Lize Albertyn-du Toit
“So ’n bietjie goed nagevorste geskiedenis doen my goed en gee perspektief. Houd-den-bek van André P. Brink vertel van die slaweopstand in 1825 in die Koue Bokkeveld. Mooi Afrikaans, kleurryke karakters en ook nodig om te weet.
“A Fine Balance van Rohinton Mistry was hartverskeurend. Armoede is verskriklik. As ’n regering dit in stand hou, nog erger. Maar om ’n onaantasbare te wees is onmenslik. Om daaruit te ontsnap is nie moontlik nie. Die boek het my laat wonder wat mense aanhou leef.”
Die kinders van Spookwerwe
Dis die verhaal van die Kaliempies wat van die Karoo af Boland toe moet trek agter ’n skool vir hul slim seun aan.
Zelda Bezuidenhout
“Valsrivier deur Dominique Botha het my meegevoer op ’n bittersoet golf van nostalgie. Dié roerende verhaal, gegrond op die skrywer se grootwordjare op ’n Vrystaatse plaas in die apartheidsjare, was amper te naby aan my eie waarheid. Die boek is al in 2013 uitgegee – ek kan nie glo ek het dit eers vanjaar ontdek nie.
“My Engelse gunsteling van die jaar was Eleanor Oliphant Is Completely Fine deur Gail Honeyman – terselfdertyd slim, snaaks én intens hartseer.”
Die 6 weke van Thomas & Ella
’n Onsoetsappige liefdesverhaal vir tieners geweef rondom die klassieke gegewe van die beeldskone, ryk meisie en die arm, slim ou.
Kerneels Breytenbach
“Loshande Azille Coetzee se In my vel omdat dit so uit die bloute met my gepraat het oor al die dinge waaroor ek my so bekommer. Synde ’n Afrikaner in moeilike Afrika in die hoogty van vlug of vlieg.
“Aan die Engelse kant was dit Yotam Ottolenghi se Plenty. Hy is nie self ’n vegetariër nie, maar is met een deurmekaar. Nes ek. Plenty laat ’n mens verruklike kookplesier sonder vlees ontdek: Wie sou nou dink dat patats met sprietuie en suurroom die sewende hemel is?”
Hond se gedagte
’n Rugbyroman uit jou wildste drome waarvoor die skrywer navorsing moes doen oor onder andere Dok Craven, Emsie Schoeman en die wegraping.
Andries Buys
“Die soveelste herlees van Hennie Aucamp se Gekaapte tyd en Allersiele. O, die verwysingswêreld.
“Marguerite Yourcenar se Mishima: A Vision of the Void. Besoek die donker wêreld van Mishima. Daniel Mendelsohn se The Bad Boy of Athens.
Uitstekende versameling resensies. T.E. Carhart se The Piano Shop on the Left Bank: Een hoofstuk elke aand. Alberto Manguel se A History of Reading laat tone krul van plesier. Louis de Bernières se Birds without Wings. Hartseer, dié oorlog in Turkye en Griekeland.”
Die dao van Daan van der Walt
Voel jou verplig om Lodewyk G. du Plessis (Andries Buys) se debuut te lees – die Afrikaans alleen is iets om te herkou.
Azille Coetzee
“Jolyn Phillips se digbundel, Radbraak, was vir my verskriklik mooi en bied vlymskerp bepeinsinge oor liefde, familie, geweld, trauma en skoonheid in vandag se Suid-Afrika.
“Olga Tokarczuk se Drive Your Plow Over the Bones of the Dead is ’n eklektiese ‘murder mystery’ wat afspeel op ’n afgeleë dorpie op die Poolse platteland. Dit is ’n verhaal wat nie net boeiend, interessant en soms skreeusnaaks is nie; dit het my ook op ’n eksistensiële vlak aangegryp met verkennings van oudword, vrouwees en dierwees.”
In my vel
’n Ode aan die lewe en liefde in Europa, ’n terugkeer na Suid-Afrika en deurdagte besinnings oor die land se werklikheid.
Helene de Kock
“Deon Meyer se Prooi was vir my die Afrikaanse boek wat uitstaan. Soos altyd lees sy teks glad en ken hy sy karakters soos familie. Hy teken die ruimte waarin dit afspeel met ’n seker hand. Die leser staan nooit buite nie.
“Daniel Silva se The New Girl oortref weer ander spioenasiefiksie. ’n Mens lees van Gabriel Allon, die geheime-agent-cum-kunsrestoureerder. Die leser gaan op helder reise na ’n menigte eksotiese plekke. Fassinerend. Albei hierdie skrywers is vir seker van wêreldgehalte.”
