Vir laerskoollesers

My Ensiklopedie van Baie Belangrike Dinge: Vir Jong Slimkoppe wat Alles Wil Weet (Lapa, R279)

My Ensiklopedie van Baie Belangrike Dinge: Vir Jong Slimkoppe wat Alles Wil Weet.

Dié lieflike boek is gemik op kinders van vyf en ouer en het hoofstukke oor die planeet, plekke, diere, mense, “myself” en, laastens, ’n afdeling oor “ ’n paar ander baie belangrike dinge”, waar los onderwerpe behandel word soos vrugte, groente, vorms, edelstene en vlae.

Die kind word met net genoeg feite gevoer om hom nie te oorweldig nie, en nuwe woorde word tot sy woordeskat gevoeg. Teen dié prys – en dít vir ’n groot hardebandboek – kan jy nie vir ’n kind ’n groter geskenk gee nie.

Kry dit hier op takealot.com.


Jesus-speurder en Bybel-speurder

Albei deur Peter Martin en geïllustreer deur Peter Kent (Protea, R155 elk)

Jesus-speurder en Bybel-speurder.

Hierdie prenteboeke is gemik op kinders vanaf sewe jaar oud en gee aan hulle waardevolle agtergrondinligting oor die Bybel, sy mense en die tyd waarin hulle geleef het.

Die kind moet in die kleurryke en gedetailleerde illustrasies dinge soek wat hom dan natuurlik tot groter begrip lei.

Elk van die boeke het 17 dubbelbladscenario’s wat jong speurders ure lank besig sal hou.

Kry dit hier by Protea.


La-di-da Lulu

Deur Fanie Viljoen en geïllustreer deur Elsbeth Eksteen (Lapa, R111)

La-di-da Lulu.

Dis ’n lekker moderne verhaal oor die jong Lulu wat ’n groot talent vir modeontwerp het en gevra word om nuwe uniforms te ontwerp vir die skool se trompoppies. Maar daar is ’n misverstand en die skoolhoof is woedend vir Lulu.

Gelukkig het sy ’n beste maat, Carmen, maar o aarde, het dié dalk agter haar rug geknoei?

Vir kinders van sewe en ouer.

Kry dit hier op takealot.com.


Prinses Klara en die Krokodil

Deur Laura Amy Schlitz  en geïllustreer deur Brian Floca (Lapa, R120)

Prinses Klara en die Krokodil.

Ek het die boekie niksvermoedend begin lees en is al op bladsy twee onkant betrap deur hoe skreeusnaaks dit is.

Dit is die verhaal van ’n koning en koningin wie se prinsessie gebore word, so volmaak soos ’n sneeuvlokkie met die mooiste blou oë en toontjies soos pienk pêreltjies.

Maar skielik besef hulle: “Blou oë en pienk toontjies gaan nie veel help wanneer dit tyd word dat prinses Klara die land moet regeer nie.”

Dan begin hulle haar leer en oplei sodat sy ’n slim, sterk en skoon prinses kan wees. ’n Allerlieflikste storie vir kinders van sewe en ouer, en vir hul ouers.

Kry dit hier op takealot.com.


Hoendervleis: Grillerige Stories en Rympies

Deur Jaco Jacobs. Illustrasies deur Zinelda McDonald (Lapa, R119)

Hoendervleis: Grillerige Stories en Rympies

Lesers van so nege jaar oud sal hulle verkneukel in dié boek se grappige grillighede.

Vampiere (wat mos nie bestaan nie), ’n bloederige vinger in ’n boks springmielies, die seun wat bang was vir Minnie Muis en mnr. Snuffels die rot speel almal saam om kinders die skrik op die lyf te jaag (maar darem nie so dat hulle met nat lappies gelawe sal moet word nie).

Kry dit hier op takealot.com.


Blits: Perlemoendiewe

Deur Nadine en Adriaan Blom (Tafelberg, R129)

Blits: Perlemoendiewe.

Die spanningstorie van twee vriende wat langs die see in Melkbosstrand woon, is geskryf deur die sangeres Nadine Blom en haar seun, Adriaan, toe hy 14 was.

Kry dit hier op takealot.com.


Maanlig-Meermin

Deur Troula Goosen (Tafelberg, R119)

Maanlig-meermin.

Kate se ma het haar gelos toe sy nog ’n baba was, haar pa skryf liefdesverhale onder ’n vrouenaam en pas moes sy hoor haar oupa – van wie se bestaan sy nie eens geweet het nie – is dood.

Nou gaan die twee beste maats na Kate se pa se grootwordplek, die Karooplaas Kaimanskuil. Dinge word regtig grillerig toe die drif afkom en hulle vasgekeer word in die ou volstruispaleis.

Kry dit hier op takealot.com.


Harry Griesel 3: Die Spookmeesters

Deur Sonja Kaiblinger (Human & Rousseau, R145)

Otto se vreemde huismaats is tannie Sharon en nog twee huisspoke, sir Tony en Molly, en Vincent, Otto se troeteldier.

Nee, nie ’n lieftallige hondjie nie, maar ’n baie stout vlermuis wat kan praat. Dan kry hulle ’n nuwe intrekker oorkant die straat, madame Olga, “die geselligste buurvrou wat jy jou ooit kan voorstel”, sê tannie Sharon.

Maar o wee, kan ’n mens ’n fortuinverteller vertrou?

Kry dit hier op takealot.com.


Hoe Supercool Goed Werk

Deur Ian Graham en Tom Jackson (Lapa, R260)

Hoe Supercool Goed Werk.

Het jy al ’n groot TV-skerm gesien wat so dun is soos ’n kredietkaart, so lig dat dit soos ’n skildery teen die muur kan hang en so buig-saam dat die oppervlak geboë is? Dis OLED-TV.

En het jy al gehoor wat binne-in die Xbox One aangaan dat hy sulke ingewikkelde, realistiese grafika lewer?

Indien nie, lees en bekyk dit in Hoe Supercool Goed Werk. Dit gaan oor van die verstommendste tegnologiese uitvindings wat ons lewe in die toekoms interessanter en  beslis makliker gaan maak.

Kry dit hier op takealot.com.


Op hoërskool

Die Perfekte Brander en Ander Verhale

Saamgestel deur Adinda Vermaak en Marieta Nel (Lapa, R158)

Die Perfekte Brander.

Die verhale gaan nie oor skoolkaskenades of kattekwaad nie. Dit is vanuit ’n tienerperspektief geskryf oor dinge wat vir jong mense of ouer tieners belangrik is.

Geen onderwerp was taboe nie en sensitiewe kwessies word aangeraak. Die heerlike stories word sterk aanbeveel vir ouer tieners.

Kry dit hier op takealot.com.


Somer

Deur Jaco Fouché (Human & Rousseau, R160)

Somer deur Jaco Fouché.

Maison Jonkers kom van Hawston en André Lourens van Onrusrivier is albei in matriek op Hermanus, waar hulle goed vaar in rugby en twee van die skool se beste atlete is.

Teen die einde van hul laaste skooljaar begin André ál meer Maison se geselskap opsoek, en ’n vriendskap ontwikkel. Dan breek die somervakansie aan en die verveling kom hang loodswaar aan hul beendere.

Mettertyd, toe die vakansiegangers en honderde meisies in klein bikini’s op die strande verskyn, kom ’n stadige ritme aan hul dae toe André ’n treksaag kry en hulle hout vir sakgeld begin opsaag.

Hulle maak droog ook, soos toe hulle by ’n klubhuis inbreek op soek na drank.

Nog inligting is hier beskikbaar.



Stormkind

Deur Riana Scheepers (Tafelberg, R240)

Stormkind deur Riana Scheepers.

’n Tere verhaal van ’n meisie wie se ma verdwyn het en wie se sintuie deur ’n Boesman-maatjie opgeskerp word.

So kan sy later saam met haar pa Ierland toe gaan om vir oulaas op haar ma se spore te gaan loop. Vir ouer kinders sowel as hul ouers.

Kry dit hier op takealot.com.

Wen tot R5 000 met Caltex
Het jy al vir ons Caltex-kompetisie ingeskryf? Dit kan die maklikste manier wees om geld vir die vakansie in die hande te kry! Staan ’n kans om elke week vir die volgende drie weke R5 000 te wen – of wen die groot prys van R10 000 in die laaste week van die kompetisie! Maak eenvoudig net seker jy gooi brandstof ter waarde van R300 of meer by Caltex in, hou jou strokie en skryf hier in. Die kompetisie is van 19 Maart tot 16 April 2018.