om onsedelike dade te pleeg.

Die klagte word later teruggetrek.

2003
Die paartjie word weer aangekla. Hulle word albei op borgtog van R4 000 vrygelaat. 

Januarie 2005
Dirk en Cézanne se verhoor begin in die hooggeregshof in Pretoria.

November 2005
Dirk lig die hof in hy gaan Kersfees in Rusland deurbring. Omdat dit sy tweede besoek aan dié land is en hy nie as ’n vlugrisiko beskou word nie, word sy borgtog bloot tot R20 000 verhoog.

April 2006
Die verhoor begin weer. Dirk daag nie op vir die hofverrigtinge nie.

2009
Cézanne se verhoor moet van voor af begin nadat die oorspronklike regter dood is. Sy ontken skuld aan al 14 aanklagte teen haar.

Januarie 2010
Dirk verskyn in die hof in Baranowitsji in ’n hok omdat hy as gevaarlik beskou word.

Benewens die bankroof word hy daarvan aangekla dat hy ’n hangertjie by een van sy meisies in Belarus gesteel het, ’n vrou aangerand het wat in sy pad was toe hy uit die bank gevlug het en ’n eksmeisie “gemartel” en gedreig het om haar te vermoor.

Februarie 2010
Dirk word in Belarus skuldig bevind aan diefstal, bankroof en boewery en 13 jaar opgelê.

In Suid-Afrika word Cézanne op 11 klagte skuldig bevind wat verband hou met onsedelike aanranding, die vervaardiging en besit van kinderpornografie en bedrog.

Sy word sewe jaar opgelê. Haar mislukte appèl duur tot Mei 2010.

Augustus 2013
Cézanne word op parool vrygelaat.

Januarie 2017
Cézanne se tronkstraf verstryk.

Februarie 2017
Dirk kom in Belarus in aanmerking vir parool.

  • Foto's: ER Lombard, Gallo Images/Beeld/Elske Kritzinger, Gallo Images/Foto24/Julian Rademeyer, Facebook, Verskaf
  • Huisgenoot: Ware Lewensdramas word Donderdae om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai.
  • Heruitsendings is Sondae om 21:00.