Die kind uit die wingerd
Die verskyning van ’n seuntjie in ’n Bolandse wingerd sit gebeure aan die gang wat later in die Tweede Wêreldoorlog in Europa draai.
Beyers de Vos
“Pieter Odendaal se Asof geen berge ooit hier gewoon het nie is die soort besonderse digbundel wat jou insluk en heeltemal veranderd weer uitspoeg. Wat jou beter ken as wat jy jouself ken. Wat jou wêreld verskeur. Ek was stomgeslaan.
“Ducks, Newburyport deur Lucy Ellmann is ’n modernistiese meesterstuk, ’n bewussynstroom van 1 002 bladsye wat bestaan uit ’n enkele sin. Die boek het my oorweldig – en oorwin – met verruklike sjarme, kunstigheid en vermetelheid. Moeilik, maar die moeite werd.”
Wrok
Niemand het vir sers. Nolwazi Mngadi gesê Brooklyn se polisiekantoor is net ’n blok van die UP-kampus met sy dronk studente nie.
Carina Diedericks-Hugo
“Die verevrou van Jan van Tonder is toegewikkel in volstruisvere en neem ons op ’n reis deur drie vastelande. Ons volg die spoor van Liora, wat grootword op ’n plaas in Algerië. Die roman boei einduit – maar hou die snesies naby. Die reis is nie maklik nie.
“Umberto Eco ondersoek in On Beauty ons Westerse idee van skoonheid deur te kyk na standbeelde, kunswerke en foto’s deur die eeue. Hy wys hoe drasties ons persepsie verander het en die rol wat die media steeds speel.”
Karaktermoord
Met die toneel in Karaktermoord tussen Dewald en Anna in die druiwekuip word Carina die koningin van publiseerbare erotika in Afrikaans.
Vita du Preez
“Jan van Tonder se Die verevrou bly my by omdat die skrywer dit reggekry het om die weerloosheid vas te vang van sterk vroue wat in ’n wrede en diverse wêreld moes oorleef. Die agtergrond van die boek is interessant en uitstekend uitgebeeld.
“This Must Be the Place deur Maggie O’Farrell was ’n stimulerende leeservaring vir my as skrywer wat probeer om modern en relevant te skryf. Dit is ’n boeiende liefdesverhaal oor ’n huwelik wat verbrokkel en op verskillende vastelande afspeel en tydsones oorsteek.”
Eggo's
Die roman gee terugflitse op Bea se verlede as verliefde jong meisie tot nou waar sy in Windhoek in ’n hospitaalbed lê.
Jaco Jacobs
“Leon de Villiers is ’n slim, boeiende storieverteller en Die groot koelte is ’n fantastiese diereverhaal met ’n ekotema en hope skerp humor wat almal sal geniet. Boonop is dit pragtig geïllustreer deur een van my gunstelingkunstenaars, David Griessel.
“The Binding deur Bridget Collins was vanjaar my grootste leesverrassing. Ek het langtand weggetrek, maar dié verhaal oor ’n alternatiewe werklikheid waar boekbindery ’n omstrede, misterieuse en gevaarlike bedryf is, het my totaal oorrompel – en lekker laat naels kou!”
Rondomtalie
Dertig rympies vir kleuters oor klere wat krimp, goggas en slaaptyd. Plus ’n CD waarop Anna Davel van die rympies sing.
Valda Jansen
“Pieter Odendaal se wonderlike digbundel Asof geen berge ooit hier gewoon het nie verdien al sy lofsange. Temas soos die omgewing asook ontvanklikheid vir oop gesprekke bewys dat daar in Afrikaans altyd grense is wat verskuif word: alle plante is digters / hulle laat stof blom.
“The Vegetarian van die Suid-Koreaan Han Kang het ek gekry by die Flybrary op Kaapstad- Internasionale Lughawe. Dit was soos ’n geskenk. Dis anders en onthutsend en geskryf in helder beelde: All the trees of the world are like brothers and sisters.”
Wreed én mooi is die dood
Valda skryf aangrypend oor haar belewenis van borskanker in dié onontbeerlike bundel waarin die dood uit alle hoeke bekyk word.
Theo Kemp
“In my vel deur Azille Coetzee is so eerlik, eenvoudig en komies geskryf. Dit is op soveel vlakke die soort reisverhaal wat ’n hunkering na ’n ingewikkelde komvandaan is en nie anders kan as om jou te pak nie. In my vel worstel met daardie vrae waarmee ons almal behoort te stoei.
“Die Kanadese skrywer Esi Edugyan se Washington Black het my vanjaar uitgeboul. Dit vertel die verhaal van ’n jong avonturier se lewe van slawerny tot vryheid. Die boek het my behoorlik gemesmeraais.”
Strafjaart
Dié verrassende roman is gegrond op die werklike verhaal van ’n familielid van die skrywer wat tronkstraf in Pollsmoor uitgedien het.
Debbie Loots
“Azille Coetzee se In my vel is die opwindendste Afrikaanse boek vanjaar. Sy kry dit reg om moeilike politieke kwessies aan te raak met net soveel wysheid en deernis as die storie wat sy oor haar ware liefde vertel.
“How to Change Your Mind deur Michael Pollen is ’n boeiende vertelling van hoe die stigma oor psigedeliese middels navorsing in die 1960’s ondergronds gedryf het. Hedendaagse studies dui op die transformerende effek daarvan op veral die gemoedstoestand van depressielyers en sterwende mense.”
Die boek van gelukkige eindes
Die leser ontmoet al die karakters deur Chris, ’n sielkundige. Sy ego is aan flarde, want sy vrou het hom gelos (vir ’n ander vrou).
Nico Moolman
“G.J. Joubert se Oupa Landman se viool, wat in 1951 verskyn het, het my weer op vleuels van my grootword-Afrikaans gevat na ’n plek van beskrywende taal omsoom deur nuanses wat jou vir altyd bybly.
“Depths of Glory is Irving Stone se koets waarin jy die wêreld van Manet, Degas, Van Gogh en Cézanne verken en waarin hul denke jou tot in die hart van die kunstenaarsiel meevoer. Dit is ’n biografiese roman oor Camille Pissarro, een van die vaders van die impressionisme.”
Dankie, Generaal
Nico het ’n verterende passie vir die Anglo-Boereoorlog en skryf in Dankie, Generaal oor sy snuffeltogte na die stories en foto’s van dié oorlog.
Adeline Radloff
“Kinnes van Chase Rhys het my laat lag én huil. Die vier hoofkarakters in dié unieke verhaal staan op die rand van volwassenheid in ’n plek waar pa’s afwesig is en bendes ’n skrikbewind voer.
Die boek, geskryf in sogenaamde ‘AfriKaaps’, is vol deernis vir dié wat nie uit hul omstandighede kan ontsnap nie.
“Under the Skin van Michel Faber is ’n boek wat elke vleiseter – soos ek – eenvoudig móét lees. Die elegante prosa steek ’n donker, skrikwekkende tema weg wat my vir ewig sal bybly.”
Die skandalige susters Smit
’n Uiters vermaaklike, byderwetse storie vir laerskoolkinders wat grootmense (én ouer tweedetaalleerders) uit die maag sal geniet.
Johan Jack Smith
“Vegters deur Lucia Prinsloo het my vasgenael gehou. Die skrywer se uitbeelding van ’n gevegsituasie in Afganistan – van die spanning tot die beskrywing van wapentuig – het my stom gehad.
Drie uitlopende wêrelde ontmoet mekaar: die idilliese Gamtoosvallei, die oorloggeteisterde Afganistan en die Dusi-kanomarathon.
“Exit Wounds is ’n bundel met 19 misdaadverhale uit die pen van vandag se beste misdaadskrywers. Daar is oorspronklike stories van onder andere John Connolly, Lee Child, Dean Koontz en Alex Gray.”
Zola
In dié uitstekende debuut word vertel van ’n taxi wat vroue oplaai waarna hulle grusaam vermoor word.
Martin Steyn
“Jo Nel se Die hond wat ophou blaf het was iets heel anders. Ek was nooit heeltemal seker wat nou eintlik aan die gang is nie, en ek het Izak en sy opmerkings vreeslik geniet.
“Niemand suig my so moeiteloos in ’n verbeelde wêreld in soos Stephen King nie, en 20 jaar later was Charlie en haar pa se vlug- en ontsnappogings in Firestarter soos my gunsteling-wintertrui wat ek ook rondom die tyd van daardie eerste lees gekry het.”
Losprys
’n Hofsaak 15 jaar tevore oor ’n seun wat ontvoer is, het Martin aan die skryf gesit nadat hy die saak in Die Burger gevolg het. Dit het hom geïnteresseer dat die onderhandelaars by die ouers in hul huis ingetrek het.
Zirk van den Berg
“Chris Marnewick breek in Redelike twyfel die misdaadgenre se grondliggendste reël – wat ek nie hier sal verklap nie – en laat desondanks sy leser eindelik totaal bevredig. Dít wil gedoen wees.
“Andreï Makine se The Earth and Sky of Jacques Dorme is tegelyk kompleks en lekker. Hy woer in tyd en plek rond – van die slag van Stalingrad tot ’n weeshuis in Stalin se tyd, tot die hedendaagse Frankryk en Siberië. In sy dele en geheel is daar veel om te geniet en bepeins. Wonderlik.”
Ek wens, ek wens
’n Klein boekie met ’n onvergeetlike storie wat begin by ’n sterwende seun wat ’n doodskis “aanpas” en die ondernemer se lewe verander.
Marita van der Vyver
“Ná Harry Kalmer se dood vanjaar het ek weer al sy boeke gelees. Die een wat my die diepste getref het, is die roman met die ironiese titel En die lekkerste deel van dood wees. Sy dood laat ’n gat in die Afrikaanse boekwêreld.
“The Distance van Ivan Vladislavic gaan oor ’n seun se obsessie met Muhammad Ali. As dit ’n ander skrywer was, sou ek dit nie gelees het nie, want ek hou nie van boks nie, maar Vladislavic kan ’n inkopielys in fassinerende leesstof verander.”
Grensgeval
Theresa gaan Kuba toe met ’n bloedbevlekte brief wat sy uit haar eksman se army-goed uit die 1970’s gekry het om die geadresseerde te soek.
Rudie van Rensburg
“Leon de Kock se André P. Brink en die spel van liefde het my aan die lees gehou oor die onverbloemde blik op Brink se gevoelens en gedagtes – ’n boek wat ’n blywende impak op ’n mens maak.
“Robert Harris se Munich is ’n fassinerende verhaal van persoonlike verhoudings en politieke intriges wat tussen Engeland en Duitsland afspeel kort voor die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog. Harris, ’n meester van intelligente rillers, se goeie navorsing gee ’n geloofwaardige blik op dié tyd.”
Vloek
Carl Bester moet sy skadukant aflê om ’n saak met internasionale reperkussies te ondersoek. En wat van Kassie?
Jan van Tonder
“Spertyd deur Elsa Joubert. Die 95-jarige wonderskrywer se beleë openhartigheid het my ontroer én geïnspireer. Nie net bejaardes sal dit kan lees (en wil herlees) nie – ons word almal oud, maar dié is ’n handleiding.
“The Book Thief deur Markus Zusak sal my bybly. Dit speel af in ’n tyd van verskrikking, maar die verhaal, met die Dood as verteller, is soms baie humoristies. Dit bied veel meer as die swakkerige fliekweergawe.”
Die verevrou
’n Franse meesterpluimbereider wil nie ’n onderhoud aan Jan van Tonder toestaan nie en bring haarself enkele dae later om die lewe voor die Oudtshoornse polisiekantoor. Die verevrou word gebore.
Braam van Wyk
“Homo sapiens en ander diere is ’n keur uit die koerantrubrieke van die insekkundige Erik Holm. Hy kyk deur die oë van ’n bioloog en uit filosofiese perspektief na die mensdom se doen en late. Meer as 90 skryfstukke stem jou tot nadenke.
“Thus Spoke the Plant deur Monica Gagliano is ’n ongewone boek waarin ’n wetenskaplike haar bevindings oor plantgedrag holisties beskryf. Haar baanbrekerswerk toon plante kommunikeer op vreemde maniere en toon selfs leergedrag.”
Identifiseer die bome van Suider-Afrika
Braam wil die geheimsinnigheid oor bome vervang met kennis wat die nuweling bedrewe sal maak in die identifisering van bome.
Fanie Viljoen
“Riana Scheepers se Stormkind het my vroeg vanjaar al betower met die beeldende taalgebruik en die aangrypende verhaal. Dit is ’n droomlekker boek waarin ’n mens kan wegsink.
“Sapiens: A Brief History of Humankind van Yuval Noah Harari kan ek nie genoeg aanbeveel nie. Dis nie ’n boek wat jy gou voor bedtyd kan lees nie. Jou kop moet wakker wees vir hierdie een. Ek was veral versot op die herkoms van stories en hoe dit steeds vandag ’n impak op ons het.”
Brand
“Ek hou my oë oop vir die dinge wat jong mense in die sosiale media kwytraak, en stalking het my aandag geprik vir Estie se karakter.”
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET