Arendsvlerke vir Siebert
Beskikbaar by Lapa Uitgewers
Beskikbaar by Lapa Uitgewers

Deur Elsa Winckler (LUCA, R270)

Wat was die impetus vir jou nuwe boek?

Die uitgewer het my so twee jaar gelede genader met die idee om ’n storie oor verslawing te skryf. Dis so geheel en al buite my gemaksone, ek was nie seker of ek dit kon doen nie.

Ons ken mense wat die pad stap met kinders wat met verdowingsmiddels deurmekaargeraak het en ek het net geweet dis ’n moeilike, nimmereindigende pad. Ek dink wat my veral gemotiveer het, was om vas te stel of daar tog omdraaikans is, of daar wel hoop is.  

Elsa Winckler. Foto: Monette Grobler
Elsa Winckler. Foto: Monette Grobler

Ek het geweet ek kon die boek nie uit die perspektief van die verslaafde skryf nie en het besluit om die ma se perspektief te gebruik. In die storie moet Katinka ook haar man se dood verwerk. Sy is besig met haar eie seer en sien nie die eerste tekens dat daar fout is met haar kind nie.

In die gewone gang van die lewe kan dit maklik gebeur dat ’n kind ongesiens begin verander.

Wie is jou teikenmark?

Ek het hoofsaaklik vir volwassenes geskryf, maar ek meen tieners kan hulle ook met elemente van die storie identifiseer.

Hoekom het jy die boek geskryf?

My groot motivering was om vas te stel of daar hulp is vir iemand wat verslaaf raak, hetsy aan drank of dwelms. Hoekom gebeur dit met een en nie met almal nie? Hoekom sal iemand iets doen wat hulle weet sleg is vir hul liggaam?

Die aanvanklike uitgewer saam met wie ek gewerk het, Heino du Plessis, het my in aanraking gebring met verskeie mense met wie ek lank gesels het: ’n ma wat haar pragtige meisiekind in die veld tussen ander verslaafdes onder bome moes gaan soek, ’n pa wat later besef het hy kan nooit weer een woord glo wat sy kind hom vertel nie, nog ’n pa wat sy kind tussen ander uit vervalle geboue in Pretoria gaan haal het – die een hartverskeurende verhaal ná die ander.

As die verslaafde én sy naastes begryp hoe dwelms of drank die werking van die brein verander, kan dit die begin van herstel wees.

Ek was baie moedeloos, maar toe onthou ek van Jesaja 40 se arendsvlerke (1983-Bybelvertaling) en die hele storie se stukke begin pas.  

Dis ’n baie lang en moeilike pad om te herstel van verslawing, maar daar is altyd hoop. Die brein, wys nuwe navorsing ons, kán verander; verslawing hoef nie ’n doodvonnis te wees nie.

As die verslaafde én sy naastes begryp hoe dwelms of drank die werking van die brein verander, kan dit die begin van herstel wees. Daar is metodes, byvoorbeeld meditasie, wat baie goeie resultate lewer. En, glo ek, daar is arendsvlerke as jy dit op jou knieë vra.  

Watter stuk was die moeilikste om te skryf?

Die stuk waar die ma haar kind uit ’n dwelmhuis moes gaan haal, was baie emosioneel. Ek het dit huil-huil geskryf. Ek het besef hoe maklik so iets in enige huis kan gebeur en hoe magteloos en onvoorbereid ’n ouer of geliefde is wanneer hulle met so iets gekonfronteer word. Daar is baie min hulp vir tieners.

Daar is klinieke vir volwassenes bo 18, maar min ondersteuning vir tieners. 

Stille waters
Beskikbaar by NB Uitgewers
Beskikbaar by NB Uitgewers

Deur Juanita Aggenbach (Human & Rousseau, R280)

Wat was die impetus vir 'Stille waters'?

Ek het twee tienerdogters wat maklik praat oor wat in hulle en hul vriende se lewe aangaan. Ek het opgelet dat ál meer kinders begin sukkel met simptome van depressie, en toe ek in dieselfde tyd van twee tienerselfdood­gevalle lees, het ek gedink dis tyd om die tema lug te gee.

Wie is jou teikenmark?

Juanita Aggenbach. Foto: Brenda Veldtman
Juanita Aggenbach. Foto: Brenda Veldtman

Volwassenes én tieners vind aanklank by die boek – volwassenes omdat hulle dit as ’n “eye opener” sien; tieners omdat die boek ’n spieël is waarin hulle hulself kan sien en daarteen meet. Op die ou end is dit ’n boek vir almal – ’n verhoudingsroman vol intrige en liefde in verskeie ­vorme.  

Hoekom het jy die boek geskryf?

Ek wou probeer verstaan wat in kinders se kop aangaan voor hulle hul eie lewe neem, asook die nadraai van so ’n besluit op hul geliefdes. Ek wou deur fiksie mense bemagtig om gevaartekens raak te sien en hopelik lewens te red.

Een tiener het vir haar vriendin gesê ná die lees van Stille waters verstaan sy vir die eerste keer wat met haar aangaan, en die eerste keer in ’n baie lang tyd dink sy daar is hoop. Sy kry nou hulp.

Watter stuk was vir jou die moeilikste om te skryf?

Daar was nie soseer ’n moeilike stuk nie; dit was meer die verantwoordelikheid om die verhaal rég te vertel. Dit was vir my belangrik om elke ervaring en gedagte reg vas te vang.

Verskeie mense in jou boek voel skuldig – die ouers van die tiener wat selfdood kies en ook die vrou wie se man tronk toe is omdat hy haar so aangerand het.

Skuldgevoel, glo ek, is deel van die mens se behoefte om sin te maak uit slegte omstandighede. Ons is geneig om die skuld op iets of iemand te plaas wanneer dinge verkeerd loop. Wanneer ons onsself blameer, bring dit ’n skuldgevoel mee.

Die waarheid is, as ’n man byvoorbeeld ’n vrou aanrand, is hý die een wat sukkel met onder meer selfbeheersing. Hy moet dus pa staan vir sy eie gedrag.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe