ELDERS: DIE CAMINO

Aan die begin van 2015 was die bekroonde Weg!-joernalis en skrywer Erns Grundling oorwerk, oorstuur, oorgewig en beseer – en slaapapnee was pas by hom gediagnoseer.

Vanselfsprekend was al ding om te doen om die ellelange Camino-staptog in Spanje aan te pak – g’n selfoon, g’n makkers, net dapper en stapper. Kom stap saam. Die reeks is gegrond op sy boek.

DINSDAE OM 17:30 OP KYKNET

LANDBOUWEEKLIKS

Dié splinternuwe joernaalprogram, in vennootskap met die landboutydskrif Landbouweekblad, gaan oor alles wat op landbou in Suid-Afrika betrekking het. Dit word aangebied deur die bekende TV-man Ivor Price.

DINSDAE OM 19:30 OP VIA

DIE KASTEEL

Dié komediereeks, met (van links) Hannes Muller, Pulane Sepeke, Dorette Potgieter en Solomon Cupido in die rolverdeling, is regstreeks voor ’n gehoor opgeneem.

Dit draai om Eckhard en Tina-Marie de Wet wat ’n herehuis in Waterkloof, Pretoria, besit. Eckhard verloor alles behalwe sy huis toe hy geld belê in ’n ponzi-skema wat vou. Hy omskep dan sy huis in ’n boetiekhotel.

Al probleem is: Niemand wat daar werk, weet wat hulle doen nie.

WOENSDAE OM 20:30 OP KYKNET

Radio Raps Show

Die Afrikaanse internetsensasie Radio Raps maak ’n draai op die kassie in hier- die maltrap-kammadokkie-komediereeks wat nie in ’n boksie gepak kan word nie.

Kykers gaan kraai van die lag.

VRYDAE OM 20:00 OP VIA

SKELMPIE

Dié geselsprogram, wat deur Rian van Heerden aangebied word, draai om mense wie se verhouding deur ’n derde party geraak is.

Daar word gesels met slagoffers, rondlopers en ook die skelmpies.

SATERDAE 20:00 OP KYKNET

TRIPPE, TRAPPE, TONE

In dié baldanskompetisiereeks vir jeugdiges ding 12 paartjies op die dansvloer mee om as die beste jong danspaar in die land gekroon te word.

Dit word aangebied deur die gewilde sangeres Bianca le Grange.

WOENSDAE OM 17:00 OP VIA

NOODLIG

Paramediese personeel en hul werk kom in die kollig in dié nuwe werklikheidsprogram. Die reeks fokus op die lewe van ER24 se paramedici, hul kollegas, die pasiënte wat hulle hanteer en hul gesinne.

Ons leer hulle ken en kry ’n kykie in wat hulle motiveer en aanvanklik gedryf het om dié loopbaan te kies.

VANAF 31 JANUARIE, DONDERDAE OM 21:00 OP VIA

FLIEKNET FOENDIES

Hy was al akteur, skrywer, vervaardiger en regisseur. Nou hou die Vir Altyd-ster Ivan Botha ook sy lyf aanbieder. Ivan gaan fliekliefhebbers in dié nuwe vasvrakompetisie op hul tone hou.

Leon van Nierop was ook betrokke by die samestelling van die vrae.

VANAF 1 FEBRUARIE, DONDERDAE OM 20:00 OP KYKNET

HONDEHUIS

Hondeliefhebbers en die eienaars van Friends for Rescued Animals werk saam om weeshonde in gelukkige huise te kry. ’n Emosiebelaaide goedvoel-werklikheidsprogram.

VANAF 1 MAART, DONDERDAE OM 17:30 OP VIA

BOEREKOS MET ’N TWIST

Dit word aangebied deur Annelien Pienaar, wat ’n blog bedryf waar sy bekende resepte op ’n hartlike plaasmanier nuwe oemf gee.

Vanaf 9 April, Maandae om 18:00 OP VIA

Foto's: Lubabalo Lesolle, Peet Mocke, kykNET, Imdb