Nadraai

Deur Jaco Kirsten (Tafelberg, R300)

Rocco de Wit is 52 jaar oud en ’n sukses­volle argitek in Kaapstad. Hy het nog nooit gereed gevoel vir trou nie en gaan al vier jaar met die beeldskone Helga uit.

Dié is ’n soms brutaal eerlike Duitser wat stug en geïnhibeer kan voorkom “net om later die dag aan te dring op die mees avontuurlike seks waaroor enige viriele man kan droom”.

Hulle is nogmaals op hul jaarlikse ski­vakansie in die Alpe toe hy ’n WhatsApp van ’n ou army-pel ontvang wat sy lewe op ’n ander spoor stuur: ja jou bliksem ek soek jou. Antwoord jou foon vir ’n slag. Bel my bietjie balsak. Gert Malan

Jaco Kirsten, skrywer van Nadraai en tevore redakteur van WegRy, wat nou in Amerika woon, vertel ’n paar stories agter die storie.

Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Vanwaar die interessante verwysings na werklike argitekte en hul werk? Stel jy in argitektuur belang of moes jy ’n klomp navorsing gaan doen?

Ek het op hoërskool kuns geneem tot in matriek. As deel van ons leerplan het ons argitektuur bestudeer. Toe ek die heel eer­s­te prentjies van Frank Lloyd Wright se werk gesien het, was ek verstom.

’n Nuwe wêreld het vir my oopgegaan. Ek het in Chicago een van sy huise besoek. Dit was soos ’n pelgrimstog. As ek nie so swak was met wiskunde nie, sou ek graag ’n argitek wou ?geword het.

Vir Nadraai het ek wel ekstra navorsing gedoen oor die groot kontemporêre argitekte en hul werk.

Het jy self aan die grens geveg?

Ja, ek was van 1987 tot ’88 ’n lid van 1 Val­skermbataljon, nes Rocco. Ek het self meer as ’n jaar operasioneel in Ovamboland en Angola deurgebring.

Maar dis glad nie biografies nie. Ek wou aanvanklik niks van hom hou nie, want hy moes arrogant en self­gesentreerd voorkom. Naderhand het ek simpatie met hom begin ontwikkel namate hy meer kwesbaar geraak het.

Vir die groot aanval in Angola het ek die onbesonge Operasie Firewood aan die einde van 1987 as inspirasie gebruik. Dit was ’n gesamentlike operasie tussen 101 Bataljon, 5 Recce, 2 Recce en 1 Valskermbataljon en dit sal onthou word as die operasie waarin die meeste soldate op een dag in die SAW se geskiedenis gesterf het.

Ek sal nooit vergeet hoe kol. Chris le Roux ons in Tempe bymekaargeroep en vertel het dat “vyf ouens van Delta (kompanie) dood is” nie. ’n Sesde het ’n paar dae later aan sy beserings beswyk.

Doodslied vir Duitsland
Beskikbaar by Jonathan Ball-uitgewers
Beskikbaar by Jonathan Ball-uitgewers

Deur Philip Kerr ?(Jonathan Ball, R179*)

Doodslied vir Duitsland is die laaste boek in Philip Kerr se Berlynse noir-trilogie, sy historiese speurreeks wat wêreld­wyd ’n topverkoper is. Die held is inspekteur Bernie Günther, die speurder wat deur die misdaad­skrywer Deon Meyer “pure speur-plesier” genoem word.

Die eerste twee, Hans-Nazi’s en Doodsbleek, speel in die 1930’s af met ­Hitler wat begin stelling inneem. Doodslied vir Duitsland vind plaas net nadat die Nazi’s die oorlog verloor het.

Ons gesels met Zirk van den Berg, wat die twee laastes in Afrikaans vertaal het.

“Hoe beter die oorspronklike geskryf is, hoe makliker vertaal dit. Hoge literatuur met digter taalgebruik en meer assosiasies sal seker weer moeiliker vertaal, maar dit het ek nog nooit aangepak nie,” sê hy.

“Kerr se prosa was vir my makliker om te vertaal as Wilbur Smith, byvoorbeeld, van wie ek drie boeke vertaal het. Jy moet net in die regte verteltrant probeer kom; dan hou jy daarmee vol.”

Herskryf jy so ’n bietjie terwyl jy vertaal?

Nie inhoudelik nie. Ek sou graag wou dink dat my prosa soms beter lees as die oorspronklike. As vertaler is ek op ’n manier ’n bykomende teksredakteur.

Kreatiwiteit kom wel ter sprake, veral as die oorspronklike met woord­spelings werk wat nie geredelik in Afrikaans vertaal nie, en jy kry soms kans om ’n taallekkerte in Afrikaans in te sit wat nie in die Engelse teks was nie.

Toe ek jare gelede van R.L. Stine se Griller-jeugstories vertaal het, was daar wel heelwat herskrywing, want ons het toe die stories uit Amerika na Suid-Afrika geskuif, en jy moes bofbal vervang met krieket, sneeu met woestyn­sand, en so aan, wat soms lekker bylieg nodig gemaak het.

Hou jy van Kerr se stories?

Ja. Ek het die boeke jare gelede gelees en het die Engels van al drie op my rak. Dit is lekker speurverhale met ’n interessante hoofkarakter en wonderlike milieu.

Die Nazi-­agtergrond is fassinerend, en om ’n morele polisieman in daardie omgewing te plaas skep heerlike moontlikhede vir spanning bo en behalwe die misdadigheid self.

Kry ’n mens ’n paar skryfwenke terwyl jy vertaal?

Alte seker. Ek het al raad vir voornemende skrywers gelees dat jy ganse boeke moet oortik om agter te kom hoe hulle geskryf is. As jy vertaal, doen jy nog meer – jy dink oor die woordkeuses, elke sin, hoe die storie aanmekaargesit is. Jy sien goed raak wat werk wat seker jou eie skryf­werk beïnvloed, en ook dinge wat jy liewer wil vermy.

Jy woon nou al 22 jaar in Nieu-Seeland. Hoe bly jou Afrikaans goed genoeg dat jy kan vertaal?

Ons praat meestal Afrikaans aan huis en ek het darem enkele Afrikaanse vriende hier. Maar my taal verskraal weliswaar.

Ek is nie die kenner van skryfreëls wat ek in my dae by Die Burger was nie, en boonop hou ek nie tred met taalverskuiwings in Suid-Afrika nie. My taal is seker ’n bietjie outyds.

Dit is deels waarom ek verkies om met historiese stories te werk; ek sal seker nie egte byderwetse Afrikaans kan skryf nie.

Ek stuit byvoorbeeld voor die gebruik van Engelse woorde wat daar in Suid-Afrika blykbaar inslag gevind het.

* DIE PRYS WAS KORREK MET DRUKTYD EN IS ONDERWORPE AAN VERANDERING SONDER VOORAFKENNISGEWING.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.